Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die NG Kerk het weer ’n Stormkompas nodig

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Die bundel Stormkompas is vanjaar veertig jaar gelede in 1981 gepubliseer. Die publikasie, waar­toe verskeie belangrike teoloë van die tyd bygedra het, wou riglyne bied vir die koers wat ’n roepingsgerigte kerk in die 1980s moes volg. Van die skry­wers wat ’n bydrae gelewer het was prof NJ Smit, prof JA Heyns, prof DJ Bosch en dr FE O’Brien Geldenhuys. Die hoofrede vir die publikasie was die feit dat kerkleiers en teoloë bewus geword het dat die kerk toenemend geïsoleer geraak het en dat dit maklik kon gebeur dat die kerk totaal irrelevant word in ’n vinnig veranderende Suid-Afrika. Aan die einde van die boek is 44 stellings gepubliseer wat groot reaksie ontlok het. Daarin is onder meer gesê:

  • Die kerk moet staan of val by die Woord alleen.
  • Die eenheid van die kerk is nie ’n oortollige luuksheid nie.
  • Onversoenbare verhoudings en rassisme is nie aanvaarbaar nie en die kerk moet leiding neem om dit te bely.
  • Die kerk as instelling het die soms pynlike verantwoordelikheid om die lig van God se Woord op die samelewing te laat val.
  • Dit sou beteken dat die kerk nie onverskillig kon staan oor die regering se beleid van apartheid wat miljoene swart mense in ellende gedompel het nie.

LEES OOK: Kairos in die Kaap: ‘Skeuring is nie ’n opsie’

Terwyl daar al meer gesê word dat Suid-Afrika sy morele kompas onder die ANC-regering verloor het en dat korrup­sie op alle vlakke van die samelewing die land soos ’n beleid van verskroeide aarde verwoes, wil dit lyk asof die NG Kerk deur teologiese binnegevegte van binne en die Covid-19-pandemie van buite verlam word. Alhoewel die konteks radikaal van die tagtigerjare van die vorige eeu verskil, kan dit maklik gebeur dat die kerk ook in hierdie tyd vir baie lidmate totaal irrelevant raak. Is eredienste nog belangrik, hoe treur gemeenskappe kol­lektief oor die verliese van die pandemie, hoe kies gelowiges vir of teen inenting, hoe reageer gelowiges op bendegeweld en plaasmoorde, hoe praat gelowiges oor en wat doen gelowiges aan die groeiende armoede in die land? Dit is maar enkele vrae wat daagliks gevra word.

Alhoewel die publikasie van Stormkompas destyds self ’n storm in die kerk ontketen het, het dit ongetwyfeld gehelp om ’n nuwe koers vir die NG Kerk in die storms van die tyd te bepaal. Miskien het die NG Kerk weer dringend ’n stormkompas nodig sodat die kerk gewone lidmate kan help om as gelowiges in hierdie land rigting te vind.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top