Om met liefde te stik

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die naat van ’n kledingstuk is dikwels onsigbaar, totdat ’n rafel los torring. Nate wat ’n klomp laslappies so plus-minus bymekaar hou loop kruis en dwars deur ons samelewing, vlak onder die oppervlak.

Gewoonlik word daar vir ’n kind wat aan ’n rafeltjie in sy trui begin torring, gesê: “Nee Boeta, los, jy gaan jou trui bederf.” Indien Boeta lank genoeg torring, gaan hy geen trui meer hê nie. Die nate in sy trui, net soos dié in ons samelewing, bestaan uit mensgemaakte steke wat voortdurend onderhoud benodig eerder as wat daar aan hulle getorring word.

LEES OOK: Oor rasseskeiding: ‘Ek soek ’n kerk wat jeuk’

Die een plek waar ’n samelewing se rafels wys en nate sigbaar word, met ander woorde waar die lyne wat ons aan mekaar bind en ook uitmekaar hou wys, is in rituele. Skrywers benut hierdie waarheid graag in hulle boeke. So skryf Ronald Grimes in sy boek Fictive ritual dat fiktiewe wêrelde, soos dié in storieboeke, heiligdomme is waarbinne ons rituele kan herverbeel. Rituele in storieboeke kan ’n mens, anders as in die regte lewe, “pause”. Jy kan terugblaai, langer in ’n seremonie vertoef en gebeure bedink terwyl dit gebeur. ’n Leser kan ’n bruid herhaaldelik in die paadjie laat afloop of die kis ’n tweede keer laat sak. Soos wafferse antropoloë wat veldwerk doen, is lesers gelyktydig binne- en buitestander in die verhaal. En soms, tydens so ’n fiksionele rondwandeling, wys rafels en nate tussen die deelnemers en besef ’n mens opnuut hoe almal in die land aanmekaar gestik is en waar die nate lostrek.

By troues en dope en verjaardae kan dinge uitrafel, maar niks klop rituele by die dood nie. Dit is tydens begrafnisse waar deelnemers die hardste probeer keer dat some wat losgeraak het nie wys nie, maar waar opgekropte emosies en wrokke wat oor jare tot Enakskinders gegroei het, lostorring en uitrafel totdat die fiksionele ritueel, soos in die regte lewe, gereeld uit sy nate wil bars. Dit is egter presies hier waar ons ook besef hoe broos alles is, hoe maklik iets wat oor jare en met sorg aanmekaar gestik is, in ’n oogwink losgetorring kan word. Fiksie wys die faksie.

Skrywers werk graag met onewewigtigheid, want dit is in ’n leser se wese om te smag na ewewig en aan te hou lees totdat daardie behoefte bevredig is. Daarom word klimaks en ontknoping sekuur teruggehou. Wanneer dit by die dood in fiksie kom, is daar die onewewigtigheid wat met die sterfte saamgaan, wat geplaas word op die reeds bestaande onewewigtigheid waarmee die plot werk. En wanneer ’n ritueel soos ’n begrafnis dan uitgevoer word, sit die Suid-Afrikaanse begrafnisgangers daar, soos Damon Galgut hulle in sy nuutste roman The promise beskryf: “… the rainbow nation, a mixed and motley mongrel assembly in the church today, restive and ill at ease, like antagonistic elements from the periodic table.”

Dit is weer 18 Julie, oudpresident Nelson Mandela se verjaardag, en ons land brand te midde van gelaagde onewewigtigheid – ’n uitgerekte oorgangstyd na demokrasie, ’n pandemie, armoede en ongelykheid, ’n ander oudpresident in die tronk. Oor die laaste dekades het soveel mense so hard gewerk aan verhoudings (nie almal nie, maar baie het wel), maar nou lyk sake sleg. Dit is tye soos hierdie wat dit goed is om ’n heiligdom te besoek wat ons kan help om onsself te herverbeel.

The promise is ’n neutvars Suid-Afrikaanse fiksionele heiligdom. Dit is boonop vol sterfgevalle en ook doderituele wat ons kan help om in hierdie dae opnuut na onsself te kyk en die nate te sien wat daar tussen die mense van die land loop, nate waaraan baie mense met moeite en sorg gestik het. Die rafels wat nou regoor die land wys en nate wat begin lostrek, lok verskeie reaksies uit: Party wil soos Boeta gaan torring totdat elke laaste naat lostrek; die meerderheid reik egter vir ’n naald en gare, want ons het net die een trui en ons almal moet hom dra.

In elk van die vier hoofstukke van The promise is ’n sterfgeval én ’n meegaande ritueel. Eers is dit Ma wat voor haar dood terugkeer vanuit Afrikanernasionalisme en -godsdiens na haar Joodse wortels. Sy kry dan ook ’n Joodse begrafnis en tydens die diens kry haar jongste dogter haar eerste maandstonde. Galgut skryf self hoe dit wys dat bloed dikker as water is en hoe onmisbaar ’n ma kan wees. Ja, ons sal mekaar gas gee hier ter plaatse, maar sit ons ons voete ’n aks buite ons landsgrense en alle Suid-Afrikaners is in ’n diepe verbondenheid, soos Jode en soos Afrikaners en ma’s en dogters, oor enige etniese nate heen.

LEES OOK: Die koninkryk vanaf koloniale kansels

Dan sterf Pa, wie se begrafnis met die 1995 Rugby Wêreldbekereindstryd kan bots. Hy kry dus nie sy voorkeurtyd nie, dit behoort aan sport, maar wel sy plek, ’n graf op die plaas. ’n Laaste rusplek op die plaas is iets wat die plaaswerkers van dieselfde plaas nie beskore is nie. Ons het wat tyd en ruimte aanbetref gevorder, maar ons is ongetwyfeld nog onderweg, dit bly steeds ’n lang pad.

Daarna is dit Astrid, Ma en Pa se oudste dogter, wat ’n pragtige Katolieke begrafnisdiens kry. Op die oog af verloop die ritueel naatloos. Die voorste twee draers van haar kis is haar huidige man en haar eks-man, alhoewel iemand anders veel eerder kon gedra het. As bekeerling tot die Katolisisme het sy gebieg, maar nog nie absolusie gekry nie. Waarheen sy tydens haar dodemis dus op pad is, is ’n ope vraag. Wie kan oordeel en die eerste klip optel om na die kis te gooi?

Die laaste om te sterf is Anton, die oudste en enigste seun. Die leser verneem dat hy ’n alternatiewe afskeidsdiens sou gehaat het. Juis daarom gee sy weduwee vir hom graag ’n alternatiewe afskeidsdiens. Hy was ’n jongman vol belofte, maar helaas. Anton is uiteindelik soos duisende ander jongmense wat hulle lewe in hierdie land haat en hulle begrafnisse sal verpes.

Al wat van die gesin van vyf oorbly is die jongste dogter, Amor. Dit herinner aan Paulus, wat hy skryf oor wat uiteindelik bly. En teen die einde, na almal dood is, omhels Amor en Salome, die gesin se huishulp van al die jare. Dit is ’n roman vol galgehumor en speel kniediep in die harde realiteite van ons geknelde land af. Sommige lesers sal sê geloof en hoop is hierdie storie ses voet ingespit of vanuit ’n urn uitgestrooi in die wind, en tog, teen die einde van die verhaal is dit Amor en Salome, liefde en vrede, wat mekaar omhels.

Tussen die Suid-Afrikaners wat hou van raas en torring, is daar ook soveel Amors. Stil, haas sigbaar, maar besig met naald en gare by die rafel in die nate van ons samelewing.

  • Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Word 'n vriend van Kerkbode