Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Michelle Boonzaaier gesels oor kreatiewe woede. Foto: Elsa van Nieuwenhuyzen.
Michelle Boonzaaier gesels oor kreatiewe woede. Foto: Elsa van Nieuwenhuyzen

‘I was angry, an angry black woman anger’

Marileen Steyn in gesprek met Michelle Boonzaaier

Michelle sit in haar swart rok in die skaduwee van haar stoep. Ons lag en gesels en in my agterkop probeer ek die taal vind om te kan beskryf hoe lig haar persona is, haar menswees.

Ek beleef haar teenwoordigheid as warm. Die manier waarop sy oogkontak maak, is intens.

Ons sweef deur die gesprek. Ek met my botteltjie water, sy met koffie in ’n beker waarop daar staan: Liefde is liefde.

‘Don’t pity the depressed’

Vroeg-vroeg in die gesprek speel Michelle oop kaarte oor die depressie waarmee sy vir ’n groot gedeelte van haar volwasse lewe moes saamleef. Terwyl ons daaroor praat, beleef ek die weerloosheid waarmee sy die gesprek aanpak, en ek waardeer dit.

Terselfdertyd word ek ook deur die krag hierin getref. Daar was ’n oomblik toe sy haar kop geskud en gesê het: “Don’t pity the depressed. There is so much creativity that goes along with it.”

Bewus van die eise wat dié siekte aan haar stel, het Michelle ook geweet dat sy so gou moontlik reëlings moes tref sodat sy op behoorlike ondersteuning tydens die grendeltyd kon reken.

Sy verwys na ’n ondersteuningsnetwerk, na haar geestelike begeleier, na gesond eet – en na haar nuutgevonde liefde vir joga. Sy beskryf laasgenoemde as ’n gawe wat die afgelope klompie jare oor haar pad gekom het.

Uiteindelik het die grendeltyd ’n ambivalente ervaring aan haar besorg: Sy het beweeg tussen haar liefde vir en verlange na mense, en haar behoefte aan haar eie ruimte.

IAM

Michelle vertel hoe sy die afgelope jaar saam met ander weerlose mense kon reis – as programbestuurder by Inclusive and Affirming Ministries (IAM).

So ook in die groter predikantespan by die NG gemeente Brackenfell, waar een van die kollegas in dié tyd aan kanker gesterf het. Om saam met hom in sy laaste maande en weke te kon wees, was vir haar van buitengewone groot waarde.

Michelle sê haar fokus was wel nie bloot op hoe sy ondersteuning vir haarself kon bewerkstellig nie, maar hoe om dit ook vir die personeel van IAM en die mense met wie hulle werk te kon regkry.

Sy is as predikant by die NG gemeente Brackenfell aangestel met die oog op ’n besondere fokus op IAM. Dis ’n nieregeringsorganisasie wat aandag gee aan seksuele oriëntasie en seksuele identiteit in bepaalde geloofs- en godsdienstige ruimtes. IAM ondersteun in die besonder die LGBTQI+ -gemeenskap, en die betrokke families, ten einde hul idees oor seksualiteit en spiritualiteit te integreer.

Die LGBTQI+ -gemeenskap het in die grendeltyd in vele opsigte baie swaargekry. Veral diegene wie se familie steeds onbewus van hul seksuele oriëntasie of identiteit is, asook dié wie se familie dit steeds nie aanvaar nie. Om ondersteuning aan hierdie persone te bied, moes Michelle en haar span nuut dink oor hoe hulle persone sonder slimfone of beskikbare data kon bereik.

Hulle het probeer om hierdie items beskikbaar te stel, en om terselfdertyd kos te voorsien. Asook taxi-geld, sodat die betrokkenes kon reis om hormoonbehandeling te ontvang.

Etlike ander praktiese behoeftes is ook onder hul aandag gebring.

Psalm 139 en woede

Dit was in hierdie soort werkomgewing dat Michelle opnuut bewus geword het van die harde werklikheid van baie mense se lewensomstandighede, hul basiese behoeftes, hul beperkte toegang tot mediese hulp.

“That was quite in your face,” vertel sy. Die kompleksiteit van dié omstandighede het bygedra tot haar latere tamheid en, soos sy dit stel, “a serious dip”.

In dié tyd het Michelle ’n besonderse liefde vir Psalm 139 ontwikkel. Dié psalm, hoewel baie bekend, word selde as geheel gelees. Die verse waarin die digter sy woede verwoord, word byvoorbeeld dikwels bloot oorgeslaan.

Maar vir Michelle was dit juis dié verse wat oor haar gespoel en deel van haar wese geword het. “I was angry,” vertel sy, “an angry black woman anger.”

Dit was nie klag nie, nie lament nie, sê sy nadruklik, dit was woede.

En só het Michelle begin om die psalm oor en oor te lees, met ’n spesifieke fokus op die woede daarin én in van die ander psalms. Sy het vertroosting gevind in die wete dat God haar woede deel.

Jesus se woede

Ons het in ons gesprek lank stilgestaan by wat Michelle bedoel wanneer sy die woord “woede” gebruik.

Eerstens, maak sy dit duidelik, is alle woede nie sleg nie. Sy onderskei byvoorbeeld tussen kreatiewe en destruktiewe woede. Terwyl sy laasgenoemde beskou as iets om voor versigtig te wees, reken sy dat daar ruimte is om “kreatief” kwaad te wees. “It’s not beautiful, but it’s creative.”

Ons gesels oor Jesus se woede in die tempel, en sy woede aan die kruis. Die kruis is vir Michelle nie bloot ’n plek van lyding nie, maar ook ’n plek van woede.

Die probleem, sê sy, is dat ons Jesus se woede te “mooi” probeer uitbeeld. “We reframe anger too quickly.” Ons weet nie regtig hoe om woede te ontvang of wat om daarmee te doen nie, sê sy.

Jesus se woede was egter kreatief, skeppend. Dit het nie afgebreek nie, maar gehelp bou, dit help almal om vorentoe te beweeg.

Dis juis dít wat Michelle wil doen: Sy wil mense help vorentoe beweeg.

Dis nie eenvoudig nie. Sy probeer ’n balans vind tussen aktivisme – haar plek saam met benadeeldes – en die kerk, ’n omgewing wat tipies na aan die bevoordeeldes is.

’n Nuwe rol

Sy het egter hierdie jaar haar rol, onder meer as een van die moderatuurslede van die Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk, ontdek. Op ’n manier wil sy ’n profetiese stem wees, sê sy, en dan vanuit ’n posisie van weerloosheid.

“I am a light, playful person, a frivolous one with questions,” beskryf sy haarself.

Haar uitdaging, verduidelik sy, is om vas te hou aan wie sy is en om terselfdertyd haar stem te gebruik om uit te daag, om te help skep, om kwaad te wees.

’n Deel hiervan is om die kerk te help om weg te beweeg van die soort binêre denke wat die kerk as die “gewer” in gemeenskappe wil beskou. Michelle is diep oortuig daarvan dat die kerk moet leer om ook “ontvanger” te word van dit wat ander het om te gee, en van wie God is.

Michelle, en eintlik die Bybelse psalms, se uitnodiging is dat gelowiges volhou om opreg deel van hierdie wêreld te wees – mét hulle gevoelens van depressie en woede.

Dis eers wanneer ’n mens ook hierdie emosies na waarde skat, herinner sy my, dat ons die waarde van al die ander emosies, soos ons dit in die ander verse van Psalm 139 leer ken, werklik kan waardeer.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top