Marileen Steyn in gesprek met Albé Theunissen
Op pad Porterville toe word die reekse berge ’n groot raam wat die plase – die opstalle en die skaaptroppe, die bale en die wingerde – omsluit.
Albé se huis is “by die peperboom”. Nie dat ek eintlik weet hoe ’n peperboom lyk nie, maar dis hoe hy my beduie het. Toe hy die deur oopmaak, let ek wel sy sout-en-peper-hare op.
Dis eers toe ons in sy studeerkamer sit dat ek die lagplooitjies om sy oë en mond sien. Dit lees soos ’n getuigskrif van jeugdigheid en vreugde.
Altyd buite die boks
Ons gesels oop en gemaklik oor die afgelope jaar. Ek glimlag wanneer hy vol entoesiasme uit sy stoel opspring om iets op die rekenaar te soek ter illustrasie van wat hy pas verduidelik het.
Hy wys my ’n video-snit van hoe hy een Sondag gepreek het terwyl hy deurentyd binne-in ’n boks – omtrent so groot soos ’n skottelgoedwasmasjien – gesit het. Dit was om te illustreer hoe mense deur hul vrees, eerder as deur die grendeltyd, gevange gehou word.
“Verskoon die woordspeling,” sê hy, “maar ek het dit besonder baie geniet om vir elke video buite die boks te probeer dink. Om kreatief te wees.”
Daarom, sê hy, het hy die prediking in dié tyd so geniet, want hy het dit uit die staanspoor beskou as ’n wonderlike geleentheid om die Woord op ’n andersoortige manier te bedien.
Gelukkig stel hy in elk geval baie in foto- en videografie belang. Nou het sy stokperdjie noodsaaklik vir sy bediening geword.
Hy kon dus lekker speel, vertel hy. Deur middel van slim video-redigering kon hy “met die kinders se koppe smokkel” deur Jasper die handpop oorkant hom op die ander bank in die vertrek te laat sit.
“Ek hou báie daarvan om dinge ’n bietjie ánders te doen!” lag hy.
Die gom wat alles bymekaar hou
Dit was wel vir hom meer as bloot speel. Hy beskou sy kreatiewe video’s as ’n liefdesoffer aan God, en hy geniet dit om die gemeente te bedien met die gawes wat God hom gegee het.
Albé se ekstra moeite met die erediens was deels toe te skryf aan die besef dat die bywoning van die erediens vir die meeste lidmate die hoogtepunt van hul geestelike belewenis en hul kerkwees is.
Die erediens in dié gemeenskap, met baie boere wat ver van die dorp woon, is as ’t ware die gom wat die lidmate bymekaar hou. Daarom was Albé bekommerd oor hoe dit deur die grendeltyd geraak sou word.
Dis dan ook ’n tema waaraan hy in sy prediking aandag gegee het. Hy reken dat die alternatiewe formaat van sy video’s, en die feit dat dit op die gewone eredienstyd beskikbaar gestel is, tog vir die gemeentelede ’n gevoel geskep het dat hulle gesamentlik aan iets deelneem.
Twee dinge het hom wel uitgeput: die kreatiwiteit wat die videopreke van hom vereis het, asook die spanning wat met die internetverbinding verband gehou het. “Dit was soos ’n wipwa-rit: Dis opwindend en lekker – en jy is dankbaar as dit verby is.”
Vreugde en trane
Die ekstra gesinstyd wat die inperking meegebring het, was vir Albé besonder kosbaar. Die gesin het bordspeletjies gespeel – “en daar was iets saligs daaraan om op ’n Sondagoggend in my slaapklere saam met my vrou en kinders na die erediens te kon kyk”.
Sy gesin was in dié tyd vir hom ’n bron van krag en ondersteuning en inspirasie.
Van kinders gepraat: Albé vertel hoe hy die gemeentekinders in dié tyd gemis het. Daarby het gereelde kontak met ouer mense allerlei uitdagings ingehou. “Ek het regtigwaar my mense gemis.”
Hy vertel hoe hy ’n erediensvideo ’n tweede keer moes skiet nadat hy die eerste keer begin huil het. “Die trane was vanweë hierdie gemis.”
Paassondag was vir hom besonder moeilik, omdat die gemeente se tradisionele feestelikheid – wat onder meer in blomme en kleurvolle dasse uitgedruk word – van die baan was.
Hy is nietemin dankbaar dat die gemeentelede nie hul onderlinge verbondenheid prysgegee of hul identiteit as gemeente verloor het nie. Hulle het daadwerklik vir mekaar omgegee en hy is daarvan oortuig dat hulle nóg nader aan mekaar gekom het.
Die lidmate het met oorgawe aan gemeenskapprojekte deelgeneem.
Albé sê hy het in dié tyd beleef hoe die Here in mense se lewe gewerk het. Die dankoffers, byvoorbeeld, was van so ’n aard dat hy graag van ’n wonderwerk praat. “Prys die Here!” roep hy uit.
Met geloofsoë
Albé kyk met nuwe dankbaarheid na alles wat hy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, en hy is opnuut bewus van sy seëninge.
Dankbaarheid en lewensvreugde is klaarblyklik in elk geval deel van Albé se persoonlikheid. Hy sê self: “Ek word nie maklik opgewerk nie, ek stres nie sommer nie. Môre sorg vir homself.”
Hy praat van ’n soort optimisme wat hom dra. Dat hy hom nie oor homself bekommer nie, al bekommer hy hom oor ander.
Dis ’n optimisme, sê hy, wat gewortel is in die versekering en belydenis dat die Here ’n mens nooit alleen laat nie. “Alles gaan nie na jou sin verloop nie, maar jy kan God se teenwoordigheid sien – as jy met geloofsoë kyk.”


