Marileen Steyn in gesprek met Caro Botha*
Sy het baie gespanne voorgekom toe ek haar die eerste keer gesien het. Aanvanklik het ek gedink dis omdat sy haastig was, maar later het ek beter verstaan.
Ons sit in ’n kafee met plastiek om die aansitruimte, een van Covid-19 se gevolge. Sy is eintlik op siekteverlof, vertel sy. Sy is amptelik “uitgebrand”.
Toe verstaan ek ook die opgetrekte skouers, die veraf kyk, die hand wat elke dan en wan deur haar hare getrek word. Die sug wat die stiltes in die gesprek vul.
Ek voel sleg dat ek met die afspraak deurgedruk het, maar sy sê dis oukei. Skielik wonder ek of juis dit nie iets belangriks van haar verklap nie – hoe sy ’n afspraak nakom wat sy maklik kon afstel.
Politieke wil
Caro bestempel haar ervaring van Covid-19 en die grendeltyd as “skokkend” en “onwerklik”. Sy sê die regering se stappe het ’n onmiddellike impak op die samelewing gehad, en sy verwonder haar daaroor dat daar skielik, in hierdie uitsonderlike omstandighede, die politieke wil vir verandering was.
Vanuit haar konteks as predikant in ’n gemeenskap wat in minder gegoede omstandighede leef, is sy verstom om te sien watter soort verandering kan intree as daar ’n politieke wil daarvoor is.
Sy laat hierdie gedagte by my, saam met dié onuitgesproke vraag: Wat sal gebeur as so ’n politieke wil ook na ander dinge kan oorvloei?
Nood en verligting
“Ons doen wat ons kan,” sê Caro oor haar gemeente se reaksie op die pandemie. Sóveel weerloses is só hard getref …
Die Donderdag voor die grendeltyd begin het, vertel sy, het hulle kospakkies aangekoop en hul noodleniging uitgebrei om die gemeenskap te bedien. Hulle het dit “bloot gedoen, sonder vrees”.
Sy het saam met ’n span vrywilligers gewerk wat meer as 100 mense aan kos gehelp het. En hierdie kombuis het vir baie ’n pastorale ruimte geword.
Toe van die personeellede positief vir die virus getoets is, is die projek tydelik gestaak. “Almal wat positief getoets het, het dit darem oorleef,” sug sy.
Ná die heropening was daar egter minder vrywilligers as voorheen en die druk op Caro self was soveel groter.
Tog het dit goed gevoel, vertel sy, om te weet dat sy besig is om ’n verskil te maak. Om iets sinvols te doen, al is dit klein. Wat haar betref was die gemeente se noodlenigingprojekte ’n mooi sukses.
Traumaties
Die res van haar bediening het heelwat uitdagings gebied. Die gemeenskap, wat nie toegang tot data het nie, moes op alternatiewe maniere bedien word. Aanvanklik het dit heel goed gegaan, maar mettertyd het dit moeiliker geword. Caro sê sy het in ’n groot mate kontak met die gemeentelede verloor en nie meer geweet hoe dit met hulle gaan en hoe hulle die grendeltyd beleef nie.
Die bediening het ál veeleisender geword.
Caro beskryf haar program só: Elke Sondag se prediking; tien dae se Pinksterpreke; ’n Week van Gebed; die hou van begrafnisse. Veral laasgenoemde was traumaties omdat ’n familie nie ’n siek en later sterwende familielid in die hospitaal kon besoek nie.
In dié tyd het Caro diep bewus geword van die kontras tussen die stil en meer gegoede gebied waar sy woon, en haar gemeentelede se woonbuurt waar daar gedurig mense in die strate rondloop, boonop sonder maskers.
Op dié manier is ook sy, die dominee, voortdurend aan die koronavirus blootgestel. Sy vertel hoe bekommerd haar familie oor haar gesondheid was.
Dit was egter nie Caro se liggaamlike gesondheid wat in dié tyd ingegee het nie; dit was haar geestesgesondheid. Die gedwonge isolasie het mettertyd vir haar ál moeiliker geword. En die druk van haar werk, sonder noemenswaardige ondersteuning van die kerkraad en die groter gemeente, het geweldige spanning tot gevolg gehad.
