Psalm 13: Om te vertrou op God se trou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Probeer in een woord sê wat se emosie jy beleef wanneer jy aan die huidige tyd van inperking in ons land dink. Wat voel jy? Ek hoor en lees sommige mense sê hulle voel nie “normaal” nie; hulle “voel nie hulle self nie”. By sommige gelowiges wat ordentlik probeer bly, die “pose” probeer hou, of nie ondankbaar wil klink nie, het ek al gedagtes gehoor soos: “Weet jy, eintlik gaan dit goed met my; ek het darem nog werk; die kinders is ok; my familie is almal nog gesond; eintlik het ons nie rede om te kla nie”. Onder sommige gelowiges wat nie bang is om emosie te verwoord nie, hoor ek onder meer woorde soos “angstig, kwaad, benoud en disoriëntasie”. Die vraag is hoe voel jy oor alles?

In Psalm 13 ontmoet ons ’n digter wat sy eie en sy mense se emosie verwoord. Ons weet nie gedurende watter jare die psalm gedig is, of wat die spesifieke omstandighede is waaronder dit gedig is nie. Ons weet egter presies hoe die digter voel. Juis omrede die digter sy emosie, dit wat sy situasie, ongeag wat dit mag gewees het, aan hom doen, so uitstekend verwoord, maak dat hierdie psalm oor millennia heen deur sommige mense as terapeuties beleef is. Die psalm het ’n soort tydloosheid en daarom maak die presiese historiese situasie waaronder dit geskryf is, nie soveel saak nie.

Die psalm kan in drie dele verdeel word. Vers 1 is die opskrif wat later bygevoeg is. Verse 2-3 is ’n klag, of ’n klaag­lied gerig na God toe. In vers 4-5 verander die toon van die psalm. Dit beweeg van ’n klag na ’n gebed. Die gebed word, soos die klag, tot God gerig. Vers 6 vorm die derde en laaste deel van die psalm. Deur sy eerlike klag en gebed, vind die digter dat hy gehoor word.

Die viermalige herhaling “hoe lank nog, HERE?” is die oorheersende sti­listiese kenmerk van die psalm. Dit is ’n aanduiding van die ongeduld van die bidder en wil die ondraaglikheid van die situasie beklemtoon. Die situasie van nood of lyding kom in besonder op drie vlakke tot uiting.

Eerstens ’n ervaring van godverlatenheid. Die digter voel die HERE het hom vergeet en dat God hom nie in sy lyding of nood raaksien nie. Hierdie gevoel van godverlatenheid is nie ’n kortstondige ervaring nie, maar ’n belewenis wat nou reeds lank duur. Deur die “gesig vir my wegsteek” sê die digter dat God nie vir hom teenwoordig is nie. Kommunikasie tussen hom en God is afgesny. God se stem het stil geword.

In die tweede plek sien ons in vers 3 dat die nood waarin hy verkeer, hom geweldig baie bekommer. Die bekommernis beïnvloed sy hele menswees, sy totale bestaan. Dit knaag die hele tyd aan hom. Die digter beduie dat hy selfs gedurende die dag bewus bly van ’n gevoel van benoudheid, van angs in sy binneste. Sy binneste kom nie tot rus nie.

Die derde vlak is die vyande se leedvermaak oor sy belewenis in sy nood. Baie belangrik is om te besef dat die ­vyand hier nie ongelowige mense, of mense van ’n ander volk, taal of land is nie. In die Bybel het ons te doen met ’n godsdiensinterne gesprek. Die vyande is diegene in die geloofsgemeenskap wat sê hy vertrou vergeefs op die Here. God is inderdaad nie meer met hom nie en God antwoord nie meer nie. Dit is dus gelowiges wat God se beeld vir die digter versluier.

In vers 4 en 5 verander die klag in ’n gebed. God word gevra om ’n einde te maak aan sy afwesigheid. Die HERE word opgeroep om “ag te slaan / raak te sien”, om te “antwoord” en om die digter se oë te verlig. Die eerste twee bedes het te doen met die gevoel dat God afwesig is, dat Hy nie antwoord nie. Die digter pleit dat die Here tog nou van hart sal verander en hom raaksien in sy benoude situasie en dat God sal antwoord. Hy wil hê God moet weet wat hy deurmaak, wat hy tans voel. Die derde bede het te doen met die herstel van lewens­krag.

Met vers 6 bereik die psalm ’n hoogtepunt. Die digter vertrou op die HERE, sy vyande nie. Dit gaan hier om die trou van die HERE. Al voel die digter dat God afwesig is, dat God hom nie in sy situasie van benoudheid raaksien nie, bly die digter vertrou op God se trou. Hy kan dit doen, omrede die HERE in die verlede getrou was. In Psalm 13 gaan dit oor ’n oeroue gevoel onder sommige gelowiges, naamlik die oënskynlike afwesigheid van God in mense se nood. Hier gaan dit om die ongeduldige worsteling van ’n gelowige met die betrokke gevoel. Die klag groei deur gebed heen tot ’n sterk geloofsoortuiging. Hierdie geloofsoortuiging is gegrond in God se trou in die verlede.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.