Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Chris Smith van Westonaria skryf: My dank aan prof Marius Nel vir die artikel “God se insluitende liefde vat die bediening van Jesus saam”. Dit is geplaas onder die groter tema van “Verstaan die Bybel” in Kerkbode van 28 Augustus 2020.
Die artikel bied baie goeie waarhede aan, maar die doel word nie bereik nie. Ek verstaan die skrywer se doel is om ons te bring tot eenheid en samewerking en insluiting. Dit moet beslis nagestreef word – dit is immers deel van ons roeping! In die praktyk help dit egter nie baie nie. Laat ek verduidelik.
LEES OOK: Verwarring oor die kerk se doel?
Die grootste verdelende aspek in die kerk tans, is natuurlik selfdegeslagverhoudings, afgekort as SGV. In hierdie debat wys die een kant net op die insluitende liefde. “Liefde is liefde” is dan ook die slagspreuk. Dit is duidelik in die tweede paragraaf van die genoemde artikel.
Die ander kant wys weer op die aspekte wat genoem word in die eerste paragraaf van die artikel. Insluitende liefde moet gebalanseer word met die nastreef van heiligheid.
Die enigste aspek van die artikel waarmee albei kante saamstem, is die fokus op Jesus, ontsag vir Jesus en die onderdanigheid aan Jesus. In die soeke om beide, insluitende liefde en heiligmaking, as kernwaardes saam te vestig, kan ons egter nie anders as om terug te gaan na die Woord nie. Daar hoor ons wat is liefde en heiligheid. Daar hoor ons tog gesagvol wat Jesus vra en wat sy wil is waarvoor ons moet buig.
LEES OOK: Jongste vakatures
Daar is sekere aspekte waaroor ons van mekaar kan en mag verskil. Maar net so is daar ook sekere aspekte wat die kern van ons geloof raak waaroor daar net geen kompromie gemaak mag word nie. Vir my is dit die vyf sola’s. Onder andere die gesag van die Woord alleen. Juis omdat ek aan Jesus se gesag gehoorsaam wil wees en Hom wil volg, juis daarom kan ek nie SGV aanvaar nie. Ek aanvaar die persoon met God se insluitende liefde. Die uitleef van SGV is egter vir my teen die uitleef van heiligheid en is teen die gesag van Jesus, soos duidelik word in die Skrif.
In die hele SGV-debat, is dit meer as net ’n “vasgelopenheid”. Dit is ook meer as net ’n ander Skrifhantering. Hierdie twee motiverings vir aanvaarding is vir my ’n vermyding van die gesag van Jesus en sy Woord. Ek glo die kerk moet weer terugkom en die saak uitmaak oor wat die Woord sê oor die saak.
Ek dink nie die saak is tussen “insluitende liefde” teenoor “heiligmaking” nie. Ek glo dit is insluitende liefde, met aanvaarding van die persoon, asook “wees heilig, want Ek is heilig”. Oor wat heiligmaking behels, is die Woord vir my duidelik teen SGV. Ons moet buig voor sy gesag.
Ek poog steeds om dié wat SGV voorstaan, se Skriftuurlike gronde te verstaan. Op sinodale vlak is daar in 2013 besluit teen SGV “na deeglike eksegetiese en teologiese studie”. Daarna was daar nog geen nuwe, beter of ander eksegese aangebied wat hierdie weerspreek nie. In navrae aan die ASM en skrywes aan ATLAS, ea kry ek steeds nie antwoorde op wat die Skriftuurlike gronde is nie. Ek wil graag verstaan, want die eenheid van die kerk is baie belangrik.

Dankie vir n bydrae wat die behoudende posisie (in my opinie) goed verteenwoordig
Dankie Chris. Jy verwoord die verstaan van God se Woord vir die meerderheid lidmate met wie ek gesels. Die Kruis het tog God se Liefde sowel as Sy Geregtigheid vertoon.
Ons moedig oop, respekvolle gesprek aan op Kerkbode se platforms en gebruik ‘n stel riglyne om dit toe te pas.
Die onderstaande riglyne kom hierop neer: As jou bydraes na die mening van die gespreksmoderator doelbewus die temperatuur in die gespreksruimte opjaag, is hierdie gespreksblad nie vir jou nie. Ons aanvaar dat gesprekke nie tot ’n enkele platform beperk kan word nie, en dat gesprekke wat buite hierdie riglyne val eerder na ander bladsye geneem moet word.
Ons verwyder kommentaar en gespreksgenote volgens die volgende riglyne:
* Kommentaar wat ander se geloof en Christenskap bevraagteken op grond van verskillende interpretasies van sekere aspekte van die Christelike tradisie.
* Kommentaar wat ander beledig, ook wanneer dit beskryf word as ’n vorm van godsdienstige vermaning.
* Kru taal of bloot onsmaaklike opmerkings.
* Lasterlike opmerkings, insluitende kommentaar wat daarop gemik is om individue of kerkgemeenskappe skade te berokken.
* Enige vorm van haatspraak, insluitende rassisme, seksisme en homofobie.
* Gespreksgenote wat die bladsy oorneem om ’n eie agenda af te dwing. Dit sluit onder meer in om herhaaldelik aan te dring daarop dat sekere onderwerpe bespreek word, byvoorbeeld om voortdurend gesprekke te begin oor Kerkbode se riglyne vir gesprekvoering en hoe dit toegepas word.
* Kommentaar wat na die oordeel van die gespreksmoderator nie bydra tot respekvolle dialoog nie.
* Dit is nie vir ons moontlik om individuele kommentaar dag en nag te modereer nie. Individue wat dus nie by hierdie gespreksriglyne hou nie sal van die bladsy verban word om dit moontlik te maak vir ander om binne die grense van hierdie riglyne voort te gaan met gesprek.
Hierdie riglyne vir gesprekvoering sal op ’n gereelde basis opgedateer word soos ons dit nodig ag.