Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Lourens Bester het 'n tuiskoms beleef. Foto: verskaf
Lourens Bester het 'n tuiskoms beleef. Foto: verskaf

‘Ek kan net my bes doen, en dan moet ek die bal aangee – en dis ook orraait’

Marileen Steyn in gesprek met Lourens Bester

Lourens wag ewe rustig vir my in die koffiewinkel.

Ek storm in met my sakke oor my skouers en plak alles neer. In my gejaagde, taakgerigte modus wil ek sommer met die onderhoud begin – maar Lourens herinner my daaraan dat ons tog eers ’n ou drinkdingetjie moet kry voor ons begin.

Toe sit ek terug, en gaandeweg word ek rustig in sy geselskap. Hy praat stadig. Stadig genoeg vir sy woorde om saak te maak.

Wanneer ons uiteindelik met die “ou drinkdingetjie” sit, begin ons gesels. Hy beskryf die afgelope jaar as “’n interessante tyd”. Die Sondag voor die grendeltyd aangebreek het, het Lourens en sy vrou op hul wittebrood vertrek. En daardie Woensdag noodgedwonge teruggekeer.

Verandering

Ten spyte hiervan het hulle die grendeltyd as baie positief beleef, en Lourens praat met groot dankbaarheid oor finansiële standvastigheid, en die manier waarop hulle mekaar geniet en waardeer het.

Sy vrou was die vennoot saam met wie hy die jaar kon aanpak. Hulle het rustig saam geëet en allerlei projekte vir die huis aangepak sodat dié blyplek, ten spyte van bekommernisse oor die werksomgewing, vir hulle ’n vreugde was.

Ná ’n jare lange langafstand-verhouding was die saam nesskop ’n welkome verandering.

‘Ek het geleer

Lourens het ál meer en ál beter sy plek in sy beroepslewe begin vind. Dit was allereers te danke aan die samewerking tussen die drie NG gemeentes in Wellington wat hul digitale bediening saam uitgewerk en uitgestuur het.

Dié gemeentes het ook saam met ander organisasies gewerk toe noodleniging ter sprake gekom het. Hulle het saam ’n kospakkie-projek van stapel laat loop en saam oor die ondersteuning vir hawelose mense besin.

Lourens vertel hoe hy die groter netwerk waardeer het. Hy kon byvoorbeeld bepaalde situasies na kundiges verwys. “Ek het geleer dat ek net my bes kan doen, en dan moet ek die bal aangee – en dis ook orraait.”

Die samewerking en eenheid het ’n bepaalde energie in Wellington ontketen sodat die onderskeie gemeentes weer kon word wat hulle veronderstel is om te wees: verskilmakers in die gemeenskap.

Dis ’n energie, sê Lourens, wat volgehou moet word, wat steeds na buite moet vloei. Wat nie aan instandhoudingsmodelle en ou strukture gewy moet word nie.

Daar was in dié tyd inderdaad moeilike sake, byvoorbeeld hoe om die jeug op ’n betekenisvolle manier te betrek. Lourens sê hy het deur ’n probeer-en-tref-metode na die beste manier gesoek, en dit nie altyd gekry nie. Wat hy wel weet, is dat daar nie met die huidige model vir jeugbediening volhard kan word nie.

In hierdie opsig was die pandemie waardevol, aangesien die kerk genoodsaak word om nuut te dink oor wat jeugbediening aan die “ander kant” van VCSV en kategese kan word.

Draagliker

Lourens vertel hoe hy ook moes begin om anders oor tydbestuur te dink. Hy sê hy het ál meer daaroor begin wonder. En skalks merk hy op: “Dis nie nodig om tien Zoom-vergaderings op ’n dag te hou nie.”

Hy wil graag betrokke bly by geleenthede buite die kerk, en by sy studies, omdat dit alles hom help om meer bewus te word van die manier waarop die Here se vrede in uitdagings beleef kan word.

“Ja, dis uitdagend,” gee hy toe, “maar die Here se vrede gaan alle verstand te bowe. Dit maak nie die ‘moeilik’ makliker nie, maar wel draagliker, meer verteerbaar.”

Bewus wees

Lourens is sterk gewortel in sy ritmes en gewoontes. Hy sê hy is dankbaar vir goeie gesondheid, en hy oefen nie bloot ter wille van fiksheid nie. Oefen vorm deel van sy spiritualiteit. Sy gereelde oefening en die daaglikse ritme van stiltetyd gaan hand aan hand met mekaar en is vir hom ononderhandelbaar.

Die pandemie het hom wel, soos vir sovele ander, van sy oefengeleenthede ontneem. Dit was vir hom sleg toe hierdie ritmes nie meer moontlik was nie. Want dis juis in Wellington se berge dat Lourens die “smal ruimtes” leer ken, waar hy die ruimte tussen God en homself as kleiner beleef. En waar hy ’n sterker bewussyn van God se teenwoordigheid het.

Tuiskoms

As ek so na Lourens luister, klink dit my asof hy ’n tuiskomsjaar beleef het. Dit was egter oor meer as bloot nesskop of tuis voel; eerder oor die geroepenheid wat ’n mens beleef wanneer jy weet dat jy jou op die regte plek bevind. As jy begin verstaan waarom jy daar is, saam met wie jy daar is, en ter wille van wie jy daar is.

Hy glimlag breed as hy sê: “Die koronaviruspandemie het my help verstaan dat my roeping ’n gegrond wees in Wellington behels.”

Dít is tuiskoms.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top