Liefde in die tyd van Korona

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

’n Boek wat in hierdie vreemde Covid-19-jaar vir my ’n soort begeleidende teks was, is Scot McKnight se Reading Romans backwards. Miskien sê die titel al iets oor die manier waarop ons vanjaar uitgedaag is: om as ’t ware “van agter af” – vanuit die toekoms – te leer om op ’n radikaal nuwe manier te leer leef en werk.

McKnight wys daarop dat die gelowiges vir wie Paulus sy brief geskryf het, nie net ’n klein minderheidsgroep in die groot wêreldstad Rome was nie, maar dat hulle ook ’n diverse groep mense was wat oor baie sake, onder andere ook belangrike geloofsake, ernstige meningsverskil met mekaar gehad het. Aan die een kant het hulle die bedreiging ervaar dat hulle deur die nie-gelowige heidendom rondom hulle verswelg kon word, terwyl hulle aan die ander kant die gevaar geloop het om deur hulle onderlinge verskille uitmekaar geskeur te word.

Vir hierdie mense sê Paulus: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (12:2). Uit die res van die brief blyk dit dat hierdie nuwe manier van dink beteken om nie net “in Christus” te wees nie, maar om ook “soos Christus” te dink en te handel. Dit beteken om op ’n nuwe manier, soos Christus, te dink oor God, oor mekaar en oor ander mense.

Om nuut te dink oor God is om te ontdek dat God nie net sekere mense (wat toevallig ook soos ons is), in die oog het nie, maar dat Hy oor alle mense besorgd is en alle mense wil bevry van die ellendige doodsbestaan waarin die “human condition” ons vasgevang hou.

Vir die nuwe manier van dink oor mekaar en oor ander mense gebruik Paulus twee verwante terme: filadelfia (“onderlinge broederliefde”) in 12:10 en filoksenia (“liefde vir vreemdelinge”) in 12:13. Mense wie se lewe hierdeur gekenmerk word, is “soos Christus” en gee daarmee uitdrukking aan die wil van God, want, sê Paulus: “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit” (13:8).

Waarmee hierdie boek van McKnight my vanjaar veral gehelp het, is om opnuut te besef dat ons ook in die ontwrigtende tye wat ons tans beleef, gestalte moet gee aan die werklikheid dat God ons vernuwe om volgelinge van Christus te wees wat met ons doen en late strewe om ook soos Christus te wees.

Dit het enersyds implikasies vir ons onderlinge verhoudinge as gelowiges. Soos in die geval van die Christene in Rome is daar onder ons ook sake waaroor ons drasties van mekaar verskil en waaroor ons paaie dreig om uitmekaar te loop. Soos daardie vroeë Christene word ook ons uitgedaag om steeds hartlike onderlinge liefde te betoon en met eerbied teenoor mekaar op te tree (12:10), en om ten spyte van diepgaande verskille mekaar te aanvaar soos Christus ons aanvaar het (14:7).

Die probleem is nie dát ons van mekaar verskil nie, maar hóé ons ons verskille hanteer: of ons nou doleer of nie doleer nie, ons behoort almal aan die Here. En as ons aan die Here behoort, is ons ook aan mekaar verbind, en dink en praat ons op ’n ander manier oor mekaar en tree ons ook anders teenoor mekaar op.

Ons word andersyds ook uitgedaag in ons verhouding tot alle ander mense. Die Covid-19-tyd het ook van die gevaarlike breuklyne in ons samelewing blootgelê:

  • die groot kloof wat armoede skep tussen dié wat het en dié wat nie het nie (dink aan hoe baie mense in hierdie tyd hongersnood en werkloosheid in die gesig staar);
  • die weerloosheid van sekere groepe mense (dink aan vroue en kinders, en ook ons landbougemeenskap – boere én werkers);
  • die rassespanning wat nog altyd onder die oppervlak van ons saamleef met mekaar lê en prut (dink maar aan Senekal en Brackenfell);
  • die destruktiewe effek van korrupsie en staatskaping op ons ekonomie en op die vooruitsig van miljoene mense op ’n meer leefbare bestaan.

Al hierdie dinge mag nie by ons as kerkmense verbygaan nie, al laat dit ons soms voel asof ons daardeur verswelg gaan word. Juis dit is die werkterrein waar ons as Christene saam met mekaar en saam met ander ’n verskil moet maak. Of soos Paulus sê: “Leef in vrede met alle mense” (12:18). En “vrede” in die Bybel is sjalom: die volheid van God se goedheid wat neerslag vind in die welwese van mense. Dit is ons uitdaging: om ook buite die mure van ons kerkgeboue en buite die veiligheid van ons onderlinge gemeenskap só te lewe dat al meer mense kan deel in die lewe in oorvloed wat God vir sy ganse skepping in die oog het.

Onthou: In al hierdie dinge (na binne én na buite) is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet (8:17). Ook in die tyd van Corona.

  • Dr André Bartlett is voorsitter van NG Sinode Hoëveld.