NG Kerk se reaksie op nuwe huwelikswet

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.

Uit die kantoor van dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk:

Die sluiting van huwelike en verbintenisse geskied tans aan die hand van die volgende wette:

  • Die Huwelikswet van 1961 (Marriage Act of 1961).
  • Die Wet op die Erkenning van Gebruiklike Huwelike van 1998 (Customary Marriage Act of 1998).
  • Die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 (Civil Union Act of 2006).

In Oktober 2020 het die Departement van Binnelandse Sake (DBS) bevestig dat dit sy voorneme is om ’n nuwe konsep-huweliksbeleid in Suid-Afrika in te stel.

Wetgewing, word geargumenteer, wat tans huwelike en verbintenisse in Suid-Afrika reguleer, is ontwikkel sonder ’n oorkoepelende beleid wat gebaseer is op grondwetlike waardes en ’n begrip van moderne sosiale dinamika. Ondanks al die veranderinge wat in huwelikswetgewing ná 1994 aangebring is, is daar steeds ernstige leemtes, word aangevoer. Die huidige wetgewing reguleer byvoorbeeld nie sommige godsdienstige huwelike soos die Hindoe-, Moslem- en ander huwelike wat in sommige Afrika- of koninklike families gebruik word nie.

Gegewe die diversiteit van die Suid-Afrikaanse bevolking, is dit feitlik onmoontlik om wetgewing te aanvaar wat elke enkele godsdienstige of kulturele huwelikspraktyk beheer. Dit is teen hierdie agtergrond dat die DBS in ’n proses is om ’n huweliksbeleid te ontwikkel wat ’n beleidsgrondslag sal lê vir die opstel van ’n nuwe enkel- of omnibuswetgewing.

Die agtergrond vir die wetsontwerp is die problematiese gefragmenteerde wetgewing oor wesenlik dieselfde saak wat oor die jare ontstaan het, in die besonder die Huwelikswet (Wet 25 van 1961), die Wet op Erkenning van Gebruiklike Huwelike (Wet 120 van 1998) en die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006).

Die beoogde huwelikswet sal Suid-Afrikaners en inwoners van alle seksuele oriëntasies, godsdienstige en kulturele oortuigings in staat stel om wettige huwelike en verbintenisse te sluit wat ooreenstem met die beginsels van gelykheid, nie-diskriminasie, menswaardigheid en eenheid in diversiteit, soos vervat in die Grondwet.

Die publikasie van die Groenskrif oor Huwelike vir openbare raadpleging is goedgekeur. Die Groenskrif het ten doel om te werk aan die ontwikkeling van ’n nuwe wetsontwerp op die enkele huwelik en sal die huweliksregime van die land in ooreenstemming bring met die grondwetlike beginsel van gelykheid. Die Groenskrif is geensins amptelike wetgewing nie en slegs die begin van ’n konsultasieproses.

Die kwessie van poliandrie, wat ’n vrou in staat stel om meer as een gades te neem, wat heelwat traksie in die media gekry het, moet in die lig van die voorwaardelikheid van die Groenskrif gesien word.

Die Groenskrif maak voorstelle oor verbintenisse van mense uit alle seksuele oriëntasies, godsdienstige en kulturele oortuigings. Dit stel ook voor dat die moontlikheid van kinderhuwelike in ’n toekomstige huwelikswet verwyder word.

Die SA Regskommissie is deur die DBS getaak om ’n konsepvoorstel vir wetgewing voor te berei. Dit het ’n “besprekingsdokument” gepubliseer vir kommentaar. Die NG Kerk het kommentaar gelewer en deurgestuur.

Die SA Regskommissie het twee konsep-opsies vir ’n moontlike wet op die tafel geplaas. Inhoudelik is die opsies substansieel identies, met die uitsondering van die benaming van die wetlik-beskermde verhoudings ter sprake. Opsie 1 is getiteld Protected Relationships Bill en opsie 2 Recognition and Registration of Marriages and Life Partnerships Bill.

Sommige van die belangrikste veranderinge wat na verwagting in die nuwe wetsontwerp aangebring word, sluit in:

  • Die nuwe huwelikswet sal Suid-Afrikaners van verskillende seksuele oriëntasies, godsdienstige en kulturele oortuigings in staat stel om wettige huwelike te sluit;
  • Die instelling van streng reëls rondom die ouderdom van die huwelik (insluitend die aanpassing van die ouderdom van minderjariges in die huwelikswetgewing tot die Kinderwet);
  • Dit sal die huweliks-, huweliksgoedere- en egskeidingswetgewing in ooreenstemming bring met huweliksgoedere en intestate erfopvolgings in die geval van die ontbinding van die huwelik;
  • Dit sal billike behandeling en respek vir godsdienstige en gebruiklike oortuigings moontlik maak in ooreenstemming met artikel 15 van die Grondwet.
  • Dit sal handel oor die viering en registrasie van huwelike waarby buitelandse burgers betrokke is;
  • Dit sal handel oor die viering en registrasie van gewone huwelike waarby nie-burgers betrokke is, veral oorgrens gemeenskappe of burgers van ons buurlande.

Kommentaar op die Groenskrif word ingewag en die teikendatum daarvoor was 30 Junie 2021. Die NG Kerk het reeds kommentaar gelewer en het vir die huidige daarmee volstaan. Die beplanning is dat ’n formele wetsontwerp na verwagting teen 2024 gereed sal wees vir parlementêre goedkeuring. Daar gaan dus meer as een keer vorentoe kommentaar gevra word ter verfyning van die huwelikswet omdat sekere aspekte nog uitstaande is.

