Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Jan Grobbelaar vertel van sy broosheid. Foto: verskaf.
Jan Grobbelaar vertel van sy broosheid. Foto: verskaf.

‘Ons sal vir jou glo’

Marileen Steyn in gesprek met Jan Grobbelaar

Ek het al ’n paar keer in my lewe deur Prince Alfred Hamlet gery, maar nog nooit baie oor die plek gedink nie. Ek het gesien dat daar baie pakhuise is en ek is altyd op die uitkyk vir ’n spoedkamera – maar dis ongeveer al.

Jan Grobbelaar bevestig aan my dat dit die manier is waarop baie mense dié dorpie beskou. Dat hulle, op pad tussen Ceres en die gemeenskappie Op-die-Berg, bloot die plek miskyk.

Tog huisves die dorp ’n gemeenskap met groot name in die boerderybedryf en is daar jong mense met ’n breë insig in die lewe. Prince Alfred Hamlet mag ’n klein plekkie wees, sê Jan, maar dit huisves ’n groot gemeente.

En ek kan dit bevestig: Ná my besoek aan Jan, sal ek nooit weer op dieselfde manier na hierdie dorpie kyk nie.

Drie dinge, en toe …

My nuwe beskouing kan onder meer toegeskryf word aan die storie wat Jan my vertel het, sy storie van 2018, die beginjaar van sy bediening hier.

Hy vertel hy het drie dinge gedoen toe hy in die gemeente aangekom het, waarvan die eerste twee so beplan was: Hy het die gemeente daaraan herinner dat hulle ’n familie is. En hy het hulle mekaar laat groet met die voorafkennis dat daar op elkeen se voorkop dieselfde woorde staan: FRAGILE, HANDLE WITH CARE, CHILD OF GOD.

Jan sê dat hy op dié manier die gemeentelede wou help om met sagte oë na mekaar te begin kyk. Hulle moes besef dat hulle almal broos is.

Die derde ding wat Jan moes doen, was onbeplan: Hy moes 30 begrafnisse hanteer, almal binne die eerste ses maande. Wat hom betref, was dit ’n kerngebeure in sy storie met die gemeente. Só is ’n spesiale band tussen hom en die gemeentelede gevorm. Hier het hulle almal broos geword, bewus daarvan dat hulle afhanklik is van mekaar. En só het hulle op ’n spesiale manier vir mekaar leer omgee.

Twee jaar later het Covid-19 die gemeente getref. Aanvanklik was die invloed van die pandemie op die gemeenskap betreklik gering. Die boerderygemeenskap het grootliks met hul lewe en dagtaak voortgegaan. Daar was wel nood, met dorpsmense wie se werk in die gedrang gekom het en die toerismebedryf wat swaargekry het.

Daarom het die gemeente veral op die voorsiening van kos gefokus, onder meer deur sopkombuise. Jan vertel dat die gemeenskap en gemeente se hand hiervoor oop is, dat hulle na buite gerig is en erns maak met noodverligting.

Die gemeente, vertel hul dominee, is terdeë bewus van waaroor die lewe werklik gaan en wat regtig belangrik is. Die pandemie het mense gestroop van ’n klomp dinge waarin hulle aanvanklik betekenis gesoek het.

’n Tragedie, en nog een

Die jaar 2020 het wel met baie verliese gepaardgegaan. Veral die Kalahari-brandtragedie wat tien lewens uit drie gesinne geëis het, het ’n ontsettende invloed op die gemeenskap gehad. Twee van hierdie gesinne is in Jan se gemeente, maar die verhoudings in dié streek is so heg dat die verlies van elke lewe vir die gemeenskap ’n bitter saak is.

Die reaksie op dié ellende, ook landwyd, was egter buitengewoon. Mense van regoor Suid-Afrika het gebel en gesê hulle bid vir die betrokke families, vir die gemeente en vir die dominee.

Te midde van die eiesoortige uitdagings wat die pandemie aan prediking en pastoraat gestel het, moes Jan ’n pastor vir ’n gemeenskap wees wat ’n diep seer beleef het. Hy moes ook op ’n besonderse manier by die plaaslike laerskool betrokke raak, waar die kinders vrae oor God en lyding begin vra het.

“Dit was ’n hartseertyd vir die gemeente,” vertel hy. “Ons was wel ook bewus van God se trou.”

Toe tref nog ’n tragedie die gemeente en hul dominee: Kort ná die Kalahari-brand is Jan se vrou met beenmurgkanker gediagnoseer. In dié tyd van groot broosheid het die predikantspaar egter ook die seën van die gemeente se omgee beleef. Gemeentelede het Jan se woorde aan hulle geëggo: God los nooit sy kinders nie.

‘Óns sal vir julle glo’

Een van die lidmate het Jan aan die Evangelieverhaal herinner van die verlamde man wat deur die dak laat sak is, en wat op grond van sy vriende se geloof gered is. “Julle hoef nie nou te glo nie,” het dié lidmaat gesê, “óns sal vír julle glo.”

Hierdie soort ondersteuning het Jan en sy gesin gedra. Hy vertel hy het ook diep bewus geword van hoe God troos, en hoe Hy bepaalde omstandighede gebruik om mense aan sy trou te herinner.

Jan vertel ook van die vreugde wat hy in dié tyd ervaar het. Sy kinders uit Johannesburg het by hulle kom woon, en hy vertel met ’n glimlag van die goeie dae, die gehaltetyd, wat hulle saam kon geniet.

“Ek wou nie op ’n ander plek as hiér wees nie,” vertel hy.

 

Nederig, sag.

Broos.

Só sit Jan Grobbelaar voor my en praat met liefde in sy stem oor die gemeente en gemeenskap waarvan hy deel is. En oor sy dankbaarheid om in hierdie buitengewone tyd deel te wees van die gemeente se geskiedenis.

’n Tyd vol broosheid, ja, maar ook ’n tyd waarin God getrou gebly het.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top