Byeenkoms vir dolerende gemeentes

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Bethal Konferensie 16 April 2021

Bethal en Charl Cilliers gemeentes het die inisiatief geneem om verteenwoordigers van dolerende en ander behoudende gemeentes van die NG Kerk te nooi na ‘n byeenkoms op Vrydag, 16 April. Die reëlingskomitee was dr. Bennie Marais en ds. Jurie Blom saam met die 3 ouderlinge van Charl Cilliers naamlik Tinus de Jager, Frans Kok en Christo Kriek. Die geleentheid was in die vorm van ‘n kort konferensie wat gehou is van 09h30 tot 13h00 by Bethal Moedergemeente. Daar was sowat 85 konferensiegangers wat almal vooraf geregistreer het. Ongelukkig moes omtrent 25 persone wat laat wou registreer, weggewys word weens die beperkte hoeveelheid wat ons kon akkomodeer. Die hele byeenkoms was egter ook lewend gevolg deur nog ongeveer 80 persone wat vooraf daarvoor op Teams geregistreer het.

Die ideaal was om deur die oggend die maksimum tyd in te ruim om regtig en behoorlik na mekaar te luister, saam te sing en vir mekaar te bid, en saam te soek na die wil van die Here vir behoudende lidmate en gemeentes van die NG Kerk vir die pad vorentoe. Al die konferensie gangers het getuig van die sterk eenheid onder mekaar in die teenwoordigheid van die Almagtige Vader. Voor die afsluiting was daar ook ruim geleentheid gegee vir spesifieke voorbidding vir die Kerk, die regering en die boeregemeenskap se veiligheid én vir hulle wat steeds onder ernstige droogtes gebuk gaan – ’n aangrypende oomblik toe die hele vergadering in verootmoediging en diepe afhanklikheid voor die Here gekniel het.

Dr. Bennie Marais het sterk geestelike leiding gegee en die hele byeenkoms liturgies ingeklee. Ds. Jurie Blom se oordenking vanuit Amos 7:7-8 oor die Here wat ‘n skietlood aanlê om Jerusalem se mure te toets, was aangrypend en het die ernstige en verootmoedigende atmosfeer vir die res van die vergadering bepaal. Direk na ds Blom se oordenking het ds Willem Badenhorst van Moreletapark ‘n groeteboodskap en herderlike brief namens Kairos Netwerk voorgelees. Die herderlike brief was vir al die konferensiegangers ‘n sterk inspirasie en teken van positiewe ondersteuning. Die drie ouderlinge Tinus de Jager, Frans Kok en Christo Kriek het ook die vergadering geïnspireer met hul treffende boodskappe. Hulle het al drie helder en duidelik gesê dat ons nie beplan om die NG Kerk te verlaat of verder te skeur nie, maar dat ons soek en bid vir ware reformasie van die NG Kerk. Ons is die NG Kerk en ons gaan nie toelaat dat die kerk deur dwaalleraars gekaap word nie.

Di. Helgard Janse v Rensburg en Theo Danzfuss was genooi om die konferensie kortliks in te lig oor die situasie waarin die NG Kerk haar tans bevind, enkele opsies en riglyne vir die pad vorentoe te gee en kerkregtelike advies te gee waar nodig. Die konferensiegangers het hulle aanbieding baie positief belewe en hulle het weer hoop gegee met hul aanbieding. Hullel gesamentlike aanbieding was saamgevat in ‘n skyfiereeks wat in breë trekke soos volg verloop:

Ons het tot dusver konsekwent die kerklike pad geloop. Dit het die volgende ingesluit:

 Die vele beswaarskrifte sedert AS 2011

 Die vele appèlle, beswaarskrifte, gravamina en beskrywingspunte sedert 2015 – meer as 600 bladsye wat gerig was aan die AS vir hantering tydens die BAS 2016

 Die vele gravamina met die oog op AS 2019 – ’n hele DVD vol omdat dit te veel was om in die agenda te bind.

Vroeg in 2020 het die Moreleta Beraad plaasgevind. Daar is opnuut gesê dat ons op die kerklike pad wil bly. Sedertdien het dit gelei tot die stigting van Kairos Netwerk (KN) wat onder andere aandag gegee het aan die volgende:

 Die ses voorgestelde stappe wat lidmate, gemeentes, ringe en sinodes kan volg

 Teologiese opleiding

 Kerkordelike prosedures

 Die daarstel van die KN-webwerf en gereelde nuusbriewe

 Die daarstel van WhatsApp-groepe

 Publisiteit in die media – bv in Kerkbode, Beeld, Rapport en Radio Pretoria FM

 Ongeveer 70+ gemeentes wat amptelik doleer.

