’n Ontmoeting met Ben du Toit: Die reis na ’n antwoord

Ben du Toit kom op ’n Desembermiddag met sy motorfiets by die Joostenberg Bistro langs die N1 buite Kaapstad aangery …

Ons gesels vir meer as ’n uur met die NG Kerk se voormalige kommunikasiehoof oor sy binnereis wat skielik aktueel geword het en boekklubs laat gons.

Tussen ons lê Du Toit se nuwe boek wat in November by LAPA verskyn het. Die drieluik-getitelde God – Is daar ’n ander antwoord? ’n Bevrydende reis se omslag beklemtoon die reismotief met ’n plaashek wat oopstaan.

Lees ook: ‘Ek is opnuut geïnspireer om te getuig’ sê leraar ná lees van Du Toit se boek

In sy nuwe boek skryf Du Toit dat hy nie oor homself as ateïsties, agnosties of ongelowig dink nie. Maar dat hy, vanuit ’n “post-teïstiese” posisie, wil leef en strewe na ’n “radikale bevrydende humaniteit”. Dit beteken dat hy nie meer in ’n transendente, metafisiese godheid of mag of energie wat sy lewe bepaal glo nie, verduidelik hy.

Maar voor ons by die boek en die gesprekke daaroor kom, net gou ’n terugflits na hoekom die “status update” van hierdie oudleraar na post-teïsties die aandag van soveel aangryp.

Lees ook: Prominente oudleraar karteer pad wat hom na ‘anderkant’ God lei

Ben du Toit is op Nkhoma, Malawi, gebore, matrikuleer in die Strand. Ryg die grade in aan Universiteit Stellenbosch en later Universiteit van Port Elizabeth. Hy werk as dominee voordat hy in 2000 die direkteur van kommunikasie van die Wes-en-Suid-Kaapse Sinode van die NG Kerk word. Hy is ook “die verteenwoordiger van die NG Kerk wat, saam met ander kerke, insette lewer by die nasionale Parlement se wetskrywende proses”, leer ’n mens uit die elektroniese Christelike Kernensiklopedie. “Saam met (wyle) dr Kobus Gerber het hy in 2006 ’n waagmoedige voorlegging oor homoseksuele burgerlike verbintenisse aan die betrokke portefeuljekomitee van die Parlement gedoen. Hy was ook sameroeper van die NG Kerk se taakgroep vir leer en aktuele sake wat kerklik-teologiese standpunte formuleer. Daardeur het hy bekend geword as ’n leidende eksponent van kritiese teologiese denke binne die NG Kerk.”

Nou sit ons voor hierdie 70-jarige man self: grys middelpaadjie, raamlose bril en wakker, weerlose oë. Hy omskryf die “radikale bevrydende humaniteit” as volg: Dit is om die volle menswaardigheid van mense op ’n radikale manier te erken en só bevryding, oftewel hoop, na te streef. Hy lees uit sy boek ’n definisie hiervoor voor, wat oorspronklik deur die Amerikaanse teoloog en filosoof Bernard Loomer gebruik is.

Loomer praat van “the size of God” en beskryf dit soos volg: “By S-I-Z-E I mean the stature of a person’s soul, the range and depth of his love, his capacity for relationships. I mean the volume of life you can take into your being and still maintain your integrity and individuality, the intensity and variety of outlook you can entertain in the unity of your being without feeling defensive or insecure. I mean the strength of your spirit to encourage others to become freer in the development of their diversity and uniqueness. I mean the power to sustain more complex and enriching tensions. I mean the magnanimity of concern to provide conditions that enable others to increase in stature.”

Du Toit verduidelik dat dié woorde beskryf hoe radikale erkenning van menswaardigheid vir hom lyk, wat vry maak. Vir Du Toit is dit belangrik dat mense verstaan sy huidige beskouing oor God en godsdiens is die resultaat van ’n proses en nie iets wat net skielik gebeur het nie. Hy gebruik ’n beeld: “Dis soos om op die Zambesirivier in ’n boot te wees. Die water is rustig. Alles is mooi, die diere, die plante. Maar geleidelik besef jy dat die water vinniger begin loop. Die water raak toenemend onrustig. En stadig maar seker is die ervaring nie meer lekker nie. Jou waarneming en verstaan van die rivier verander. En op ’n dag hoor jy ’n groot gedruis, wat al harder word en jy besef jy peil op ’n waterval af. En jy’s bekommerd, want jy weet nie wat op jou wag nie. En dan, op ’n dag val jy af oor die rand en jy beland in die diep strome daaronder – en jy besef jy’t dit oorleef – en rondom jou is dit mooi en rustig. Dis beautiful! Ek is OK. En ’n mens kyk op na die waterval en jy besef daar is nie ’n manier hoe jy weer daarbo gaan kom nie. Dis onmoontlik, maar dis OK. Dis beter. Hier waar ek nou is, is bevrydend,” sê Du Toit.

Die wye reaksie op die boek was te wagte. Du Toit ken omstredenheid. “Ek het altyd geweet as ek skryf en as ek preek gaan daar mense wees wat dit wat ek sê as bevrydend, stimulerend en met nuwe perspektiewe op hulle eie lewenspad beleef. Maar daar gaan ook mense wees wat nie daarvan gaan hou nie. En dis nogal sleg. Waarskynlik is dit te wyte daaraan wanneer ’n mens aan grense stoot?” mymer Du Toit.

So wat dryf Du Toit? “Dit is oor ek omgee. Ek gee ontsettend om vir mense. En vir mense wat swaarkry. Vir mense wat misken word. Seker daarom dat ek altyd aan die kant van die underdog is. En aan die kant van die stemloses.” Só beskryf hy sy roeping terwyl die trane in sy oë opdam. In die boek gaan dit dus vir hom in die eerste plek om ’n ruimte te skep vir mense wat toenemend deur die kerklike geloofsgemeenskap ontnugter is. En hier gaan dit veral in die eerste plek oor geregtigheid, waarvan menswaardigheid die keersy van die munt is. “Die boek beskryf op ’n sistematiese en rasioneel insigtelike manier my reis hiermee en bied redes aan hoekom ek nie meer in God glo nie. Geregtigheid en versoening staan vir my voorop en dit was uiteindelik my ontnugtering, dat die kerk, dat godsdiens nie daaraan uitdrukking kon gee nie.”

Toe ons die gesprek afsluit en groet, stap hy na sy motorfiets. Hy sê: “Dis ongelooflik om in hierdie tyd te leef waar ons soveel inligting en kennis het wat jou opgewonde maak. Om te besef ek kon vir ’n tyd deel gehad het in hierdie lewe. En dit was goed.”

Word 'n vriend van Kerkbode