Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nadia en haar skaaphond Filos. Foto verskaf

Genadebodes: Wat honde ons oor menswees leer

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Dit is Septembermaand, lentetyd; en binne die kerklike jaar het ons die Seisoen van die Skepping binnegetree. Dit is dus die ideale tyd om diep ondersoek te doen na ons gedagtes en houdings jeens die ekologie, en veral die diere – soos ons troe­teldiere – met wie ons ons lewe en vreugdes en trane elke dag deel. So dikwels vergeet ons dat dit ons plig is om sowel die groter natuurlike wêreld ‘daar buite’ as die kleiner ambassadeurs daarvan wat in ons eie huis en hart leef, te versorg.

Trouens, ons (troetel)diere ken ons beter as wat die meeste mense ons ooit sal ken. Hulle weet wanneer ons slaap, wanneer ons oefen (veral wanneer ons sonder hulle oefen …!), wanneer ons eet. Hulle ken ons elke dag se roetines en gewoontes. Hulle lees ons gemoed, en weet wanneer ons hartseer of kwaad of teleurgesteld is. Hulle kyk ons grootoog aan wanneer hulle onseker is, en hulle deel in ons vreugde en geluk en vrede wanneer dit met ons goed gaan. Daar is min mense wat soveel van ons diepte- en hoogteoomblikke deel en deurleef saam met ons as daardie klein medereisigers. Dikwels besef ons eers hoe diep ingeweef hulle in ons en ons lewe geraak het wanneer daar iets met hulle gebeur.

Ek skryf hierdie bydrae vandeesweek daarom ’n bietjie anders, want ek ken die vriendskap en genade van ’n skaap­hond met die naam Filos. Ek dink baie keer, en al klink dit soos ’n grap bedoel ek dit doodernstig, dat hy nie net ’n beter Christen as ek is nie, maar ook ’n beter dominee. Hy is so ontsettend lief vir mense. Hy is nuuskierig oor alles, hy leef in die oomblik, en hy het ’n humorsin wat tot die eindelose vermaak van sy huismense lei. Hy vergewe my my foute, sonder om te skroom, en daar is geen voorwaardes aan sy liefde nie. Dan wonder ek: Is dit nie ook ’n genade nie, en is dit nie ook ’n troos nie? Is hy nie ook ’n voorbeeld nie, en kan ons dan nie ook iets by ons dierevriende leer nie?

LEES OOK: Die geskenk van sorg

In talle kerke die wêreld oor is daar die gebruik om ’n kerklike erediens in te rig rondom troeteldiere – gewoonlik hon­de, soms katte; maar dikwels dan ook ander troeteldiere – op die Sondag van Sint Franciskus van Assissi, wat van­jaar op 4 Oktober val. Sint Francis­kus van Assissi word binne talle kerklike tradisies beskou as nie net die be­skermheilige van die ekologie nie, maar ook spesifiek as die beskermheilige van diere. Dit is betekenisvol dat die huidige pous van die Katolieke Kerk, pous Franciskus, die eerste pous oor die ganse geskiedenis heen is wat juis gekies het om die naam van hierdie beskerm­heilige aan te neem. In sy ensikliek, Laudato Sii’ (2009), skryf hy onder andere oor die geskenk van diere wat, saam met elke ander skepsel – hoe kort hulle lewe ook al – ontvangers is van Godsliefde.

Maar dikwels word juis honde ons metafoor vir wat dit beteken om argeloos en sorgeloos behandel te word. Ons praat daarvan dat iemand soos ’n hond behandel word, of ’n hondelewe lei. Dan wonder ek altyd oor die soort taalwêreld waarbinne ons leef, dat ’n hond die poster child geword het vir ons onmenslikheid en ellendige en gewelddadige hantering van mekaar. Ons redeneer: ’n Hond is ’n dier, en ’n dier is onheilig. Daarom hoort hulle ook nie ‘in die kerk’ nie; en vergeet ons so gerieflik ons eie (dierlike?) liggaamlikheid, wat die digter Mary Oliver noem “the soft animal of our body loving what it loves”. Dierlik beteken dan onheilig, en menslik dan per slot van rekening heilig.

Dalk kan ons iets leer by die Kanaänitiese vrou in Matteus 15:25-28, met haar vasbeslotenheid om selfs Jesus tot ander insigte te bring oor wie ontvangers van genade is. Sy vra om hulp, en Jesus antwoord haar dat dit nie mooi of goed of reg is om die brood van kinders vir die honde te gooi nie. In haar bekende antwoord maak sy ’n toegewing – “Ja, Here” – maar oortuig Hom tog steeds dat selfs die honde – en sy! – waardige ontvangers van respek, en liefde, en ja, ook ge­nade, is. Jesus se antwoord is opvallend: “Laat dit vir jou wees soos jy wil hê”. Dit wil blyk asof sélfs ’n Kanaänitiese vrou selfs vir Jésus hier iets kan leer …

In haar digbundel Dog songs (2015), maak Mary Oliver die punt dat honde ons oor ons menswees ’n hele paar goed kan leer. Van die vele lesse wat daarin opgesluit lê – om aandag te gee, om in die teenwoordige te leef, om met vreugde te leef – is daar die herinnering aan genade. Dalk sou ons eie honde selfs die genadebodes kon wees wat ons op talle maniere deur ons dag en lewe herinner “om te leef asof nie” (Dirkie Smit).

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.