Marileen Steyn in gesprek met Jana Dickason
Ek was by toe Jana gehoor het dat sy na die NG gemeente La Rochelle beroep is.
Ek het lanklaas iemand gesien wat so bly is. Sy was baie opgewonde om deel te word van hierdie makrogemeente se hegte span.
‘Waar vat jy en waar los jy?’
Intussen het ons mekaar al ’n hele klompie keer gesien – die mees onlangse toe Jana op Facebook in ’n tutu voor ’n kamera verskyn het, besig om ’n boodskap vir kinders oor te dra.
Dis nou al twee jaar sedert sy beroep is, maar Jana voel asof sy nog nie lank by die gemeente is nie. Ná haar kraamverlof in 2019 was sy maar twee maande terug by die gemeente toe die pandemie toeslaan.
Ná haar terugkeer was haar fokus op die vestiging van verhoudings, om weer op hoogte van sake te kom en om huisbesoek te doen, maar te gou moes sy, soos haar kollegas, voor ’n rekenaarskerm gaan sit.
Die jeugbediening, waarvoor Jana verantwoordelik is, het nie tot stilstand gekom nie. Hiervoor het Jana sosiale media en doodgewone telefoongesprekke gebruik. Een van haar groot uitdagings was, in haar eie woorde, om te weet waar jy begin en waar jy stop.
“Waar vat jy en waar los jy by die bediening aan die jeug?”
Emosionele grense
Jana het dit geniet om saam met haar span kollegas te werk. Hulle het soggens saam via Zoom vergader, en ook begin om meer saam te bid.
Ten spyte van die hegte bande, moes hulle uitwerk waar hulle met mekaar moes ophou en waar hulle weer moes voortgaan.
Hiermee verwys Jana na elkeen se emosionele grense, en die vaardigheid om te weet wanneer jy die ander ’n blaaskans moet gee. Hulle het moeite gedoen om ruimtes te skep waar hulle by mekaar weerloos kon wees en waar hulle vir mekaar “stop!” kon sê.
Dis dinge wat sy werklik van haar kollegas waardeer. Almal het probeer help. Almal het gedoen wat hulle kon.
‘God se sorg is altyd sigbaar en teenwoordig’
Op ’n persoonlike vlak was die jaar vir Jana baie uitdagend. Om met ’n vier maande oue baba en ’n vyfjarige peuter die grendeltyd te moes deurmaak, was nie eenvoudig nie. Haar man, ’n onderwyser, het nie ophou werk nie.
Gelukkig was daar mense in haar omgewing – haar man wanneer hy tuis was, haar ma, haar kollegas wat vol begrip was – wat alles draaglik gemaak het.
Om egter haar werkverpligtinge en die sorg vir haar kinders met mekaar te probeer balanseer, was ’n uitdaging soos min. Soms het sy gevoel dat sy haar kinders afskeep.
Die hoop dat dié uitdagende tye en omstandighede sal verbygaan, het Jana gedra. “Die Here se werk gaan voort; Hy is nie van ons afhanklik nie.”
Sy wonder hardop of sy nie dalk naïef is nie, maar, sê sy, sy het tog beleef dat Christene die grendeltyd anders as vele ander mense beleef het omdat hulle op die Here vertrou het.
“God sal my nooit alleen los nie. Hy is my hoop.” Dit was ook die getuienis van gemeentelede wat nie so gou moedeloos geword het nie.
“Ons gemeentelede het ons gedra en ondersteun,” vertel sy. Die afgelope jaar het haar dus grootliks dankbaar gelaat.
Sy wonder hardop of predikante nie soms te nonchalant oor die alledaagse dinge dink en te blasé geraak het nie. Die isolasie-tye het hulle dalk met ander oë laat kyk, met nuwe oë dié dinge en dié mense laat raaksien waaroor hulle dankbaar kon wees.
“God se sorg,” sê sy, “is altyd sigbaar en teenwoordig. En soms vergeet ons dit.”
In die afgelope jaar het sy gepreek oor die manier waarop God steeds God bly, al kry mense swaar. “God verander nie,” het sy gesê. Sy het gelowiges aangemoedig om mekaar te versorg en mekaar se arms omhoog te hou.
‘Jy moet prioritiseer’
Jana is dankbaar vir die platform wat die pandemie gebring het wat meegehelp het dat meer lidmate inskakel. Dit het haar nuwe doelwitte gegee en nuwe drome oor die bediening laat droom.
Haar roeping, vertel sy, eindig nie by die prediking nie. God het haar ook ander talente gegee, en sy het etlike ander belangstellings.
Sy praat oor balans in die bediening en hoe sy sukkel om soms ook tot stilstand te kom. Die stilhou-oomblikke wat daar was, het wel daartoe gelei dat sy meer kon ontdek en beter kon sien.
“Jy moet prioritiseer,” sê sy. “Al het jy ’n goeie idee, gaan die wêreld nie vergaan as jy dit nie dadelik deurvoer nie.”
Sy het in dié tyd gesukkel om haar persoonlike- en haar beroepslewe van mekaar te skei. En sy het gesukkel om te weet wanneer om halt te roep as haar perfeksionisme die oorhand kry wanneer sy video’s gemaak het.
Sy is wel onvoorwaardelik dankbaar vir die ekstra tyd wat sy saam met haar man kon deurbring.
Jana wonder hardop oor die drome wat Christene vir die lewe anderkant die pandemie mag hê. Dis ’n toekoms wat sy sonder twyfel met alles in haar sal najaag.
Maar as ek so na haar luister, vermoed ek dat Jana ook so elke af en toe sal onthou om tot stilstand te kom.
