Hawelose huismense

Vir hulle tiende verjaarsdag het MES Kemptonpark ’n paar onverwagse gesken­ke gekry: Die lesse wat ’n gesondheidskrisis jou leer wanneer jy ’n skuiling met beperkte ruimte en ’n dikwels rustelose, swerwende inwo­nersbevolking het.

Pre-Covid het haweloses 6 nm ingeval en is hulle weer soggens 8 vm of vroeër vort, vertel Helena van Blerk, die takbestuurder. Maar met die hoogste vlakke van die grendeltyd, was 35 haweloses hier noodgedwonge so te sê agter slot en grendel. Die oudste is 72, jongste 24. Vyf inwoners is vroue.

Roetines moes drasties verander. Meer etes. Selfs high tea. Flieks. Speletjies. Verbete hande was. Klere was. “Ons het hulle ook geleer dat elke ou sy beddegoed moet was,” vertel Van Blerk. “Ek kan dit sien aan my water- en elektrisiteitrekening. Dit het sommer geskuif met so R7 000 per maand.”

Inwoners se gedrag het heeltemal ver­ander, vertel sy onlangs aan Kerkbode. “(Die skuiling het vir inwoners) begin voel soos huis; hy kan op die bed gaan lê in die dag … Wat hy nooit kon gedoen het nie.”

Van Blerk ervaar ’n paar goed. Dankbaarheid vir ruim skenkings wat die kombuis vol gehou het in hierdie voormalige NG pastorie wat al ’n dekade as sorghawe bestaan. Simpatie vir die komplekse redes wat mense oor MES se drumpel bring. En sy is onseker oor die voorland van die “klas van 2020” – hierdie groep mense wat deur die noodlot saamgegooi is. “Ek is op die stadium wat ek vir die Here sê, hoe, waarheen nou? Hulle is nou regtig huismense.”