 Gesprekke met ASM

 ’n Versoek aan die ASM om ’n buitengewone Algemene Sinode byeen te roep – ’n versoek wat ongelukkig van die hand gewys is

Vandag is dit weer beklemtoon dat ons op die kerklike pad wil bly. Ons wil dit doen langs die weg van reformasie.

 Reformasie wil nie die kerk skeur, uit die kerk bedank, of die kerk versplinter nie

 Reformasie wil nie wêreldse hof die kerk se lot laat bepaal nie

 Reformasie wil nie individualisties slegs eie voordele soek nie

 Reformasie wil kerk terugbring na Woord

 Reformasie wil eenheid in waarheid herstel… Ef. 4:15-16 Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

 Reformasie soek die belange van die hele kerkverband.

Die vraag is gevra:

Wie is die voortsetting van die NG Kerk?

Ons wat bly by Woord en belydenis, of die dwaalleraars?

As daar geloop word, wie moet loop?

Die wettige inwoner of die onwettige inbreker?

Terwyl die Algemene Sinode tans as vergadering van sinodes leerstellige en ander besluite neem wat vir gemeentes bindend is, terwyl gemeentes nie verteenwoordiging op die Algemene Sinode het nie, moet daar gesoek word na wyses en strukture waar gemeentes (kerke) kan loskom van die binding deur en dwalinge van die Algemene Sinode. Moontlike opsies is:

 Wanneer ’n sinode/sinodes kragtens Kerkorde, art 37, uittree uit die verband met die Algemene Sinode

 Wanneer die Algemene Sinode in sy huidige formaat ontbind en daar weer teruggekeer word na die situasie voor 1962 na ’n Raad van NG Kerke (’n tipe Federale Raad van Kerke)

Intussen word daar gestreef na nuwe netwerke tussen dolerende en ander behoudende gemeentes.

Daar word ook ‘n baie groter vergadering beplan vir al die dolende gemeentes van die land. Die dolerende gemeentes groei by die dag. Op die groter vergadering gaan wettige besluite geneem word in die NG Kerk.

Dr. Bennie Marais het daarna ’n oop bespreking vanaf die vloer gefasiliteer en later was daar geleentheid vir die konferensiegangers om in klein groepe in sinodale verband te gesels met skriftelike terugvoer. Nog twee hoogtepunte was die vooraf sang van geestelike liedere deur Luhan Blom en die hartlike lofprysing daarna onder begeleiding van mev. Corlea Blom. Ds. Jan Louw het die byeenkoms afgesluit met ‘n sterk oproep om te volhard in die stryd en om te fokus op ons vernaamste roeping as boodskappers van God se Koninkryk. By die deure van die konferensie is daar ‘n kollekte gehou vir ons Noord Kaap se Droogte fonds. ‘n Groot bedrag word Maandag oorbetaal aan die Boere in Nood in die Noord Kaap.


  • Hierdie verklaring is volledig geplaas – sonder taalversorging deur Kerkbode.
Word 'n vriend van Kerkbode

4 thoughts on “Byeenkoms vir dolerende gemeentes

  1. Johannes de |Koning says:

    Baie dankie vir julle inisiatief en sterkte vir die pad vorentoe!

  2. Lood Oliver says:

    Die tweede laaste paragraaf is interessant. Dolering kom glad nie voor in die kerkorde nie en het geen kerkregtelike status nie. Dit kom dus neer op ‘n privaat stukkie handeling wat ‘n gemeente doen. Ten spyte daarvan eien hulle hulleself die reg toe om ‘n klomp dinge te doen in die kerk wat alles in stryd is met die kerk se ordereëls. Nou sien ek in die betrokke paragraaf daar gaan “wettige” besluite geneem word op die groot vergadering. Hoe kan die besluite wettig wees? Of het iemand wat dit geskryf het maar net ‘n goeie sin vir humor?

  3. Henrietta Klaasing says:

    Lood, jy bevraagteken of die dolerende gemeentes wettige besluite kan neem….waarom bestudeer jy nie ook sommer die kere wat die AS onwettige besluite geneem het wat TEEN Artikel 1 (die belangrikste) van die Kerkorde is nie, soos die SGV besluit van 2019? Daar is VEEL om oor te doleer (treur) oor die rigting waarin die NGK die laaste aantal jare beweeg.

  4. Rudi van Tonder says:

    Ek dink ons moet baie ernstig luister na hierdie groep in die kerk wat al hoe groter word.

Comments are closed.