In die teenwoordigheid van die Allerhoogste deur Stephan Joubert
Uitgewer: Luca, 2021
Resensent: Rethie van Niekerk
In die teenwoordigheid van die Allerhoogste is ’n jaarprogram wat gelowiges wil help om rus te vind in die teenwoordigheid van God. Joubert sê dat dit nie dagstukkies of ’n geestelike kitsresep is nie, maar ’n handleiding vir die inoefen van geestelike dissiplines.
Wat hierdie stewige werk egter bied, is ’n sterk fokus op Christelike deugde, eerder as die klassieke geestelike dissiplines.
Lees ook: Alle jongste boekresensies
Veral nuwe gelowiges, of mense wat voel dat hulle al vir jare in hulle geloof voortploeter, sonder dat dit werklik ’n impak maak op hulle lewenswyse, sal baie baat vind by hierdie 365 daaglikse oordenkings. Wat Joubert hier bied, is ’n goeie inleiding tot die Christelike lewe. As jy in 2022 weer jou geloof ’n prioriteit wil maak, is hierdie ’n goeie beginplek.
Wat ’n mens egter mis, is ’n eerlike worsteling met die kompleksiteite van ’n gelowige se lewe, soos byvoorbeeld met depressie en ander siektes. Juis weens die beloftes wat die inleiding maak, sou ek graag ’n sterker fokus wou sien op die daaglikse oorgawe wat deur geestelike dissiplines ingeoefen word. Geestelike dissiplines leer ons juis leef in afhanklikheid van God. Dit is immers nie gelowiges se keuses of wilskrag wat ons lewe verander nie, maar die genade van God en die krag van die Gees.
Te koop by Lapa.
Ds Rethie van Niekerk is ’n predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.
