Marileen Steyn in gesprek met Clifford James.
Eers sien jy die windturbines. Dan word jy daarvan bewus dat die lang, reguit pad tussen die Weskus en Malmesbury geleidelik in ’n vallei afsak.
Hier waar die mis in die winter dig toesak, lê die dorpie Hopefield. Van ver af sien jy die kerktoring.
Dit lyk of die wit kerkgebou in die middel van die dorp staan. Die heining beskerm ’n ou begraafplaas. En jy vind ’n pastorie met houthortjies en ’n klomp potplante op die stoep.
Kameraadskap en kommer
Clifford nooi my binne. In die sitkamer loop ek verby ’n eetkamertafel vol skilderye – onderaan is die handtekening Cliff.
Die skilderye staan tussen bokse en bokse heerlike gebak. Dis sy vrou se handewerk – vir diegene wat vooraf bestel het én vir die markie wat Saterdae op die kerkterrein plaasvind.
Dis gou duidelik dat Clifford en sy vrou nie van stilsit hou nie. Harde werk is klaarblyklik deel van hul DNS. En wanneer Clifford na sy kinders verwys, vertel hy hoe hard hulle werk.
Jy hoor gou hy is ’n mense-mens. “Ek hou van kuier,” sê hy en vertel van die goeie verhouding met sy ringskollegas, en hoe hulle tydens die eerste, streng inperkingstyd elke tweede week via Zoom gesels het om die vereensaming teë te werk. Hy sê hulle kon eerlik met mekaar praat.
Nadat die maatreëls verslap is, het hulle hierdie soort onderlinge ondersteuning voortgesit.
Ons gesels ’n ruk, en dan haal hy diep asem en begin vertel van die finansiële uitdagings in die gemeente, en van sy nuwe diensooreenkoms wat op 1 Maart 2020 in werking getree het. Dit behels onder meer ’n posbeskrywing wat sy werksure afskaal tot slegs Maandae, Woensdae en Vrydae.
Ja, natuurlik het hy hieroor gewroeg – maar toe kom die pandemie. “Dit het net op die regte tyd gebeur,” vertel hy. “As dit nie daarvoor was nie, sou die depressie my emosioneel geknak het.”
Die koronaviruspandemie het ’n nuwe perspektief en betekenis in sy bediening gebring. Ná die diep waters wat die gemeente, sowel as Clifford en sy vrou, moes deurgaan, het die pandemie hom die geleentheid gebied om besig te bly. Om voort te gaan om die gemeente te bedien, al was dit op ’n nuwe manier.
Sy perspektief is verander en sy gedagtes is weggeneem van sy eie swaarkry. Dit het hom op ander se swaarkry laat fokus.
Om hoop te bring
In die grendeltyd, toe hy noodgedwonge tuis moes bly, het hy elke week op ’n digitale manier by elke huis besoek afgelê. “Cope julle?” het hy die lidmate per WhatsApp gevra.
Dit het verdere gesprekke ontlok en Clifford kon, waar nodig, die nood hanteer.
Hy het etlike maande lank daarmee volgehou. Later het hy sy navrae effens afgeskaal na elke tweede week. Hierbenewens het Clifford ook ondersteunende boodskappe uitgestuur – aanvanklik daagliks en later weekliks. Hieroor sê hy: “Ek was bang mense gaan in hul swaarkry van mekaar vervreem raak. Ek wou graag hiermee hoop bring.”
Die Blye Boodskap en die Voorsienigheid
Sy boodskappe en preke is ook op Facebook geplaas en is so ver soos Kanada en Australië versprei. Die wyse waarop mense buite die kerk en van oraloor deur die boodskappe bereik is, laat by Clifford vrae oor die toekoms van die digitale erediens.
Byvoorbeeld: Moet jy later diegene wat gewoond geraak het om met hul pajamas “kerk toe te kom” later daarvan speen?
Wat van diegene buite die gemeentegrense?
Tans reken hy om, terwyl hy dit kán doen, daarmee vol te hou sodat so veel mense moontlik die Blye Boodskap kan ontvang.
Ten spyte van Clifford se positiewe belewenis van hierdie besonderse tyd, ervaar hy steeds kommer oor die gemeente en die toekoms.
Hy word nietemin in sy eie stiltetyd bemoedig. En aangesien hy daagliks boodskappe moes skryf, het dit hom genoop om gereeld stil te word voor die Here. Dit het ’n groot impak op hom gehad.
Dit was iewers tussen die kommer oor sy nuwe diensooreenkoms, die veranderinge wat Covid-19 gebring het, sy stiltetye en die nuwe aard van sy bediening dat daar ’n nuwe perspektief gegroei het, en ’n nuwe positiwiteit. Meer as ooit weet hy nou: Dis die Here wat voorsien.