Die gesprek oor kerkverband: Moenie die geskiedenis vergeet nie

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die gesprek oor kerkverband het in die NG Kerk skielik momentum gekry. Aan die een kant is daar diegene wat positief is oor die moontlikheid van nuwe sinodes, die herstrukturering van bestaande sinodes en die herindeling van ringe.

In sommige van die gesprekke word selfs gemeen dat die Algemene Sinode soos dit tans bestaan se rakleeftyd verby is. Aan die ander kant is daar diegene wat die status quo verdedig asof die sinodaal-presbiteriale verband soos wat dit in die NG Kerk neerslag gevind het, ’n model is wat pasklaar uit die hemel afkomstig is. Dit is egter ver van die waarheid.

LEES OOK: Laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie

Die stelsel vind sy wortels in die parogiale stelsel wat uit die Romeinse Ryk dateer. Daarvolgens is stede in verskillende distrikte ingedeel om admini­strasie te vergemaklik. Hierdie stelsel het tydens die Reformasie ook in die gereformeerde wêreld neerslag gevind. Gemeentes is geografies saam in ringe en sinodes gegroepeer namate die kerk gegroei en uitgebrei het. Dit het weinig met teologie of die Bybel te doen gehad. Met die koms van Jan van Riebeeck in 1652 is hierdie stelsel ook na Suid-Afrika oorgedra. Suid-Afrika en Namibië is mettertyd so opgedeel dat elke vierkante millimeter deel van ’n gemeente, ’n ring en ’n streeksinode uitgemaak het. Die verskillende streeksinodes het in 1962 saam die Algemene Sinode gevorm.

Aanvanklik was die gemeentes aan die Kaap deel van die Klassis (ring) van Amsterdam voordat die eerste gekombineerde vergadering van gemeentes in die Kaap in 1746 plaasgevind het. Dit is egter in 1759 deur die owerheid aan die Kaap afgeskaf. In 1824 het die eer­ste sinode in die Kaap plaasgevind en is ’n kerkverband gevestig. Namate lidmate van die NG Kerk na die binneland gemigreer en daar gemeentes ontstaan het, is hulle saamgegroepeer in die Ring van die Trans-Gariep wat ook deel was van die Kaapse sinode. Hierdie verband is in 1862 deur die bekende Loedolff-saak verbreek toe gemeentes van buite die grense van die Kaap hulle sittingsreg op die sinode verbeur het. Dit het gelei tot die ontstaan van verskillende sinodes vir die Oranje-Vrystaat in 1864, Natal in 1865 en Transvaal in 1866. Dit is opvallend dat grense van hierdie sinodes bloot geografies volgens die verskillende republieke getrek is. Gaan­de­weg het meer ringe en sinodes ont­staan soos wat meer en meer gemeentes ge­stig is. Dit het die grense van die kerk­verband voortdurend gewysig.

Kan die grense dus verander sodat die verband anders lyk? Vir seker. Dit sal die gesprekke egter baie help as ons die geskiedenis oor die ontstaan van die kerkverband in die NG Kerk deeglik daarin verreken.

  • Prof Johan van der Merwe doseer kerk­geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode