Wie is wie?

’n Ou vriend bel uit die bloute en ek sukkel meteens om te verduidelik waar ek my bevind: Ek staan op ruwe hout­vloere in ’n klein Spartaanse vertrek met ’n reuse-glyvenster wat die oë op ’n smal rivier en reuse-berge rig. “Ek slaap oor by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington,” trek ek weg en hy val dadelik in: “Is dit iets soos ’n NG weergawe van Taizé in Frankryk?” Goeie vraag.

Spiritualiteit is ’n woord wat ek laat in die NG Kerk ontdek het, en ganse sentrums daarvoor, nog later. Hier is ’n kapel met klokslag dienste om 7:00, 12:00 en dan weer 18:00. Mans in oorpakke bou bedags aan goed wat soos labirinte lyk, lê tuine uit in die Wellington-son. Sommige besoekers is ooglopend tuis hier. Skouers lekker los, oë wat vriendelik skreef agter maskers wanneer hulle woordeloos groet langs die opskeptafel waar ontbyt soggens in stilte plaasvind. Kaalvoet luister een na die oggenddiens terwyl die son perfek op die “liturgiese ruimte” val deur die lang kapelvenster. Ander bieg hulle is soms vreemdweg gespanne weens iets van die nuwigheid, selfs aardigheid, en dit vat ook maar ’n ruk om in te settle.

Hoe breed is die menslike belewenisveld van dieselfde dinge nie. G’n wonder ons is soms gewillige prooi vir ander om ons in ’n raampie te sit en te pigeonhole nie: Elke stukkie standvastigheid help, sê die onderbewussyn dalk!

Ek kom af op ’n paragraaf oor die “geskiedenis van teologiese verskille” geskryf deur ’n span geleerdes wat ’n gespreksdokument moes opstel na die Algemene Sinode se 2019-besluite. Ek haal daaruit aan: “Vincent Brümmer, die Suid-Afrikaans gebore godsdiensfilosoof van Utrecht, skryf in sy boek Vroom of regsinnig? Teologie in die NG Kerk (2013) oor ’n goue draad wat regdeur die geskiedenis van die NG Kerk loop. Hy noem dit die verband tussen regsinnigheid van hart en regsinnigheid van leer.

“Die onderskeid tussen hierdie twee teologiese strominge behoort as ’n implisiete subteks in die debatte van die kerk gesien te word en kan ook dien as ’n raamwerk waarbinne die kontroverse in die kerk beoordeel kan word. Vroomheid of regsinnigheid van hart word gesien as ’n persoonlike verhouding met God en berus op die beskouing dat God nie verstaan wil word nie, maar dat God eerder bemin wil word. Hierteenoor sou dié wat kies vir ’n regsinnigheid van leer eerder klem plaas op die verdedi­ging van die leerstellinge van die kerk soos neergelê in die belydenisskrifte.”

Dan vat die skrywers saam in die woorde van Chesterton: “Vir sommige mense is geloof ‘a thing like a love affair’ en vir ander ‘a thing like a theory’.” Dit mag wees. Maar in die kapel – met oggenddiens – gebeur dit so: Die son skyn reg van voor en almal om my raak silhoeëtte; en jy’t g’n idee wie is wie nie.