Batseba, patriargie en mag (1 Kon 2:13-25)

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In die ou Nabye Ooste het troonwisseling in ’n koninkryk dikwels met ’n stryd onder potensiële opvolgers gepaard gegaan. In Israel was dit met die afsterwe van koning Dawid en die troonbestyging van een van sy jonger seuns, Salomo, nie anders gesteld nie.

1 Konings 1 – 3 vertel iets van Salomo se troonbestyging. Die vraag is, aan wie het Salomo sy koningskap te danke – aan die profeet Natan se toedoen, of dié van sy ma, Batseba?

In ’n boek met die titel Subversive scribes and the Solomonic narrative: A rereading of 1 Kings 1 – 11 (2006) onderskei Eric Seibert tussen “submissive scribes” en “subversive scribes”. Eersgenoemde het geskryf wat hulle gesê is om te skryf, laasgenoemde nie. Die meeste skrywers (scribes) het geskryf wat hulle gesê is om te skryf, want hulle is as skry­wer-ambagsmanne vergoed vir hulle skryf­werk. Subversiewe skrywers moes baie subtiel te werk gaan, sodat hulle nie deur die heersende magte ontmasker kan word en hulle werk (of hulle kop) verloor nie. Tog moes dit ook nie so subtiel wees dat niemand hulle bedekte boodskap raaksien nie. In dié lig wonder ek of ons nie moontlik in 1 Konings 1 – 3 met so ’n subversiewe teks te doen het nie.

Die Ou Testament is ’n patriargale teks, uit ’n patriargale tyd. Tog kan nie een man in dié gedeelte sonder die hulp van ’n vrou hulle wens by die koning laat tuiskom nie. Die profeet Natan het Batseba nodig om sy sin met koning Dawid te kry en Adonia het dieselfde Batseba nodig om sy sin met koning Salomo te kry.

In 1 Konings 2:13-25 is Batseba se optrede moeilik om te peil. Is sy ’n gewillige boodskapper vir Adonia, of is sy die een met die mag wat Adonia gebruik om haar eie posisie en toekoms te verseker? Direk vertaal lui 1 Konings 2:18: “En sy het gesê, Bátseba: Goed, ék, ek sal praat teen/oor jou met die koning”.

Twee dinge is opmerklik. Eerstens die herhaling van “ek” wat die fokus op Batseba as handelende een laat val en haar dus ook aandui as die een wat in beheer is. Sy is nie ’n gewillige boodskapper tussen twee mans nie, maar die een wat beheer het oor die versoek van Adonia aan Salomo.

In die tweede plek is die woorde wat gekies word om die Hebreeuse voorsetsel (‘āl) te vertaal, interessant. Die mees­te vertalings vertaal die Hebreeuse woord met “oor jou” of “on your behalf”. Dit is egter maar een moontlike vertaling van die betrokke voorsetsel. Dit kan ook vertaal word met “teen jou”. Die klem op “ek” en die vertaling “teen jou” gee dan aan die betrokke verhaal ’n gans ander kleur.

Indien ons dié ewe geldige vertaling volg, is Batseba nie meer die willose boodskapper nie, maar ’n vrou in beheer van haar eie toekoms. Vir haar as moeder van Salomo om te oorleef in die nadraai van haar man, koning Dawid, se afsterwe, is dit belangrik dat sy haar mag gebruik om seker te maak haar seun­tjie word koning.

Sy doen presies dit. Sy ken die ge­skiedenis. Sy weet dat Adonia homself nog tydens Dawid se leeftyd tot koning gesalf het. Sy het immers die gebeure aan Dawid oorvertel. Deur haar toedoen is haar seun Salomo toe deur Dawid tot koning verklaar. Nou moet sy seker maak dat Adonia nie haar seun se lewe na Dawid se dood bedreig nie. Sy weet waarskynlik dat Salomo nie guns­tig op Adonia se versoek sal reageer nie, juis daarom maak sy doodseker dat sy self die versoek aan Salomo oordra (“teen” hom voor Salomo sal praat). Salomo reageer soos sy verwag het. Sy koningskap word bevestig en Batseba se toekoms is seker.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.