Dit moenie gaan oor vlug nie, waarsku Stephan Joubert oor emigrasie. By hom hoor ’n mens eerder drie woorde: roeping, droom, visie.
In ’n videopraatjie oor sy jongste boek pleit die gewilde teoloog en skrywer vir etiese eenvoud in besluitneming. “Mense wat uit geloofsbeginsels besluite neem, neem makliker beter besluite,” verduidelik Joubert tydens ’n halfuurlange gesprek wat op Woensdag 19 Augustus om 11:30 op Kerkbode se Facebook-bladsy gepubliseer sal word.
“As ek my eie salaris en stres begin beding, raak dit baie kompleks,” waarsku hy. Dit hoef nie die geval te wees nie, meen hy. “Partykeer is dit eenvoudig … Gaan ek God verheerlik, ja of nee?” Die boek, Emigreer of bly (Lux Verbi), het ’n vraag as subtitel: Is die gras werklik groener aan die ander kant?
In gesprek met Johan Smith van VitaAmp, vertel Joubert dat die boektema eintlik ’n preekvoorstel was wat eers ’n preek en daarna ’n artikel op ekerk.org geword het. En nou die boek. Die skrywer bekyk die bly-of-gly-gemoedsworsteling wat vele Suid-Afrikaners oor die jare beleef het en bied insig vanuit ’n geloofshoek.
En ná die skryf van meer as 50 boeke asook verblyfservaring in drie oorsese lande (Duitsland, Nederland en Nieu-Seeland) is Joubert stellig uitstekend geplaas vir juis so ’n boek.
Hy waarsku veral sogenaamde “LSD-toeriste” om lig te loop … Dit is naamlik “Look, see, decide”-reisigers wat Joubert meen dikwels op ’n vreemde land verlief raak sonder om te vra hoe dit voel om daar te wóón in teenstelling met om vlugtig die land as besoeker te ervaar.
“Baie keer kyk mense met die oog van ’n toeris na die land,” aldus Joubert. “’n Mens moet deur die oog kyk van iemand wat daar bly. In Holland het ek agtergekom die mense loop nie oor van geluk nie. In Duitsland het ek vir my sekretaresse by die Duitse universiteit gesê, jô, hoe kan ek jou help om gelukkig te wees … ons wat hier uit ongelukkige Afrika kom.”
Joubert, wat self al die slagoffer van ’n kaping was, verwys ook na bekende dryfvere uit ons land, soos misdaad. “Die een groot ding wat emigrasie gedryf het, is rou emosie en woede.” Hy deel sy ervaring van hoe dit voel om verwyt te word daarvoor dat jy die land verlaat … én om in die buiteland kwalik geneem te word oor jy na die land terugkeer.
Kom skakel gerus op Woensdag 19 Augustus om 11:30 in by https://www.facebook.com/kerkbode/ om na hierdie lekker boekgesprek te luister waarin Joubert uit die hart praat en luisteraars waarsku dat vele Suid-Afrikaners wat hy op sy reise in die buiteland ontmoet steeds as ’t ware vlugtelingstatus behou. “Hulle is steeds verbitter. Pleks dat hulle hulle frustrasie hier los, is dit saam in die vraghouer oor.” Sy raad? “Gaan ná ’n roeping toe. Moenie wéggaan nie.”