Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

“Hierdie is nie ‘die nuwe normaal’ nie,” sê Helené Fouché. “Dis net ‘die normaal’."

‘Ek het ’n begeerte aan kontak’


Marileen Steyn in gesprek met Helené Fouché.

 

Wanneer ek deur Brackenfell ry en in die naasliggende Kuilsrivier beland, kom ek dadelik ’n verskil agter – alhoewel my taal opraak as ek dié verskil moet verduidelik.

Helené gee my die taal. Sy verduidelik dat Kuilsrivier een van die mees geïntegreerde gemeenskappe in die land is. Dis hier waar bruin, swart en wit saamkom. Afrikaans, Engels en Xhosa.

Dis hier waar Helené predikant is.

Vriende, ’n kêrel en ’n hond

Met ’n uitsig op die groot, wit kerk met die swart hoenderhaan op die toring, gesels ek met Helené. Sy is mooi aangetrek in ’n koraalkleurige hemp, krale om die nek. En ’n kleurvolle masker.

Sy sug swaar wanneer ek oor 2020 uitvra. Sy vertel nietemin dat sy haar tans op ’n goeie plek bevind. Wanneer sy op dié veelbewoë jaar terugkyk, is sy dankbaar, ten spyte daarvan dat sy emosioneel swaargekry het.

Daar was wel reeds voor Maartmaand en die grendeltyd heelwat omwentelings in haar lewe: In Februariemaand, byvoorbeeld, het sy in ’n nuwe huis ingetrek.

Daar het ’n liefdesverhouding ontstaan en gegroei – maar toe kom die pandemie.

Met die aanbreek van die grendeltyd het Helené besluit om op dankbaarheid as ’n geloofsgewoonte te fokus. Dit, sê sy, het werklik haar perspektief verander. Sy het elke dag iets waarvoor sy dankbaar is op Instagram geplaas. Een daarvan is haar hond, Milo, wat sy in Januarie gekry het. Sonder dié gespreksgenoot sou grendeltyd baie moeiliker gewees het as wat dit reeds was.

Dié plasings het sy vyf weke lank volgehou

Helené moes kreatiewe maniere vind om dinge saam met ander mense te doen. Sy het byvoorbeeld saam met ’n groep vriende bordspeletjies aanlyn gespeel. Soms het hulle ’n “virtuele braai” gehou.

Sy is deel van ’n groep vriende wat mekaar elke Vrydagmiddag vir ’n bier ontmoet. Hulle het hierdie tradisie tydens die grendeltyd voortgesit, wel via Zoom. Op dié manier kon hulle mekaar elke week ondersteun. Die bier, wyn of “Gin & Tonic” het wel later maar “Tonic & Koeldrank” geword. Dié soort samesyn was vir haar ’n lewensaar.

Kollegas

Hierdie dinge was belangrik vir Helené wat so benoud was oor alleen wees. Sy is wel ’n introvert, maar sy weet ook dat sy mense nodig het. Gelukkig behels haar werk gereelde kontak met mense, maar sommige dae het sy swaargekry.

Laasgenoemde is versterk deur ’n gevoel dat sy van die kerkraad afgesny is. Sy was terdeë daarvan bewus dat sy nie ’n kollega het om mee saam te werk nie. Gelukkig het sy iemand soos haar pa gehad, ook ’n predikant, in wie sy ’n kollega gevind het met wie sy idees kon uitruil.

Ook die ring was in dié tyd vir haar kosbaar. Sy beskryf die ringskollegas as “’n lekker groep mense”. Die ring se Zoomvergaderings op Woensdae was ’n hoogtepunt.

Die begeerte aan kontak

Buiten die daaglikse oordenkings wat sy as stemboodskappe aan haar gemeente gestuur het, het sy van Maart tot Oktober slegs op twee Sondae nie gepreek nie. Teen Juliemaand het sy die druk begin voel en verlof geneem. Maar aangesien sy steeds soms moes werk, het die verlof haar nie werklik gebaat nie. Sy het alles in haar vermoë gedoen om sake aan die gang te hou.

