Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Pieter Cloete van Durbanville skryf:
Ek verwys na prof JJ (Dons) Kritzinger se artikel “Evangelie moet deurdring tot diepe rassisme” in Kerkbode van 17 Julie 2020.
Hy haak duidelik vas by die verlede. Die onreg van apartheid is nie die geskilpunt nie, maar wel sy beoordeling van die wêreld waarin ons nou lewe. Hy plaas sy fokus op die VSA waaroor daar alternatiewe interpretasies, ook uit die kerke, bestaan, terwyl hy vir ons probeer wysmaak dat rassisme hier by ons dié groot probleem is. Ongelykheid is vir hom per definisie rassisme.
Daar is inderdaad groot probleme met armoede as die oorsaak van ongelykheid. Armoede is ’n komplekse probleem waarvoor werkgeleentheid die kern van ’n volhoubare oplossing is. Dit is egter nie moontlik solank die regering van die dag beleidsrigtings volg wat die ekonomie stelselmatig vernietig en die land in die afgrond in bestuur nie. Hy gaan nie ver kom met sy vingerwysende houding teenoor mense wat van hom verskil nie, wat medegelowiges insluit, en deur hulle aan te maan dat hulle, ten spyte van volgehoue verguising en diskriminasie teen hulle, verantwoordelikheid vir oorgeërfde rassisme moet neem.
Die neo-Marxistiese verstaan van die samelewing, soos kritiese rasteorieë en interseksionaliteit, lê ten grondslag van ons huidige sosio-politieke en intellektuele klimaat en vind neerslag in teologiese diskoers, soos ook in prof Kritzinger se betoog. Wat hierdie teorieë deel, is die beweerde rassisme wat aangespreek moet word deur die aanvaarding van kollektiewe bevoorregting van lank terug as oorsaak vir alle huidige onreg en ongelykheid. Vir hom is witmense kollektief skuldig en die res is slagoffers, ongeag. Die populariteit van hierdie idees bewys maar net die impak van propaganda, hoewel dit ook bepaal hoe die begrip “versoening” verstaan word. Dit kontrasteer met ’n politiek korrekte stilswye van die kerk en teoloë oor die nuwe vorme van onreg, dubbele standaarde in die regspraak, diskriminasie, gebrek aan aanspreeklikheid van die regering vir totalitarisme, huidige wanbestuur, geweld en korrupsie en wat dit aan mense in ons land doen.
Die fokus op die apartheidsera skakel werklike insig oor wat tans aan die gebeur is, uit. Wat prof Kritzinger skynbaar nie verstaan nie, is die universele aard van ongelykheid regoor die wêreld en stratifikasie in alle lande. Waar plaas hy byvoorbeeld welgestelde en middelklasmense van die nie-wit groepe? Is hulle nie medeverantwoordelik nie? Wat hy ook nie oorweeg nie, is dat die Black Lives Matter-beweging in sy kern ’n anti-wit rasse-agenda het, terreur goedpraat en bedryf, kulties is, geen teëspraak duld en vyandig is teenoor die Christendom en Christelike norme.
Die ou rassistiese idee dat biologie ons lot bepaal is vervang met die nuwe ideologie dat dit die geskiedenis is wat ons karakter en uitkyk vorm. Die ou rassiste het die mensdom deur biologie gevange geneem; die nuwe rassiste maak ons slawe van die geskiedenis.

Dank aan Pieter Cloete. Dankie vir jou waarheid-praat. Ons is, wat my betref so diep ingesuig in die ideologie van neo-Marxisme/ Kritiese Teorie dat ons binnekort in die kerk voor ‘n beslissende keuse te staan gaan kom: of ons bly in die kerk en probeer teen die stroom op swem; of ons doen die hartseer ding om met die kerk te breek.
Ek lees die kommentaar op Prof Dons se brief.
Ek dink by myself: dit is die jaar 2020.
En steeds word wit mense (lidmate van die NG Kerk) daarvan aangekla dat hulle rassiste is.
Ek is dankbaar dat Pieter ‘n hoed in die geselskap ingooi en ‘n saak uitmaak vir die bestaan van ‘n verskynsel soos “nuwe rassiste” in ons dag. Ek wil vra: Hoe definieer ons “rassisme” in ons dag? Gee ons daaraan ‘n Bybelse definisie, of ontleen ons ons definisie aan die neo-Marxisme/ Kritiese Teorie? Hoe definieer ons “geregtigheid”? Wat verstaan ons onder “sosiale geregtigheid”?
Ek wonder by myself: hier waar ek woon en werk – waarom kan ek beswaarlik aan iemand dink wat ‘n rassis is? Sondae, in die kerk – ken ek die mense goed genoeg?; waarom ken ek nie een kerkganger hier vir wie ek as ‘n rassis sal beskou nie? Maar oor en oor, weer en weer, kom ons geestelike leiers en kla ons aan van rassisme.
