Verkiesing: Brief uit die VSA

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die intensiteit waarmee Amerikaners hulle politiek benader is merkwaardig. Steun vir politieke kandidate op nasionale en plaaslike vlak word prontuit vertoon op voertuie en grasperke voor huise en dan is daar natuurlik die miljoene dollars wat ingesamel en bestee word aan TV-dekking en aanlynmedia tydens verkiesingsveldtogte. Gedurende verkiesingsveldtogte kry ’n mens soms die gevoel dat die wêreld stilstaan. Dat niks anders saak maak nie, behalwe die kandidate en hulle onderskeie boodskappe. Of laasgenoemde nou sin maak of inspirerend is, is debatteerbaar. Dog die lawaai is oorweldigend.

Ons bevind onsself nou aan die einde van die onlangse ewigheid anders bekend as die era van Trump. Een ding wat sommige politieke ontleders verwag het, is dat dit dalk eerder Covid-19 as Joe Biden sou wees wat Trump se ondergang by die stembus kon beteken. As dit by presidensiële verkiesings kom, is daar dikwels een oorhoofse kwessie wat kiesers inspireer om te stem. Byvoorbeeld, in 1992 toe Bill Clinton verkies is was die hoofsaak ‘the economy, stupid’, in die woorde van Clinton se strateeg, James Carville. Wanneer daar nie ’n grootskaalse oorlog woed nie, of wanneer geen wêreldwye krisis almal se lewe bedreig nie, is die ekonomie gewoonlik die hoofsaak. Donald Trump het gehoop dat dit in 2020 ook so sou wees. Toe breek daar ’n pandemie uit. Geen landshoof sou wou hoop op ’n pandemie vir politieke heil nie. Dus, soos baie leiers die wêreld deur, is Trump onkant gevang.

’n Mens sou kon argumenteer dat hy beter voorbereid moes wees. Sy twee direkte voorgangers, George W Bush en Barack Obama, het beide gewaarsku teen die gevare van ’n moontlike dodelike virus wat die wêreld kon deursyfer. Maatreëls om so ’n moontlikheid te bekamp is inderdaad ingestel. Dat die Trump-regering van meet af internasionale samewerking die rug toegekeer het en tuis nie veel belangstelling getoon het in die instandhouding en opgradering van anti-pandemiese maatreëls nie, was verseker ’n oordeelsfout. Maar almal maak soms oordeelsfoute. Dit is vergeefbaar.

Foto: Unsplash

Die groter probleem met Donald J Trump en die Koronavirus is sy onbeholpe, onverskillige onvermoë om die uitdaging nadat dit uitgebreek het die hoof te bied. Eerder as om na bekwame mediese amptenare soos dr Anthony Fauci te luister het Trump verkies om sy ore uit te leen aan diegene wat kwaksalwery en oëverblindery verkwansel. Dit is miskien nie so verbasend nie as ons in ag neem dat Trump na berig word self nagenoeg 23 valse aantygings per dag maak wat reeds die 20 000 merk in totale valshede in Juliemaand verbygesteek het, volgens ’n berig op washingtonpost.com.

Die gevolg hiervan was katastrofies, eerstens in terme van gesondheid en die aantal sterftes weens die virus in die VSA, ’n land met 20% van alle wêreldwye infeksies maar slegs 3% van die totale wêreldbevolking. Tweedens het die regering se onbekwaamheid ’n grootskaalse wantroue in kiesers se gemoed geplant. Trump is die enigste president wat nog nooit meer as 50% van die kiesers se goedkeuring kon bekom nie, word op politico.com berig.

Onthou, Hillary Clinton het meer van die algemene stemme as Trump gekry met die 2016-verkiesing. Dit was slegs as gevolg van die argaïese manier hoe die kieskollege gestruktureer is dat Trump se oorwinning in 2016 plaasgevind het. Joe Biden was ten tye van hierdie skrywe op koers om die populêre stem selfs nog verder te wen.

Die belangrike en problematiese punt, spesifiek vir lesers van Kerkbode, is dat meer as 80% van die sogenaamde ‘white evangelicals’ in 2016 vir Trump gestem het, volgens data wat in 2016 op pewresearch.org gepubliseer is.

Na alle verwagting het sy steun onder hierdie groep nie noemenswaardig afgeneem nie. Hierdie is ’n skandalige situasie. Van wanneer af is Christene aan die kant van die leuen eerder as die waarheid? Nou praat ons nie eens van Trump se blatante rassisme, seksisme en xenofobie waarmee hy kort-kort sy volgelinge aanvuur soos enige demagoog ook maar doen nie. Die wit Christelike steun vir Trump en sy weergawe van wit nasionalisme is ’n aanklag wat nog lank gaan weerklink. Net soos soortgelyke historiese verskynsels elders, dink byvoorbeeld aan Duitsland tydens die 1930’s en die Afrikanervolk tydens die apartheidsjare, is dit ongelukkig nie ’n unieke ontwikkeling wanneer Christene besluit om die fantasieë van ’n demagoog of die eiegerigte oëverblindery van ’n politieke party te verkies bo feite en geregtigheid nie.

In tye soos hierdie kan ’n mens maar net hoop dat die lig nie langer verborge sal bly nie. Dit is immers die sentrale Skriftuurlike belofte. Die lig sal skyn. Die donkerte sal probeer om dit te verdruk, maar uiteindelik sal dit nie suksesvol wees nie. Die ding wat ons in die kerk egter oor sal moet besin en ook moet bely teenoor mekaar is dat die donkerte al te dikwels te voorskyn kom vanuit ons eie geledere.

’n Belangrike vraag is of Trump en sy ondersteuners die verkiesingsuitslag sal aanvaar, en indien nie, wat is die implikasies daarvan vir die behoud van demokrasie in Amerika?

  • Prof Retief Müller is direkteur van die Nagel Institute for the Study of World Christianity aan Calvin College in Amerika.