Marileen Steyn in gesprek met Wynand Breytenbach.
Hy ontmoet my by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington waar hy besig is met sy boeke. Nog voordat ons behoorlik sit, vra Wynand om verskoning vir sy gebrek aan energie.
Ek glimlag. Dis dan juis hoe ek Wynand ken: Hy is vol energie, vol idees. Dit het my dus nie verbaas toe ek in die grendeltyd gehoor het wat hy alles aangepak het nie. Juis daarom wou ek graag sy storie hoor.
‘Die nood is te groot’
“Die koronaviruspandemie,” sê Wynand reg aan die begin, “het die dinge wat fout was onder ’n vergrootglas gebring. Nou het die kerk geen verskoning meer nie; die kerk móét in die gemeenskap betrokke wees. Die nood is te groot.”
Hy vertel hoe die NG gemeente Durbanville waaraan hy verbonde is by hierdie nood betrokke geraak het.
Durbanville is een van die meer gegoede buurte in die Kaapse noordelike voorstede. Die heuwels is vol hoofpaaie en lanings groen bome. Plek-plek kan jy Tafelberg in die verte sien.
Die gebied is tipies wit en Afrikaans, met baie beveiligde woonbuurte en luukse inkopiesentrums.
Dis in hierdie konteks dat Wynand-hulle met verskillende organisasies hande gevat het om mense in dié moeilike tye te ondersteun.
Hy tel die vennote die een ná die ander af: nieregeringsorganisasies, allerlei verenigings, skole, die munisipaliteit, die plaaslike Spar, ander kerke.
Hulle kon buitengewone dinge vermag. Die gemeente het R100 000 vanuit haar beleggings vir noodverligting beskikbaar gestel en ’n verdere R60 000 ingesamel. Altesaam R1.5 miljoen is deur die breër gemeenskap geskenk.
Hierdie fondse het verseker dat daar daagliks mense dwarsoor Durbanville was wat kos op die tafel kon hê, en op verskeie ander vlakke ondersteun kon word.
Wynand het baie waardering vir die samewerking in hierdie tyd, juis omdat dit die las van die noodleniging versprei het. Daarby het die interkerklike samewerking daartoe gelei dat gemeentes mekaar kon aanvul.
Dis een van die dinge, sê Wynand, wat die pandemie die kerk geleer het: om saam te werk.
In die gemeente self was daar ’n diep bewustheid van die nood om hulle. Gemeentelede het gehelp waar hulle kon. So is daar, onder meer, twaalf skooltjies gehelp om hul verpligte saniteringsmaatreëls op dreef te kry. Die gemeente kon steeds die helfte van hul basaarinkomste aan ’n behoeftige gemeente afstaan. Die Durbanville-kinderhuis se boekverkope is by die kerk gehou en so is hulle gehelp om hiermee R20 000 in te samel.
Al dié syfers, sê Wynand, beteken niks in vergelyking met wat in die gemeente gebeur het en die manier waarop die gemeente oor grense heen beweeg het nie.
Deur betrokkenheid in die gemeenskap word positiewe kontak tussen verskillende bevolkingsgroepe geskep, en só word mense meer bewus van ander se omstandighede.
’n Spanpoging
Dié soort samewerking is ook intern beleef, in die gemeente self. Die gemeentelede beskou saam bid, saam eet en saam dien as deel van hul DNS. Saam-saam word hulle dissipels van Jesus in diens van God se nuwe wêreld.
Die feit dat Wynand hierop kon fokus, was die gevolg van die sterk span waarvan hy deel is. Vroeg in die pandemie het hy en sy kollega besluit dat Wynand op die verligting van nood sou fokus, en sy kollega op prediking en administrasie.
Die kerkkantoor en die verskillende bedieninge, asook verskeie vrywilligers (jonk en oud) het ingespring om te help. Dit, sê Wynand het vir hom baie beteken. Soos ook die ondersteuning van die sinodale strukture en die ring.
Een van die nuwe vreugdes in die bediening is vir hom die wyse waarop ouer en wyser mense ontvanklik is vir jonger predikante se idees. Hy sê hy het oor die algemeen beleef dat mense “oper” vir nuwe idees is, meer bereid om te waag, om buigsaam te wees.
Die gemeente se leierspan het met twee reëls gewerk: Gebruik wat jy het, en wees deurentyd bereid om te verander.
“Ons kon weer …”
Die pandemie was op ’n ander vlak vir Wynand van groot betekenis: Hy en sy vrou het tyd gekry om saam te wees en om saam aan hul huwelik te werk. Hulle kon vir ’n slag saans saam eet, saam met die honde gaan stap, skaak speel en saam lees.
Hy reken predikante behoort oor die algemeen meer geredelik te praat oor die uitwerking wat die bediening op hul huwelik het. Die pandemietyd se spesiale samesyn was vir hom so kosbaar dat hy besluit het om sy bediening voortaan so te struktureer dat hy meer dikwels saans tuis kan wees.
Om ’n huwelik te laat werk, is volgens Wynand meer as bloot dit wat in jou verhouding met jou maat gebeur; dit gaan ook oor wat in jouself gebeur. Hy verduidelik dat die verdieping van sy eie geloofsgewoontes – sy gebedstyd, sy daaglikse gebruik van die nagmaal, die beoefening van sy stokperdjies – ’n besonder positiewe impak op sy huwelik gehad het.
’n Nuwe beeld van die kerk
In hierdie veranderende tye is Wynand opgewonde oor die kerklike verbeelding wat tydens die koronaviruspandemie geskep is. “Ek vermoed die kerk is op ’n goeie plek,” sê hy.
Hy skryf sy optimisme toe aan die nuwe beeld oor wat die kerk behoort te wees wat besig is om gevorm te word.
Terwyl ek na Wynand luister, weet ek dat hierdie beeld van die kerk nie een van ’n geïsoleerde kerk is nie. Sy gebed is, sê hy, dat mense nie sal vergeet wat God hulle in hierdie woestyntyd, hierdie ballingskaptyd, geleer het nie.
Wat neem hy self die toekoms in?
Die antwoord kom vinnig: “Daar is mense met wie ek nou nooit weer nié sal saamwerk nie.”