Na afloop van die verlof het die gevoel van uitbranding net toegeneem.

Toe die grendelvlak effens meer toeskietlik geword het, en toe sy haar kêrel en haar familie weer kon sien, het dinge ’n bietjie beter begin gaan.

Sy het wel besef hoe bitter erg dit is om sonder aanraking te moet klaarkom. “Ek het ’n begeerte aan kontak,” sê sy.

Haar ma het in dié tyd drie rugoperasies ondergaan en dit was vir Helené belangrik om, hoewel sy haar ouers graag wou sien, steeds versigtig en verantwoordelik op te tree. Om hierdie rede het sy aanraking vermy en die nodige afstand gehandhaaf.

Balans

Helené leef nie in vrees vir die koronavirus nie. “Jy doen wat jy moet doen, en jy is verantwoordelik. Maar ek is nie bang nie.” Dis eerder haar vrees om ander aan te steek wat haar versigtig maak.

Maar, ja, dit het haar moeg gemaak om nie fisieke kontak te mag hê nie.

Tussen Augustus en Oktober het Helené die druk en emosionele uitdagings van die pandemie op ’n baie intense vlak beleef. Steeds moes sy week ná week kreatief wees. Boonop moes sy gemeentelede se groeiende ongeduld met die kerk wat gesluit moes bly, bestuur.

Die emosionele uitdagings het hul tol begin eis, en Helené het ál meer getob oor die balans tussen voluit lewe en versigtig wees.

Nou, enkele paar maande later, gaan dit baie beter met haar. Die kerkraad het ’n ekstra week verlof aan haar toegestaan. “Hulle is goed vir my!”

Sy het geleer om meer gemaklik te word met die onsekerhede om haar, en sy het weer begin dinge doen wat sy geniet. Onder meer koorsang – al geskied dit bloot virtueel.

Die trauma wat sy as gevolg van Covid-19 deurgemaak het, kon sy uiteindelik verwerk. Nie deur baie daaroor te praat nie, maar deur dit op ’n meer fisieke vlak aan te pak – in haar lyf, in die ritme en samewerking met ander.

Sy het onder meer die vreugde ontdek om Sondae in die berge te gaan stap. “Dis die beste ding ooit! Dit het my ’n bietjie ‘losgemaak’.”

Nuwe voornemens, ou vreugdes

Noudat Helené gesien het hoe ’n lewe lyk waar jy nie elke aand besig is nie, word sy ál meer jaloers op haar aande. Sy het besluit dat sy saans meer wil uitgaan, dat sy nie elke aand hoef te werk nie.

“Ek onderskei nou beter tussen wanneer dinge belangrik is en wanneer nie.”

Die pandemie het haar liefde vir haar gemeentelede verdiep, en dit het haar roeping opnuut bevestig.

Dis belangrik dat die gemeente bymekaar kom, dat hulle mekaar sien en vir mekaar omgee, sê Helené, en sy is aangenaam verras deur die vlak van betrokkenheid. “Daar was byvoorbeeld gemeentelede wat ook by mý ‘ingecheck’ het. Ek is so dankbaar vir hul omgee en uitreik. Dit was ’n wonderlike belewenis!”

Die pandemie het Helené laat besef dat die kerk meer aandag aan rentmeesterskap moet afstaan, en aan die mens se verantwoordelikheid vir die aarde. Daar moet gelyklopende aandag gegee word aan die sorg en versorging van die gemeenskap en die samelewing.

Sy onderskei tussen die besef dat iets gedoen moet word en om dit daadwerklik af te handel.

Wat is vir haar die belangrikste bron van krag?

God se teenwoordigheid, sê sy. “God is by ons. Én God is by ander, deur ons teenwoordigheid by hulle.”

 

In Helené se storie hoor ek haar behoefte om saam met haar vriende, gemeente, gemeenskap en God deur die lewe te stap. Al is dit op nuwe maniere.

“Hierdie is nie ‘die nuwe normaal’ nie,” sê sy. “Dis net ‘die normaal’. En ons kan floreer, al is dit nie soos ons dit wil hê nie.”

No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.