Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Sisteme skuif nie oornag nie – dit vra dat almal sal inkoop om ongemaklike gesprekke te voer.
Hierdie opdrag het my nogal diep laat nadink: Van watter kerk droom ek? Hoe moet die kerk lyk oor dertig jaar, nie net vir vroue nie, maar vir almal? ’n Mens kan maklik in die strik trap om daarop te hoop dat daar iewers ’n towerstaf geswaai gaan word en dat alles veilig en idillies gaan wees. Ek is egter meer nugter in my benadering.
Dertig jaar gelede was dit verskriklik moeilik vir vroue om beroepe na gemeentes te kry. Hulle name is van kortlyste verwyder, want hulle kan nie alleen huisbesoek by mans doen nie, hulle kan nie alleen op plaaspaaie ry nie en wat gebeur as hulle swanger raak en kinders kry? ’n Mens sou wou glo en hoop dat dit nie meer vandag die geval is nie. Dit is egter nie waar nie. Hierdie redes word steeds aangevoer om vroue uit te sluit.
Die eerste prys vir my sal dus wees dat ons oor dertig jaar nie meer hierdie redes moet aanhoor oor hoekom vroue uitgesluit word nie. Ek is egter bevrees dat dit nie sommer sal gebeur nie. As daar nie ’n skuif in die loop van dertig jaar oor hierdie saak gekom het nie, sal dit ook nie in die volgende dertig jaar gebeur nie. Sisteemteorie leer ons dat ’n stelsel nie sommer verander of skuif nie. Die teendeel is eerder die geval: Hoe meer die stelsel bedreig voel, hoe meer is die stelsel geneig om verdedigingsmeganismes in plek te plaas en die status quo te beskerm.
Die stelsel waarvan hier gepraat word is patriargie. Of ons dit wil weet of nie, die kerk is ten diepste ’n patriargale stelsel. Die stelsel word in plek gehou met patriargale godsbeelde en interpretasies van die Skrif. Dit is nie iets wat oornag geskuif word nie, want dit is in ons almal se DNS ingeprent. Indien ons enigsins kan hoop op ’n beter toekoms vir vroue in die bediening, is daar ’n diepgaande gesprek nodig oor die invloed van patriargie op ons denke, dade en oor hoe ons die Skrif lees en verstaan.
Dit is ook nodig dat daar ernstig gekyk sal moet word oor ons metaforiese spreke oor God. Dit is hierdie spreke oor God wat ons godsbeelde vestig en definieer. Hierdie godsbeelde help tans om die patriargie in stand te hou. Dit is nodig dat ons ons godsbeelde moet verruim en onderbenutte metafore oor God uit die Bybel meer moet benut en gebruik tot ’n meer veelvuldige verstaan van God.
Binne hierdie gesprek sal daar fyn geluister moet word na groepe se stemme wat tot nou toe nie gehoor is nie – dit sluit nie net vroue in nie, maar alle groepe wat tot nou toe uitgesluit is om welke rede ookal. Dit gaan van die ooms en tannies in die kerk wat vasgevang is in patriargie vra om dapper te wees en om hulle oop te stel vir eerlike gesprek. Dit gaan vra dat mag gedeel word en dat ons oop moet wees om deur God verras te word om nuwe metafore oor God te ontdek.
Mag ons in die komende 30 jaar dapper genoeg wees om hierdie gesprek met mekaar op ’n luisterende manier te voer.
▶ Dr Carin van Schalkwyk is predikant op Philippolis en skriba van die NG Kerk in die Vrystaat.

Ek stem saam! Mynsinsiens gaan dit eintlik om meer as gesprekvoering op ‘n luisterende manier. Dit gaan om verandering na die gesprekvoering .Sover dit die patriale denkwyse in die kerk betref twyfel ek of dit ooit sal verander tensy daar ‘n absolute wonderwerk plaasvind. Ek dink dis tyd vir ernstig bid vir daardie wonderwerk……
Ek glo in God die Vader ……….
Carin, ek stem grootliks saam en leer by jou. Wil hoor of jy meer sal sê oor wat jy as onderbenutte metafore oor God in die Bybel sien … Vrede
Ek was eers nie seker wat presies om te maak van die artikel nie, dit klink dan so modern en inklusief, maar na n paar keer se lees net die volgende opmerkings/vrae:
1. “dat alles veilig en idillies gaan wees” – Is daar ruimtes in die kerk wat tans nie fisies veilig is nie? Wys dit asb. spesifiek uit want, as man van n vrou en pa van n dogter, moet iets hieraan gedoen word.
2. “wat gebeur as hulle swanger raak en kinders kry?” – Volgens n studie van understandingsociety.ac.uk keer slegs 1 uit 5 vroue binne 3 jaar terug na hul werk na ñ swangerskap. Hierdie statistiek is wissellend oor verskillende grense heen, maar hoe behoort so n statistiek n werkgewer se benadering beïnvloed? Dit is tog duidelik iets wat, uit n praktiese oogpunt, nie geïgnoreer kan word nie.
3. “Die stelsel word in plek gehou met patriargale godsbeelde en interpretasies van die Skrif.” – Kan ons asb n duidelike voorbeeld van hierdie interpretasies kry? Jesus het tog self verwys na God die Vader (“Ons Vader wat woon in die hemel…”). Is daar n manier hoe dit verkeerd geïnterpreteer word? Was Jesus verkeerd? God het man én vrou na Sy beeld geskep, daarmee stry ek nie.
4. “Binne hierdie gesprek sal daar fyn geluister moet word na groepe se stemme wat tot nou toe nie gehoor is nie” – Dit klink suspisieus baie na kritiese teorie (gaan lees gerus “Is ons slawe van die geskiedenis”). Volgens hierdie teorie is n opinie geldig indien dit van n minderheidsgroep kom met geen inagneming van die inhoud se objektiewe waarheid of feite nie. Ravi Zacharais het gesê:”People are equal, but ideas are not”. Almal moet gehoor word, solank gedagtes op meriete (en met die Bybel as grondslag) hanteer word.
5. “Dit gaan van die ooms en tannies in die kerk wat vasgevang is in patriargie vra om dapper te wees” – Daar is n mooi woord in Engels:” patronise: treat in a way that is apparently kind or helpful but that betrays a feeling of superiority.”
Ek stem saam dat ons verstaan van God nie altyd Skrifgetrou is nie en dat ons slegs deur die Woord te bestudeer kan verstaan hoe God homself (ja, ek hoor die manlike verwysing) openbaar. Wees egter versigtig om God se politiek as links voor te stel.
Groete in Christus
Dit is Wysheid self wat roep, dit is Insig wat haar stem laat hoor.
SPREUKE 8:1 Afr 1983
Mense in ‘n posisie van mag, laat gaan nie daardie mag behalwe as daar ‘n rede is nie. Totdat ons vrouens werklik saam staan, gaan die kerk nie verander nie – nie waar die patriargie aangaande is nie. En ja, ons geloofsbelydenis begin met “Ek glo in God die Vader,” maar nes die patriargale kerk, is die ontstaan van daardie geloofsbelydenis ook diep gewortel in die mag van mans. Dit kan ook maar verander. Buitendien, ons geloof is gebaseer op DIE BYBEL, nie die patriargale geloofsbelydenisse wat later ontstaan het nie. Hoekom toets ons nie meer die hede aan die Bybel – en dan in besonders die evangelies nie? Eerder word tradisie en Paulus se briewe die norm, en beide tradisie en Paulus maak ‘n fout.