Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Jana van den Munckhof praat oor bewustheid. Foto: Verskaf

‘Ek het die rustigheid dat dit oukei is – al is dit nie oukei nie’

Marileen Steyn in gesprek met Jana van den Munckhof

Haar huis is presies soos ek verwag het dit sal wees: Dis warm en verwelkomend, daar is baie kunswerke, alles is interessant belig. Haar boekrak is vol klassieke letterkunde.

As jy omdraai en jou kop effens kantel, sien jy die punt van die Paarl se Toringkerk se kerktoring. Dis hier waar Jana predikant is.

Drie dominees, een huis

Hier in die Paarl – “waar die hoenders van die hitte vrek!” – is Jana een van drie leraars. Met haar twee kollegas ongeveer net so oud soos sy. Met die aanbreek van die grendeltyd het dié drie sommer by mekaar ingetrek.

Ek vra haar hieroor uit en sy glimlag. Hulle is kollegas, en hulle is vriende. Met hul uiteenlopende persoonlikhede en al het hulle besluit om saam te span teen die eensaamheid. Hulle het gekies om eerder mekaar se streke te trotseer.

“Dit was ’n goeie besluit,” vertel sy. “Veral met die eiesoortige uitdagings wat die gemeentebediening én die betrokkenheid by die gemeenskap in daardie tyd aan ons gestel het.”

Maar voor die koronavirus toegeslaan het, het hulle drie reeds besluit om met video’s en sosiale media te begin eksperimenteer. Toe die eerste grendeltyd aanbreek, het hulle reeds al die toerusting gehad wat hulle benodig het. Toe kon hulle na hartelus “speel” en elk op ’n eie manier kreatief wees.

In dié tyd het hulle boonop met groter doelgerigtheid by die gemeenskap betrokke geraak deur onder meer by groter netwerke in te skakel om kospakkies te versprei en ’n mentorskapprogram in die plaaslike hoërskole te loods.

Met drie dominees in die huis was dit egter moeilik om nie sewe dae per week en 24 uur per dag te werk nie. “Ons het probeer om ander dinge te doen,” vertel Jana. “Ons het fliek gekyk – maar dan sien iemand iets raak en kry ’n idee en dan spring ons almal eers op en gaan doen dit.”

Hulle het nietemin probeer om bewustelik ritme in hul dag in te bou om sodoende te verseker dat hulle nie nét werk nie. Hul oefentyd was belangrik. Elke oggend het hulle in ’n ry ingeval en vyf kilometer gehardloop – om en om Jana se agtertuin. Boonop soms met kragoefeninge daarby!

Baie tyd om te dink

Jana het haar eie ritme en roetine gevolg. Sy het streng gewaak oor haar meditasie- en stil word-tyd.

Lees vorm ’n belangrike deel van Jana se groeiprosesse, maar sy het gou besef dat Covid-19 nie noodwendig meer kennis van haar vra nie; eerder dat sy haar spiritualiteit meer beliggaam en dit begin toepas.

Alhoewel sy baie lief vir mense is, eis Jana se persoonlikheid gereeld tyd om gebeure en gewaarwordinge te verwerk. Dit was dus vir haar ’n uitdaging om deurentyd mense om haar te hê. Tog, vertel sy, het sy baie in haarself gedoen gekry.

Aangesien daar eensklaps baie tyd was om te dink, het Jana bewus geword van sekere sake in haarself wat aandag nodig gehad het. So het sy begin om dit daadwerklik aan te pak. En sy het begin om bewustelik meer vanuit haar spiritualiteit te leef.

Die hulp van Jana se geestelike begeleier, met wie sy in dié tyd via Zoom gekommunikeer het, was vir haar van onskatbare waarde. Dié begeleier se taak was om haar deurlopend bewus te hou van die plekke waar sy God sien of ervaar in alles wat sy beleef.

Waar sien sy God?

Sy dink ’n ruk lank rustig hieroor na, en antwoord dan dat dit nie vir haar gaan oor die besonderhede van waar God is nie, maar oor die beginsel. “Dis om te besef dat God op die mees basiese vlak teenwoordig is: te midde van alle omstandighede, al die situasies in die wêreld, die kerk, in myself.

“Dan is die vraag: Waarvan wil Hy my in dié situasie bewus maak?”

Tussen die boom en die bas

Jana reken dat predikante ander mense moet help om bewustelik na te dink oor die ruimtes waarin hulle hulleself bevind. Om bewus te wees van wat in hulle aan die gebeur is.

Sy verwys na liminaliteit, daardie tussenin-periodes, die tye van “tussen die boom en die bas” wees.

Baie mense is ongemaklik met sulke tye, sê sy, soos dit ook in die afgelope jaar duidelik geblyk het. Mense soek sekerhede en vastighede. “Ek ervaar by baie dat hulle glo 1 Januarie gaan aanbreek en dat alles dan weer normaal gaan wees. Of ten minste baie anders as wat die afgelope jaar was.

“Die vraag is nou wat gaan gebeur as 2 Januarie ons tref.”

Jana reken dat die kerk die opdrag het om mense te help om langer in die onsekerheid van die tussenin-ruimte te vertoef. “Ons moet daarvan bewus wees dat God ook in so ’n ruimte naby is.

“Ons moet bewus wees van die ruimte waarin ons ons bevind, en dat dit oukei is. Dat dit wat ek beleef nie vreemd is nie. Dat ek nie alleen is nie. Dié wete sal ons help om dit alles te hanteer.”

Vanweë hierdie soort introspeksie, en die versekering van God se teenwoordigheid in liminaliteit, sê Jana dat sy op ’n beter plek is as aan die begin van die pandemie. “Ek het die rustigheid dat dit oukei is – al is dit nie oukei nie.”

Alles is oukei, ook in ’n tyd soos dié.

En dit sal oukei wees, ongeag wat voorlê.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top