Teologiese opleiding … ná die pandemie

“Wat gaan aan by ons universiteite?” is ’n vraag wat dikwels gevra word en wel met ’n ondertoon wat wissel van diepe agterdog tot hoopvolle nuuskierigheid.

In kerkkonteks het akademiese opleiding uiteraard ’n direkte invloed op nie alleen die manier hoe daar oor God gedink en gepraat word nie, maar ook die manier hoe gesprek gevoer en debat benader word. Skrifbeskouing, wêreldbeskouing … you get the point. Wat geleer en doseer word by teologiese fakulteite is medebepalend vir die kerk se toekoms.

In erkenning hiervan het algemene sinodegangers verlede jaar ’n aanbeveling goedgekeur dat ’n algemene dosenteraad gevestig word. Die groep wou vanjaar ’n afskopkonferensie hou, maar Covid-19 het hulle gefnuik. Alle gelegitimeerde NG leraars wat teologie doseer in Suid-Afrika en Namibië is nietemin genooi en het uiteindelik voor hulle Zoom-skerms ingeskuif, het dr Frederick Marais, voorsitter van die Algemene Kuratorium (AK), onlangs aan lede van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) vertel.

Bladsy 79 van ’n 106-bladsy agenda-en-bylaag dokument waardeur die ASM-lede einde September tydens twee halfdagsessies gewerk het, bevat ’n bondige opsomming van wat ’n interessante gesprek tussen die 47 dosente moes gewees het, met die fokus wat geplaas is op “ondersteuning, gebed en waardering vir dosente”.

Die pandemie se reuse-impak op hoër onderwys in die algemeen sal ook teologiese opleiding ingrypend verander, meen Marais. Namate universiteite post-Covid-19 sogenaamde gemengde modelle (afstand- en residensiële onderrig) verken, het die AK die gevoel dat die oënskynlike ontwrigting ’n geleentheid bied om korter residensiële opleiding te bied, met langer periodes van opleiding waar studente in gemeentes praktiese ervaring opdoen. Kerkbode sal dié storie dophou.