Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Deon Beyers praat oor leer. Foto: Verskaf

‘Elke nuwe fase is ’n tyd om iets nuuts te leer – positief óf negatief’

Marileen Steyn in gesprek met Deon Beyers

Hier staan koeie wat vreedsaam op lang, immergroen gras wei. Die boere besproei intensief, die water lóóp. Dit lyk boonop asof almal hier rond groen vingers het.

Ek ry verby die bekende landbouskool op pad na die NG gemeente Riversdal-Wes. Hier sal ek Deon ontmoet. Op die hoek van die kerkterrein staan in groot letters geskryf: “Vertrou die Here in uitdagende tye.”

Dié getuienis, verneem ek spoedig, is al voor die uitbreek van die pandemie daar aangebring. Dis gegrond in Psalm 23 wat die gemeente van Januarie tot Maart oordink het. Die reeks is met ’n nagmaal op 16 Maart afgesluit.

“So lyk die Here se humorsin,” sê Deon toe hy my hiervan vertel.

“Dankie”

Maar nou, soveel maande later, kan die gemeente terugkyk en inderdaad sien dat die Here sorg. Dat dié woorde die ideale tema vir 2020 was.

Ten spyte van Covid-19 was 2020 ’n goeie jaar vir die omgewing se boere. Daar het besonder baie reën geval, met sommige gebiede wat die beste reënval in 27 jaar aangeteken het. Riversdal se boere wat met koring, gars, canola, skape, beeste en verskeie groentesoorte boer, was uiters geseënd.

“Te midde van al die swaarkry is daar soveel om voor dankie te sê,” vertel Deon. Daarom het hy die woord “dankie” gebruik om oor verskeie temas te preek – oor God se aard; God se teenwoordigheid as Immanuel; die oproep om nogtans in die Here te jubel, selfs al gaan dit swaar.

‘Die wonderlike van dié reis’

Deon glo daarin om altyd planne te maak, en die afgelope jaar het hom uitgedaag om juis dit te doen. Hy moes nuut dink oor homself én oor die gemeente.

Dit was ’n tyd waarin hy opnuut moes onthou dat hy nie in beheer is wanneer hy met mense werk nie. Dat hy steeds met verwagting en hoop die toekoms kan ingaan.

Op verskeie vlakke was dit ook ’n slegte tyd, sê hy. Mense het die dood van naby beleef, die ingehoktheid het hulle sleg getref, vir baie was daar groot uitdagings by die werk.

Deon beskryf die manier waarop veral die bejaardes geraak is as ’n tragedie. Juis vanweë die “opsluiting” van die ou mense het die gemeente probeer om ouer alleenlopers met mekaar in verbinding te bring. Hier was WhatsApp tot groot nut.

“Die pandemie,” sê Deon, “het ons kom wys dat ons mekaar nodiger het as wat ons gedink het. Dit was ’n stem teen materialisme en individualisme, en die gelowige het besef dat die Here ons as verhoudingsmense gemaak het.”

Te midde van al die slegte dinge was daar dus ook die goeie. “Dit is of lyk dalk net anders as wat jy geleer het.”

En dis die wonderlike van die reis waarop die Here met hom en met ander gegaan het. “Jy het dinge in jouself ontdek waarvan jy voorheen nooit geweet het nie.”

‘Vier soorte’

Deon tree oor ’n jaar of wat af. Hy bly lief vir leer, hy wil tred hou met die jongste denke en vaardighede. Hy lees wyd, sê hy – nie om die wiel te herontdek nie, maar juis om te leer. Die afgelope jaar het heelwat leergeleentheid gebring, onder meer om vertroud te raak met tegnologie. Maar ook om hom beter op die komende aftrede voor te berei.

Volgens Deon het die pandemie tot gevolg gehad dat hy vier soorte lidmate kon identifiseer: Daar is diegene wat doodgewoon nie die kerk nodig gehad het nie; daar is dié wat die kerk dalk vir iets soos die kategese “gebruik”, maar andersins apaties staan; daar is dié wat vanweë gesondheidsoorwegings te bang is om in te skakel; ten slotte is daar diegene wat by die kerk se werksaamhede betrokke is en bly.

Dis die kontak met laasgenoemde groep, selfs al was dit bloot deur middel van WhatsApp, waarvoor hy groot waardering het.

Brood-en-botter-teologie

Deon se persoonlike uitdagings in die grendeltyd het hoofsaaklik gewentel om die feit dat drie generasies – hy en sy vrou, die kinders en die kleindogter – in een huis saamgewoon het.

Dit was nietemin ’n goeie ervaring, een wat hom meer van die kinders se leefwêreld geleer het as wat hy ooit andersins sou kon. Dit boonop in ’n tyd wat hy nie sy ander kinders, wat oorsee woon, kon sien nie.

Deon sê dit was vir hom relatief maklik om in dié uitdagende tyd staande te bly. “Dit is wie ek is.” Hy is nie afhanklik van wat ander dink, sê of doen nie.

Hy is nietemin baie dankbaar vir goeie vriende. En vir sy vrou . Sy was vir hom soos ’n lewenslyn. “En sy is my beste pel,” sê hy. “Ons ken mekaar reeds 55 jaar.”

Wat gaan jy daarmee doen?

Sy teologiese beskouings het die afgelope jaar baie meer na die praktyk geneig. “Dinge moet grondvat,” sê hy. Hy praat oor mense se behoefte aan ’n soort “brood-en-botter-teologie”.

Hy is lief vir leer, beklemtoon hy. Dis volgens hom deel van sy roeping om aan te hou leer. “Elke nuwe fase is ’n tyd om iets nuuts te leer – positief óf negatief. Maar uiteindelik is die vraag wat jy gaan doen met wat jy leer.”

Hy vind die lewe se “wow!”- oomblikke juis in die kere wat hy onverwags by mense, gebeure en situasies kan leer.

Hy sê dis wanneer jy gekonfronteer word met wat jy graag vir ander wil leer dat jy die voorreg het om dalk ook jouself te leer.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top