Marileen Steyn in gesprek met Gert Nothnagel
As jy iewers tussen Uniondale, Oudtshoorn en George verdwaal, beland jy dalk net mooi op Gert se voorstoep in Herold.
Is jy dan nie seker of dit wel sy huis is nie, gaan staan op die stoep en kyk voor jou uit oor die tuin voor die kerk. As jy gelukkig is, mag jy dalk van die lieflikste rose sien wat jy al ooit teëgekom het.
Dis nie net rose wat in hierdie omgewing pronk nie. Hier, op die naat van die Tuinroete en die Karoo, word daar met byna enigiets geboer: van proteas tot volstruise, van sybokke tot kiwivrugte. Daar is ook hops, koring, neute, bees- en skaapvleis en allerlei vrugte.
Die boerderye het wel die afgelope jaar swaargekry. Afgesien van die droogte, het die koronaviruspandemie die uitvoermarkte omvergewerp. Die gemeenskap het dus ’n moeilike tyd agter die rug.
‘Die rofste jaar in my lewe’
Gert self het dit nie maklik gehad nie. “Dit was die rofste jaar in my lewe.”
Hy beskryf 2020 as die jaar van “’n perfekte storm”. Daar was die vier jaar lange droogte wat die gemeenskap emosioneel gedreineer het en almal onder finansiële druk geplaas het.
Dit was ook die tyd waarin sy en sy vrou se paaie geskei het.
En, les bes, die pandemie. Met laasgenoemde wat dalk hanteerbaar kon wees as dit nie was vir al die ander faktore wat soveel spanning meegebring het nie.
“Dit het my op ’n persoonlike reis geplaas wat ál my krag geverg en my uiteindelik emosioneel gedreineer het. Ek kort ’n vakansie.”
’n Wonderskone wêreld
Dis hier waar ek Gert in Desember 2020 aantref. In Maartmaand was die aanpassings en uitdagings nog lekker.
Hy vertel van die eerste Zoom- en videovergaderings, van die boodskappe wat hy maande lank elke oggend uitgestuur het. Hy praat vol verwondering van die “mense op die kantlyn” wat hy hierdeur kon bereik. “Dit was ’n wow-ervaring.”
Maar vandag erken hy dat hy te veel balle gelyk in die lug probeer hou het. Ná die Julievakansie het hy sy energie verloor – en hy kon dit sedertdien nie weer herwin nie.
Toe hy aan die einde van November lig in die tonnel begin sien het, is die Tuinroete tot brandpunt verklaar en moes alles weer tot stilstand kom.
Gert praat in liefdestaal oor die natuur, oor sy omgewing. Hy kan trouens nie uitgepraat raak oor hierdie beeldskone “ideale bedieningsomgewing” nie.
Die tyd wat hy in dié wonderskone wêreld deurbring, te voet of te fiets, gee hom die geleentheid om asem te skep.
’n Krisistyd
Dis nie slegs die omgewing wat hom bekoor nie; ook die mense lê hom na aan die hart. Die NG gemeente Herold is ’n familiegemeente met 250 gemeentelede. Hier is eet, kuier en saamkom in die hart van alles wat die gemeente doen. Dit vorm as ’t ware die wese van hul kerklike aktiwiteite.
Dis dus te verstane dat die inperkings wat deur die pandemie genoodsaak is die gemeente swaar getref het. Die boere het grootliks soos altyd voortgegaan, maar die aanpassings rakende kerkwees was ’n groot uitdaging.
Gert is daarvan oortuig dat die gemeente se samehorigheidsgevoel negatief beïnvloed is deur die opskorting van hul normale interaksie.
Die gemeente het ’n sterk huisbesoekkultuur. Gert ry van plaas tot plaas en huis tot huis om kontak met sy gemeentelede te bewerkstellig en te behou. Ook dit moes tydelik opgeskort word. “My hele bedieningstyl,” sê Gert, “is op sy kop gekeer.”
Vir Gert die ekstrovert was dit nie bloot ’n bedieningskrisis nie, dit was ook ’n persoonlike krisis. Persoonlike kontak met ander is vir hom ’n bron van energie. Nou, afgesny van die gemeentelede, werksaam in ’n eenpredikantgemeente in ’n afgeleë dorpie, het isolasie in werklikheid sy “nuwe normaal” geword.
Tog praat hy oor goeie verhoudings en die goeie samewerking wat hy ten opsigte van leierskap beleef het. Daar was die waarde van die webinare wat hy beleef het, en verskeie kursusse. Asook die briewe van ondersteuning vanuit die Wes-Kaapse sinodale kantoor.
In die woestyn
Die man wat voor my sit, is ’n aangename persoon. Hy lag baie – maar hy is opsigtelik moeg. Baie moeg. In hierdie tyd worstel hy nie net met uitputting nie, maar ook met diepe geloofsvrae.
Hy is terdeë bewus van die harde werklikheid van dié woestyntyd. Nietemin gesels ons saam oor God wat voorsien. Die God van kwartels en manna en water uit ’n rots. Die teenwoordige God in die vuur- en wolkkolom op ’n moeilike pad.
“Dalk is dit die pad wat die Here met ons stap …?”
Hy wonder hardop: “Die Here bring ons dalk deur donker of ongemaklike plekke om potensieel ’n dieper verstaan van Hom te kan hê.”
Gert weet wat die waarde van die woestyn behoort te wees en hoe ’n geloofsperspektief op ’n woestynverblyf behoort te lyk. Hy bevind hom egter tans te naby daaraan om werklik perspektief daarop te kan kry.
My besoek aan Gert staan uit as ’n hoogtepunt in my gesprekke met die dominees. Dis deels omdat ek hierdie beeldskone, vrugbare omgewing deur sy oë kon ontdek. En deels omdat ek ’n rukkie saam met hom in die woestyn kon vertoef.
