Marileen Steyn in gesprek met Francois du Plooy
Tussen die Swartberg en die Kammanassie lê die kunstenaarsdorpie De Rust. Hier woon die volstruisboere en die groenteboere langs die dorp se skilders en beeldhouers.
Francois laat dit soos ’n paradys klink: misdaadvry, ’n kwaliteitlewe, met ouer mense wat eers in hul vakansiehuise kom uitspan en uiteindelik permanent daarin kom woon wanneer hulle aftree.
In 2011 word De Rust selfs Kwêla se Dorp van die Jaar.
Die pastorie, sien ek, is wel heelwat ouer as 2011. Dié tipiese Karoohuis met sy groen dak, wit mure en groen hortjies staan al sedert 1905.
Kloue
Die omgewing, hoe wonderlik ook al, het Francois nie van Covid-19 se uitwerking gevrywaar nie. Hy beskryf 2020 as ’n uitsonderlike jaar waartydens hy emosioneel en geestelik ’n prys moes betaal. Hy sê hy het soos ’n uitgesuigde lemoen gevoel. Hy het alles gegee wat hy kon.
Dit was ontwrigtend, uitdagend, daar was min verlof. En voeg daarby die persepsie dat hy “niks” gedoen het nie.
Hoewel die pandemie aanvanklik ver van die landelike De Rust verwyder was, het dit gaandeweg nader gekruip en uiteindelik ook sy kloue in die gemeenskap geslaan.
Wonderwerke
Hy sê hy het die eredienste gemis. Die saamwees, saam sing, saam aanbid. Kerkwees is egter meer as die hou van eredienste, sê hy. Eredienste is nie die essensie van kerkwees nie; eerder die bou van onderlinge bande waar mense van mekaar afhanklik is.
“En die gemeente het nie ‘toegemaak’ nie. Waar daar nood was, was ek en die kerkraad steeds daar.”
Al het die boere grootliks met hul bedrywighede voortgegaan, het almal na die gemeente verlang. Die Here het ook vir die gemeente gesorg en hulle het finansieel baie beter gevaar as wat enigeen kon verwag.
Dit was vir Francois een van die wonderwerke in dié tyd.
Die gemeente het in dié tyd ’n groot sensitiwiteit vir die nood en armoede in die omgewing ontwikkel, en R50 000 se voedselhulp is in die grendeltyd verleen. Dis hoofsaaklik as kospakkies uitgedeel en in sopkombuise verwerk. “Eintlik,” sê Francois, “het die gewers en werkers ook van buite die gemeente gekom, oor rassegrense heen. Almal wat wou deel wees van die koninkrykswerk is hierby betrek.”
Hierdie opmerking weerspieël iets van Francois se hart, en ek is nie verbaas wanneer hy sê dat dit jammer is dat hulle tans nie so interkerklik werk soos wat hy dit graag sou wou hê nie.
Nie nét sleg nie
Sy stem is eensklaps sag: “Dit was ’n uitmergelende tyd.” Hy dink aan die matrieks, aan onderwysers wat nie kon beplan nie, aan mense wat met groot onsekerhede moes leef.
Nie dat alles nét negatief was nie. Hy vertel hoeveel waarde sy vriende en familie en al die mense wat vir hom omgee in dié tyd tot sy lewe toegevoeg het. Hy het baie geleer, sê hy.
Ek kyk na sy rakke wat kreun onder die gewig van al die boeke, die versamelde wysheid hier by hom.
Maar dit was juis ook die praktyk wat hom baie geleer het. Hy vertel van die mag en die impak van elektroniese media, en hy bieg dat hy dit nooit voorheen só besef het nie. Die WhatsApp-preke het ’n groot reaksie tot gevolg gehad; dit het buitestanders en selfs buitekerklikes bereik.
Die Een wat vashou en dra
“Die pandemie laat ou vastighede verdwyn,” sê Francois. En in ’n tyd waar daar juis na vastigheid gesoek word, is die Here die enigste moontlikheid. Mense is wel steeds bang. “Wanneer dinge eendag weer na normaal teruggekeer het, sal ons moet aanpas.”
Hoe sal so ’n aanpassing lyk?
Hy weet nie, sê hy doodeerlik. Hy weet wel daar sal saam gesoek moet word.
In ’n tyd vol vrae en onsekerheid, het Francois probeer om vastigheid en troos te bied deur gelowiges daaraan te herinner dat God in beheer is.
Dat die mens kan vashou aan Hom wat op die troon sit. En altyd onthou dat dit ten slotte God is wat vashou en dra.
God is in die skuit, al voel dit asof ons vergaan. Dis God wat mense laat voortgaan en deurdruk. “God is Die Formidabele.”
