Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wyle ds Kobus Potgieter, oud-moderator en oudste leraar in die NG Kerk, hier tydens die Algemene Sinode van 2015 saam met prof Nelus Niemandt, toe ook moderator van die Algemene Sinode. Foto's: Verskaf

Oudste NG leraar (99) sterf

Ds Kobus Potgieter is op 18 Augustus in die ouderdom van 99 jaar oorlede. Hy was die oudste predikant in die NG Kerk. Hy het enkele dae voor sy afsterwe positief getoets vir Covid-19. Sy gebede om na die Vaderhuis te gaan is verhoor. Suster Nicky van Lynnwood-oord skets vir ons die aangrypende toneel toe die begrafnisondernemers hom met sonsopkoms kom haal. Sy staan en kyk hoe hy weggery word in die sonsopkoms in en hoe AVBOB se voertuig in die helder lig inry: “Ek sien hoe hy die helder lig inry …” vertel sy.

Ons dink aan sy ryk en geseënde lewe. Hy was ’n diep gelowige mens wat sy hele lewe aan die Here gewy het. Sy lewe het getuig van diep afhanklikheid en byna kinderlike vertroue in die sorg en goedheid van God. Hy het Christus se kerk sy hele lewe lank passievol gedien, en soos hy ouer geword het veral deur die diens van gebede. Hy was lief vir die lidmate van die gemeentes waar hy gedien het: Dalunie, Pretoria-Oos, Universiteitsoord, Suidoos-Pretoria en Krokodilrivier. By Universiteitsoord was hy studenteleraar en intens betrokke by die bouprojek van die pragtige kerkgebou, en konserttoere om geld vir die bouprojek in te samel. Weltevreden se lidmate onthou ook die Bybelstudies wat hy vir jare aangebied het. Hy was baie geliefd en lidmate het dekades lank kontak met hom gehou.

Ds Kobus was moderator van Noord-Transvaal se sinode vanaf 1975 tot 1983, en ook van die Algemene Sinode vanaf 1982 tot 1986. Iets van sy liefde vir die kerk was aansteeklik: Sy seun dr ST Potgieter is ’n predikant, met sy vrou Eljo. Sy dogter Marthinet is met ’n predikant, prof Nelus Niemandt, getroud. Sy kleinkind Dewald Niemandt is ook ’n predikant en is getroud met ’n predikant, Doret. Sy ander kleinkind Doret is ook met ’n dominee getroud – Marco Koch. Sy ander kleinkinders is Marthinet Niemandt, Kobus Potgieter en Lize Potgieter, en agterkleinkind Thea-Marí Niemandt.

Sy vrou Mercia is enkele jare gelede oorlede.

  • Prof Nelus Niemandt is rektor van Hugenote Kollege.
  • Dié berig is ná publikasie aangepas. – Red

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

5 thoughts on “Oudste NG leraar (99) sterf”

  1. Oom Kobus, soos ons hom in Universiteitsoord by Tukkies geken het ,was Studenteleraar in die tydperk wat ek aan Tuks studeer het. 1965-1968 Hy en ds Madder Steyn was ons 2 leraars. Ons dink met groot liefde en waardering aan hom terug.

  2. Oom Kobus het my ‘n lewenswaarheid geleer wat ek met groot vrug aan die jongmense oordra. “Net die dooie visse gaan saam met die stroom.” Sal dit my hele lewe lank onthou.

Comments are closed.

Scroll to Top