Ligloop vir die pyn van 1986

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die NG Kerk het vyf en dertig jaar gelede in die woorde van prof JA Heyns een van die don­kerste oomblikke in haar geskiedenis beleef. Van 20-22 Oktober 1986 het die verslag van die Hersieningskommissie vir Ras, volk en nasie voor die Algemene Sinode in Kaapstad gedien. Die verslag het algemeen bekend geword as Kerk en samelewing. Met Kerk en samelewing het die NG Kerk haar lidmaatskap vir mense van alle rasse oopgestel, kerkdeure na eredienste vir almal oopgemaak, bevestig dat apartheid nie Bybels was nie en dit duidelik gestel dat die “Skrif nie rasgemengde huwelike verbied nie”.

Hierdie besluite het hewige reaksie ontlok. ’n Protesvergadering, wat bygewoon is deur meer as 2 500 beswaarde lidmate wat van oor die hele Suid-Afrika gekom het, het op 28 November 1986 in die Skilpadsaal in Pretoria plaasgevind. Dit was die begin van ’n proses wat op die ou end op ’n skeuring in die NG Kerk sou uitloop. Teen Oktober 1987 het dit geblyk dat 467 gemeentes uit die 1 265 gemeentes van die NG Kerk lidmate aan die nuutgestigte Afrikaanse Protestantse Kerk afgestaan het. Uit ’n totaal van 7 751 lidmate was daar 344 ouderlinge, 256 diakens en 19 predikante wat die NG Kerk verlaat het. Dit was ’n skamele getal uit ’n kerk wat op daardie stadium ver meer as ’n miljoen lidmate gehad het. Syfers kwantifiseer egter nie die pyn wat hierdie gebeure veroorsaak het nie. Gemeenskappe, gemeentes en gesinne is deur hierdie gebeure verdeel en uitmekaar geskeur.

LEES OOK: ‘Welkom’-bordjie beteken nie kerk is werklik divers

Die bekende skrywer Dana Snyman onthou die gebeure van 1986 as pastoriekind goed. Hy vertel hoe sy pa, wat predikant in die NG Kerk was, in die nag knaend by die kombuistafel met die kerkorde en die nuwe beleidstuk gesit het. Hy vertel van al die vergaderings, die beskuldigings, die alliansies wat ge­smee is en hoe die strydende partye mekaar steeds vroom as “broer” aange­spreek het. Hy vertel hoe hy later wou skreeu: “Wat het dit alles met Jesus te doen, Pa?” Hy vertel hoe sy pa uit die NG Kerk bedank het en Ou Mutual-polisse gaan verkoop het en hoe sy ma in daardie tyd haar eerste beroerte-aanval gekry het … Die gebeure van 1986 was nie net ’n tydige kerksuiwering soos wat soms so maklik beweer word nie. Dit was seer.

In 2021 is daar weer ontvredenheid in meer as tagtig gemeentes van die kerk. Dit kom op verskillende plekke op verskillende maniere na vore. Miskien moet die kerk die pyn van die verlede onthou – nie net onthou nie, maar lig­loop daarvoor. Ons durf mekaar nie weer verloor nie.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.
Word 'n vriend van Kerkbode