Voorlopige opmerkings

Die SA Regskommissie het die kommentaar wat in 2019 van individue en instansies soos die NG Kerk ontvang is, op die oog af deeglik verwerk. Die aanbeveling dat die minimum ouderdom om in ’n huwelik te kan tree, vasgestel word op 18 jaar vir albei geslagte (Wet 25 van 1961 maak voorsiening vir toetrede tot ’n huwelik van dogters so jonk as 15 jaar met toestemming van die ouers, en met toestemming van die Minister van Binnelandse Sake selfs jonger as 15). Hierdie aanbeveling het sy weg gevind tot die sterk bewoording in die wetsontwerp se artikel 5(1): “No person or institution can provide consent for any person under the age of 18 years to enter into a marriage or life partnership.” Dit is ’n positiewe ontwikkeling – die beskerming van kwesbare persone soos kinders, is immers ’n saak waarby die kerk ’n bewese belang het.

Ingevolge dié wetsontwerp sal alle huidige kerklike huweliksbevestigers outomaties die reg verkry om huwelike kragtens die nuwe wetgewing te voltrek. Alle huwelike bevestig kragtens vorige wetgewing behou onveranderd dieselfde status vir die doeleindes van die nuwe wetgewing.

Daar is weggedoen met uitgediende formaliteite. Menige predikant het al gestoei om min of meer die wetlike voorskrifte in artikel 29(2) van Wet 25 van 1961 na te kom, veral wat tuin-, bos- en strandtroues aanbetref. Die hof brei die betekenis van die woord “in” uit om ook “in die omgewing van” in te sluit.

Die wetsontwerp vereenvoudig die uitgediende formele vereistes tot: “A marriage officer may solemnise a marriage at any place and at any time in accordance with any mode of solemnisation, or in accordance with any religious or cultural practice.” Hieruit blyk ook die wetsontwerp se handhawing van godsdiensregte en -vryhede, wat eweneens verblydend is.

Die definisie soos vervat in die wetsontwerp is nie-diskriminerend en inklusief: “‘Monogamous marriage or life partnership’ means the relationship of two people regardless of their sex, sexual orientation, or gender identity, to the exclusion of all others, unless dissolved by divorce or death of one or both parties.”

In hierdie verband is dit belangrik om ’n onderskeid te tref tussen die religieuse en die wetgewende. Daar word nie van die (godsdiens-neutrale) staat verwag om wetgewing te promulgeer wat kerkgenootskappe ondersteun of bevoordeel nie, en kerke en geloofsgemeenskappe se dogmatiese sienings behoort eweneens nie voorskriftelik vir die staat te wees nie.

Kerke kan wel daarop aandring dat haar grondwetlike regte en vryhede beskerm word en haar leerstellings en praktyke nie op enige wyse beperk word deur wetgewing nie. Huwelikswetgewing moet derhalwe so inklusief as moontlik wees, sodat die kerk, en alle ander kerke en geloofsinstellings, en ander gelowe, en ongelowiges, ensovoorts, se regte en vryhede gerespekteer word en terselfdertyd hulle eie definisies en praktyke kan handhaaf en ontwikkel sonder onbehoorlike inmenging deur die owerheid. Dit is die aard en eis van grondwetlikheid. Al wat die kerk kan vra is ruimte om ten volle kerk te wees. Die Grondwet maak ruim voorsiening hiervoor en dit word prima facie gereflekteer in die definisie in die wetsontwerp.

Die voorgestelde wetgewing is ’n voortgaande proses, en in die belang van die breë gemeenskap behoort dit nie inderhaas afgerammel te word nie. Daar is egter steeds enkele fasette van die wetsontwerp wat aandag behoort te ontvang, enersyds wat betref die wetsontwerp, en andersyds rakende die beleid van die DBS in die uitvoering van die wet en hulle statutêre pligte en verantwoordelikhede, sowel as die verpligtinge van kerklike huweliksbevestigers.

Besorgdheid is deur sekere drukgroepe uitgespreek oor die weglating van enige wetsbepalingsklousule om godsdienshuweliksbeamptes (in diens van geloofsgemeenskappe) uitdruklik te beskerm teen gedwonge huwelike wat strydig is met die beginsels van hulle geloof. Hierdie weglating sou strydig wees met al die internasionale wette wat die SA Regskommissie tydens hulle navorsing geraadpleeg het, asook die huidige huwelikswet in SA, wat so ’n klousule bevat.

Die oorwegende indruk is egter dat die wetsontwerp die godsdiensregte en -vryhede van godsdienshuweliksbeamptes handhaaf. Die onderskeid moet altyd gehandhaaf word tussen godsdienshuweliksbeamptes en die staat se huweliksbevestigers. Die staat se huweliksbevestigers, as deel van hulle aanstellingsooreenkoms, het geen reg op gewetensbeswaar nie. In dié verband moet daar gelet word op die amendement van die Wet op die Burgerlike Verbintenisse wat in 2020 goedgekeur is.

Die NG Kerk sal by elke fase betrokke wees om te verseker dat die kerk se lidmate se regte en vryhede beskerm word.

Word 'n vriend van Kerkbode