Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Henrietta Klaasing rig in Kerkbode, 7 Julie 2020, die volgende vrae aan ATLAS oor punt 10 van die AS 2019-besluit betreffende selfdegeslagverbintenisse:
Gaan ATLAS verantwoordelikheid aanvaar vir punt 10, wat indruis teen dit wat die Bybel leer aangaande die huwelik en wat tans as formuliere beskou word in die NG Kerk? Hoe kan die beoogde verbintenisse kerklike instellings wees? Hoe gaan dit Bybels gefundeer word?
Die Algemene Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) reageer soos volg:
AS 2019 het naas die opdrag om ’n formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te ontwikkel (punt 10) ook ’n verdere opdrag (punt 12) aan ATLAS gegee, te wete: Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.
ATLAS het reeds werkgroepe versoek om uitvoering te gee aan die opdragte van AS 2019 betreffende selfdegeslagverbintenisse.
Dr Klaasing beredeneer in haar skrywe ’n Bybelse fundering van die huwelik en stel op basis daarvan vrae oor die ontwikkeling van ’n formulier vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag. Die vrae wat dr Klaasing stel, hou regstreeks verband met die opdragte (punte 10 en 12) wat AS 2019 aan ATLAS gegee het. Gevolglik het ATLAS besluit om dr Klaasing se skrywe na die aangewese werkgroepe te verwys. Die verslag van die werkgroepe sal ooreenkomstig die versoek van AS 2019 by die volgende sinode dien.
Ds Heerden van Niekerk
Voorsitter ATLAS