Ken ek baie lidmate van die kerk wat ontnugter is met die Nuwe Suid Afrika? Ken ek mense wie ontredderd voel en besig is om in wanhoop te raak oor die toekoms van ons land en sy mense? Ken ek mense wie treur oor die morele verval van ons samelewing? Ken ek mense wie ontstigt is oor die kriminaliteit wat soos ‘n golf oor land spoel? Oor onbevoegde en korrupte regering? Ja. Baie.
En ken ek mense wie begin voel dat die kerk vir wie hulle lief is, hulle nie hoor nie? Hulle nie verstaan nie? Maar steeds die perd opsaal van apartheidsrassisme en wit bevoorregting en steeds toenemend ons gewetens wil belas met sondes waarvoor ons al honderd keer by God vergifnis gevra het? Ja.
Ek is diep bekommerd oor ons kerk se sinodale en akademiese leiers se ongevoeligheid vir ons lidmate se kommer in ons huidige situasie in SA. Ek is bekommerd daaroor dat hulle geen oog het vir die enorme hoeveelheid veronregting en diskriminasie wat teenoor witmense gepleeg word nie. Ek is besorg daaroor dat hulle steeds van die veronderstelling uitgaan dat ons Afrikaanse mense profeties gekasty moet word en dat hulle nog langer as hierdie afgelope 26 jaar moet aanhou knievalle moet doen en oor en oor moet boete en restitusie doen.
Neem hulle nie waar dat ons mense ontredderd voel en eksistensiële onsekerheid en wanhoop beleef wanneer werkgeleenthede verdwyn, pensioene ontoereikend raak, n pandemie ons voortbestaan bedreig en ons geen toekoms vir ons kinders en kleinkinders in hierdie land meer sien nie? Waarom moet organisasies soos Afriforum en Solidariteit en Helpende Hand en die Institusie vir Rasseverhoudings (IRR) meer aanvoeling hê vir ons mense se konkrete daaglikse nood en iets daadwerkliks daaraan doen?
Ons leraars en leiers moet n slag weer die kampvegters vir ons mense word wat hulle stemme weer n slag laat hoor teen die maatskaplike veronregting wat teen hulle gepleeg word dag na dag. Natuurlik moet ons mense ook gehelp word om die groter prentjie van God se koninkryk raak te sien, maar hou op om soos teenstanders van ons mense oor te kom, wat ons lidmate laat dink dat die kerk hulle uitverkoop het. Word weer kampvegters vir ons lidmate!
Daar is baie groter kragte wat in hierdie pandemietyd oor die aarde aan die werk is. Globalisering en totalitêre kommunisme bevorder sekularisering van die vrye wêreld en die destabilisering en omverwerping van ons beskawing. Dis geen geheim meer dat ons huidige regering die pandemie gebruik om die SA samelewing volgens linkse kommunistiese beleid te orden nie. Die Christelike kerk mag aanvanklik gepaai en “gesentraliseer” word, maar dit sal nie lank duur nie, dan gaan dieselfde druk op kerke toegepas word as wat ons tans in Sjina waarneem. En die wettelose militantheid wat ons tans in Amerika waarneem, met al die vernietiging en haat en geweld, is ook al meer besig om hier te ontwikkel. Ons moet begin om solidêr met ons mense saam te stap!
Die evangelie van Jesus Christus en die kerk as draer van die boodskap is nie instrument om politieke doelwitte na te jaag nie
Vir my wat as Sendeling kind groot geword het was dit meer van Sosiale Skeiding as Rasse skeiding. Masr die vraag bly hoe lank moet die nuwe geslag nog die boetedoening van die Voorvaders dra. Daar word in elk geval baie Leuens versprei rondom die tyd van Politieke Apartheid. Tyd dat die kleed afgegooi word.
Die slotsom van ons huidige samelewing en kerklike situasie maak dit duidelik dat rassisme steeds diep in ons wese, sisteme en denke vasgevang is. Die Evangelie behoort uitkoms te bring, maar die soeke na die koninkryk van God word nog te veel deur politieke (lees “rassiatiese”) ideologieë verdring.
Die NG Kerk-lidmate by name wat steeds heeltyd op die agtervoet is oor regstellende aksies wat deur die Evangelie genoop word, is ‘n getuienis teen die diepgang van die NG Kerk se vasgelooptheid ook hieroor.
Prof Dons is reg – rassisme en die onmenslike en liefdelose skade wat dit aangerig het, kom diep uit “ons” verlede.
Mag die Gees van Christus ons genadig wees en sagkens oortuig om met dieselfde liefde van Christus ook na die naastes in nood uit te reik. Soos Hy gedoen het.