Marileen Steyn in gesprek met Janlu Kuyler
Robertson is bekend vir vrugte – en vir wyn. Hoe gepas is dit dan dat Janlu, die predikant by Robertson Moedergemeente, se huis in ’n wynplaasstyl gebou is! Dis ’n groot, wit huis met ’n prieel wat die paadjie na die voordeur omsoom.
Die studeerkamer is die ene houtwerk, en hier lyk Janlu heel tuis, al het hy relatief onlangs eers die huis betrek.
Gesinsetes en gebedspapiertjies
Ek stel al my vrae aan hom, die een ná die ander, sommer aan die begin van die onderhoud. Hy sit eers lank en dink, en staar so skuins verby my.
Dan begin hy oor sy belewenis van die pandemie praat, en dié van die gemeente.
Vir hom en sy gesin was die tydsberekening perfek. Hulle het persoonlik geseën gevoel deur die tyd wat hulle gegun is om te rus en aan te pas. Hulle kon ’n nuwe ritme in die nuwe huis ontwikkel, een wat drie etes per dag as gesin ingesluit het.
Dit was ook ’n tyd waarin Janlu saam met sy gesin en saam met die gemeente gebid het. Die gesin het die gewoonte van gebedspapiertjies wat hulle lei om vir hulleself, hul familie, die gemeente en die gemeenskap te bid.
God is in beheer
Hul belewenis van die pandemietyd, gee hy toe, is nie dieselfde as dié van die gemeentelede en die breër gemeenskap nie. Die frustrasie, verwarring en onsekerheid wat met die aanpassings gepaardgegaan het, was duidelik waarneembaar. Janlu het groot simpatie met kinders en hul ouers gehad.
Hy vertel wel ook van die naïwiteit wat hy soms teëgekom het by mense wat die virus en die uitwerking daarvan onderskat het.
Hy het doelbewus besluit om nie na nuusuitsendings te kyk of te luister nie. Hy wou homself vrywaar van fopnuus en van die paniek wat in sommige kringe geheers het. “Ek het nie my oë en ore toegedruk nie; ek glo bloot dat God in beheer is.”
Hy sê hy het eerder sy tyd daaraan gewy om vas te stel watter hulpbronne hy tot sy beskikking het om ander te help. Só het hy by ’n kospakkieprojek, saam met die buurgemeente, betrokke geraak. Dit was ’n tyd vol leerprosesse, van kreatiwiteit. Van leer doen wat gedoen moet word.
Stories van hoop
Die gemeente is klein, vertel hy, en dit het bepaalde voordele. Die gemeentelede weet hoe om mekaar te versorg, hulle kon voortgaan om te aanbid en om die Here te dien.
Die opgeneemde preke het vir Janlu stories van hoop geword. Vroeg in die grendeltyd het hy reeds begin om die preke in onkonvensionele ruimtes op te neem. Hy was met die kamera in die berg en by ’n sonsopkoms en, sê hy, dit was vir hom “groot pret”.
Op dié manier het die kerk na die gemeenskap gegaan, en die opnames is wyd gedeel.
‘Die siekes het ’n dokter nodig, maar …’
Janlu vertel dat hy nie vrees of onsekerheid beleef het nie. Dat sy fokus op die groter prentjie gebly het, op die geleenthede wat die Here gee, en op sy stem van genade.
Hy sê hy sidder as hy dink aan die manier waarop kerke in dié tyd lamgelê is. En dit terwyl die Here juis nuwe visie gegee het om Jesus meer sigbaar te maak. Die kerk moet hoorbaar wees, die kerk mag nie vanweë vreesagtigheid toe bly nie.
Volgens Janlu is die Here hartseer en teleurgesteld omdat die kerk met die wêreld vermeng geraak het en vreesagtig word.
Sy gebed is dat mense sal besef dat die lewe tydelik is, dat hulle uiteindelik by die Here sal uitkom en die ewige lewe sal geniet.
Die kerk moes volgens hom juis in 2020 besef dat sy ’n evangeliese mandaat het, en daarom moes aanpas om die Woord tot by mense te bring. “Die siekes het ’n dokter nodig, maar gemeentes is dikwels bloot met die gesondes besig.” sê hy. Hy waarsku teen Satan wat ’n vlak teologie aanpor.
Wat is “diep” teologie dan?
Dis ’n beskouing wat vra dat die kerk in Suid-Afrika en wêreldwyd nie bloot aan ander se wette gehoorsaam bly nie. Dat die kerk, vanuit die geloof dat God in beheer van ons wêreld is, haar stem terugvind.
Dinamiese verkondiging
Die afgelope jaar was ’n tyd van diep delf, van hoop soek en vind. ’n Hoop wat onthou dat God saam met ons stap en by ons is. Dat God in beheer is.
Met hierdie soort hoop in die hart kan alle kerke hul rol vervul om, te midde van buitengewone uitdagings, geestelik gesproke voor te loop. Om die leiding te neem in ’n dinamiese verkondiging van die Goeie Nuus.
Die kerk, sê Janlu, moet haar stem terugkry sodat sy op ’n doelbewuste, berekende wyse iets van Jesus se stem kan laat opklink. Dit behels meer as bloot woorde.
Dis ten slotte die geleentheid om mense tot dieper insig in die wese van God te lei, en om dieper in te beweeg in die aanbidding van God.


