Marileen Steyn in gesprek met Kobus Prinsloo*
Ek het hom leer ken deur wat mense oor hom gesê het. Sy gemeentelede, byvoorbeeld, wat my herhaaldelik vertel het: “Hierdie dominee is nie soos ander dominees nie.”
‘Dis nie wie ek is nie’
Toe ek hom sien, het ek geweet hy lyk beslis nie na die stereotipiese dominee nie. Maar toe hy begin praat, was dit met die deernis van ’n dominee wat oneindig lief is vir sy gemeente. Hy sê mooi dinge oor die mense wat hy bedien, oor die “wonderlike skriba” saam met wie hy werk, en oor sy verlange na die samesyn van die gemeenskap van gelowiges en die samesang in die erediens.
Hy is nie lief vir WhatsApp-preke nie. “Dis onpersoonlik. Dis nie wie ek is nie en dit het my gekortwiek, al het die gemeente dit as goed beleef.”
Wat hom die moegste gemaak het, vertel hy, was dié dat hy pastoraat oor die foon moes doen. Die gemeenskap is deur ’n buitengewoon moeilike tyd, ook as gevolg van grondeise. Dit het hom eindeloos gefrustreer dat hy nie saam met sy mense kon sit en gesels nie.
Dit alles laat hom ook skuldig voel, omdat hy nie kontak kon maak soos hy graag sou wou nie.
“Hoe kan ek nou ooit inhaal?” sug hy. “Waar moet ek nou vat, en waar moet ek los?”
Vergaderings
Hy is nie lief vir vergaderings nie. Hy praat oor hoe die koronaviruspandemie en al die gepaardgaande beperkings getoon het dat vergaderings onnodig is. Hy sê hy het sommer besluit om vergaderings voortaan af te skaal, om dit net te hou indien daar ’n tasbare gevolg kan wees.
Kobus kan wel nie uitgepraat raak oor die vergadering van die gelowiges nie. Dit was vir hom bitter sleg dat die gemeente die afgelope tyd nie kon bymekaarkom nie, nie kon kuier nie.
Die gemeentelede het dit ook gemis.
Die geloofsgemeenskap maak vir Kobus slegs sin as mense bymekaar kan kom. Hierdie saamwees word ’n belewenis van mekaar, en dis dikwels van veel groter waarde as ’n preek.
‘In ’n werklikheid ingedwing’
Hy voorsien wel dat die samekoms van gelowiges gaan verander omdat hulle gewoond geraak het aan digitale eredienste. Sommige lidmate, dit besef hy, gaan hy nie weer in die kerk sien nie.
Wat is hieraan te doen?
Die spanning tussen die belang van die samekoms en die groeiende gewildheid van digitale eredienste is ’n werklikheid. “Koinonia, geloofsgemeenskap, vind nie net in die erediens plaas nie.”
En digitale eredienste is volgens hom vinnig besig om “die nuwe normaal” te word. Die pandemie het die kerk as ’t ware in hierdie werklikheid ingedwing. Hyself, sê hy, sou nooit ’n digitale bediening aangedurf het as dit nie vir die grendeltyd was nie.
As Kobus oor die koronaviruspandemie praat, praat hy van frustrasie, van aversie, van ’n gevoel van hulpeloosheid omdat hy nie kon doen wat hy wou en moes doen nie. Hy praat van onsekerheid en van “’n sleg tyd.”
‘Miskien is daar hoop’
Wat hom in dié tyd staande gehou het, was sy vriende en sy familie. En ’n basiese lewensfilosofie: “Doen wat jou hand vind om te doen, en gaan net voort.”
Kobus se hand het preke en ander boodskappe gevind. Dit het hom gedwing om stil te word, ja, maar dit het hom, die ekstrovert, ook die geleentheid gegee om dit wat hy gehoor of beleef het met ander te deel. En so saam te groei.
’n Volgende lewensfilosofie waarvan Kobus my vertel, is een wat op Klaagliedere 3:24 en 29 gebaseer is. Dit lui só: “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom … miskien is daar hoop.”
Hy sê hy hou van die spanning tussen die skrywer se hoop en sy gebruik van die woord “miskien”.
Hoe verstaan hý hierdie hoop?
“Die Here sal op sy eie manier sorg. Dis nie noodwendig ’n magiese oomblik nie; dit kan loutering ook wees.”
Die afgelope jaar het Kobus die loutering aan sy eie liggaam gevoel, hoofsaaklik omdat hy van die geloofsgemeenskap verwyder gevoel het.
Maar die Here leef. En, wie weet, miskien is daar hoop …
*Skuilnaam
