Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

André Kritzinger se geloof strek vorentoe. Foto: verskaf.
André Kritzinger se geloof strek vorentoe. Foto: verskaf.

‘’n Geloof verby beperkings, verby vrees’

Marileen Steyn in gesprek met André Kritzinger

Die prominente toring verklap die kerk se teenwoordigheid al van ver af. Ek en André ontmoet mekaar in die NG gemeente Mosselbaai-Suid se kerksaal.

Dit val my dadelik op dat hy streng by die voorgeskrewe maatreëls hou. Hy bied my nie iets te drinke aan nie. Ons hoef nie die maskers af te haal nie.

Ons sit met die tafel tussen ons, nadat hy die tafel eers skoongemaak het.

Baie, baie sleg

Hy is natuurlik in die kol. Terwyl ons met mekaar gesels, is die Tuinroete een van die pandemie se brandpunte. En André is terdeë daarvan bewus. Sy vrou is ’n verpleegster.

Aanvanklik, vertel hy, het alles rustig verloop. Die kinders was tuis en die gesin het ’n goeie tyd beleef. Toe die infeksies in die omgewing egter begin styg, het die spanning insgelyks toegeneem.

André en sy gesin moes, soos almal om hulle, vinnig leer om in die ruimte tussen vrees en verantwoordelikheid te probeer leef. Dit was ’n aanpassing en ’n uitdaging.

En dit was baie, baie sleg: Familielede het gesterf, soos ook enkele vriende. “My vrou is baie moeg,” vertel hy. Hulle bly bang sy word ook siek. Verlof is nie ’n opsie nie.

’n Komplekse tyd

Wat die gemeentewerk betref, sê André, was dit eintlik ’n “wow!”-jaar. Toe die eerste inperkingmaatreëls in Maart afgekondig is, is daar gereël dat gelowiges, volgens bepaalde riglyne, ’n uur lank in die kerk kon kom stil word.

Toe die grendeltyd later ingestel word, moes die gemeente oorskakel na ’n uitsluitlik digitale bediening. Dit het onder meer WhatsApp-video’s en telefoonkontak behels.

Tydens die grendeltyd het André nietradisionele “besoeke” afgelê en hoofsaaklik telefoniese ondersteuning gebied.

Dit het beteken dat hy meer tyd gehad het en hy kon twee Bruce Wilkinson-reekse voltooi. En hy het meer tyd gehad om aan die lees en bestudering van teologiese werke te wy.

Kruiskerk se daaglikse meditasies het hom daagliks gevoed.

Hy vertel hy is teologies baie uitgedaag, veral rakende die gerugte oor die entstowwe, sommige mense se gevoelens oor wat aan ’t gebeur is, en die verspreiding van fopnuus.

In hierdie komplekse tyd het hy aan vier waarhede vasgehou: “Ek behoort aan die Here; ek weet dat sy Gees in my leef; ek is uit genade gered; daar is vir my ’n plek in die hemel gegee.”

Gehoorsaamheid en getrouheid

Vanuit die oortuiging dat daar teen vrees geveg moet word, het André besluit om op te hou om die koronavirus of die grendeltyd as vertrekpunt te gebruik wanneer hy preke voorberei. Hy het begin om op gehoorsaamheid en getrouheid te fokus.

Wat vir hom spesiaal was, was die manier waarop die lidmate hul verantwoordelikheid teenoor die gemeente herken en aanvaar het.

Toe die land uit grendelvlak vyf beweeg, het hulle op verskeie gebiede eienaarskap vir die gemeente se werksaamhede aanvaar. “Lidmate het doodgewoon hul gawes gebruik of tot die gemeente se beskikking gestel,” vertel André. “Een het kom help met finansiële dienste, ’n ander het kom gras sny, nog een het ’n muur reggemaak en iemand anders het die diefwering herstel.”

Dit was verrassend én gerusstellend.

’n Geloof wat vorentoe strek

Met sagte en versigtige woorde praat hy oor twee woorde wat hy beleef het die Here in dié tyd aan hom gegee het – “gerusstelling” en “rustigheid”. Hy praat oor die rol van gebed in hul gesin se storie, en die manier waarop hulle, onder leiding van die Heilige Gees, ander mense fisiek en emosioneel kon ondersteun.

André vertel hoe hy en sy gesin nagmaal gebruik het, hoe hulle om beskerming gebid het. “Ons is tog nie van die virus gevrywaar nie.”

Wanneer ons praat oor ’n lens waardeur André se storie gelees kan word, wonder ons oor die woordjie “strek”. Oor die manier waarop mense die afgelope jaar “gestrek” is om te groei. Die wyse waarop die gemeentelede hul hand uitgestrek het om te help.

Ons praat oor die Lukas 8-verhaal oor die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (waaroor een van André se eerste preke in die grendeltyd gehandel het) en oor die manier waarop sy haar hand na Jesus uitgestrek het, na die soom van sy kleed, ten spyte van haar vrese.

 

André sê een van die grootste uitdagings was dat hy nie kon beplan nie. Dit het ’n demper op sy entoesiasme geplaas, omdat hy nie die toekoms behoorlik kon visualiseer nie.

Tog leef daar in hom ’n geloof wat vorentoe strek, verby beperkings, verby vrees, tot by die soom van Christus se kleed.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top