‘Jy kan nie alles doen nie’
Nadat die inperkings opgehef is, het daar nuwe uitdagings opgeduik. “Al die dinge waarvoor jy as dominee nie opgelei is nie,” vertel sy. En dit het die uitbranding meegebring.
Die ringskollegas en haar sielkundige het tot haar redding gekom. Dis by hulle, vertel sy, dat sy die ruimte gevind het om sonder veroordeling te kon praat, om eerlik oor haar emosies te kon wees.
“Jy weet wat jy moet doen,” sê sy, “maar jy is dikwels so moeg dat jy dit net nie kan toepas nie.” Selfs die retraite wat sy bygewoon het, wat wel van groot waarde was, was nie genoeg om haar teen die uitbranding bestand te maak nie.
Jy kan nie alles doen nie, het sy geleer.
Volgens Caro is dit een van die versoekings waaraan ’n predikant gereeld toegee: om ’n redder te probeer wees. Al die dinge wat die afgelope jaar gebeur het, het haar meer as ooit daarvan oortuig dat predikante nie “almal se redder” kan wees nie. Dat die koste van dié versoeking, veral wat die verlies van jou menswees en jou roepingsbewustheid betref, eenvoudig te hoog is.
Ontnugtering
Om al hierdie redes is Caro juis nou besig om opnuut te besin oor wat haar roeping in die gemeente is. Sy reken dat dit genoeg is om te fokus op wat jou energie gee, maar dat dit moeilik is om dit uit te voer omdat jy graag ander wil tevrede stel.
“Maar jy kan nie jou werk laat bepaal deur ander se verwagtings nie!”
Sy het die hoop – “en dalk is ek naïef” – dat wat sy kan gee, en die fokus op haar spesifieke talente, vir ’n gemeente genoeg kan wees.
En dat die gemeente vir wie dit nié genoeg is nie, dalk nie die regte gemeente vir haar is nie.
Caro sê haar denke oor God is die afgelope jaar op ’n besondere manier uitgedaag. Sy beleef tans ’n ontnugtering oor God, en God se betrokkenheid in die wêreld.
Voorts het haar beeld van God as ’n sterk Vaderfiguur in die gedrang gekom. Dié beeld, sê sy, help nie mense om hulleself te versorg nie. Sy voel bekommerd oor die gebrek aan ’n teologiese model binne die gereformeerde tradisie wat selfsorg en geestesgesondheid ondersteun.
Sy is tans nog op soek na ’n bepaalde teologiese beskouing en ’n bevredigende beeld van God wat wel hiermee kan help.
“Ek bevind my op hierdie soektog,” sê sy. Sy is op ’n reis om nuwe woorde, taal en beelde te vind wat Christene kan help om die barmhartigheid van God beter te verstaan.
Die lewe is meer as bloot oorleef
Wanneer ek die woord “lewe” as die lens vir haar verhaal voorstel, hou sy dadelik daarvan en sy begin om vol oortuiging daaroor te gesels.
Sy praat oor die manier waarop die pandemie aan haar herbevestig het hoe belangrik mense en hul lewe is.
Dis so maklik vir die kerk, sê sy, om só obsessief oor finansies en eredienste te word dat die kerk haar roeping vergeet om tot diens van ’n wêreld en sy seer te wees.
Covid-19 gee egter die kerk die toestemming om te fokus waar die grootste nood is.
Om betekenisvol te lewe
So sit sy hier voor my, besig om te probeer oorleef, en sy praat oor die lewe wat oor meer as bloot oorlewing gaan. In die tyd van die koronaviruspandemie en van allerlei ekonomiese uitdagings, moet predikante juis ’n manier vind om mense te help om betekenisvol te lewe en nie bloot te probeer oorleef nie.
God is by ons lewe betrokke. Die kerk moet ons help om ’n teologie te ontwikkel wat dit kan verwoord.
Ons het meer as bloot oorlewing nodig. Die mens is immers gemaak om te floreer.
* ’n Skuilnaam
