Marileen Steyn in gesprek met Simon Theron*.
Ek ry in die Groot-Karoo. Om my lê die landskap uitgestrek. En swart – die uitmergelende droogte se greep is alte sigbaar. Die pad voor my lei my wel reguit in ’n reënbui in.
Die weerpatrone is wispelturig. In Juniemaand het dit plek-plek goed gereën. Maar van die boere in die omgewing smag nou al nege jaar lank na lafenis.
Die God van gister …
Simon sê hy het nie meer antwoorde vir die boere in sy gemeente nie. “Dis vir my ’n sleg ding. Daar ís nie meer antwoorde nie.”
Daar is nie geld nie en die banke wil nie meer vir die boere leen nie. “Hoe bemoedig jy so ’n mens?”
Dis diegene wat voer aanry en vir die boervroue geskenkpakkies maak wat soms ’n bietjie hoop bring, maar die neerslagtigheid bly. Een van die boere het op ’n dag vir hom gesê: “Simon, ek kan nie bid nie, want ek weet nie meer wat om vir die Here te sê nie. Ek kan nie meer vra nie, want ek vra tevergeefs.”
In sulke omstandighede, vertel Simon, dien dit geen doel om bloot teksverse in die boere se rigting te slinger nie. “Die Woord van die Here is waar, maar die krisis gaan nie daardeur opgelos word nie.”
Wat Simon eerder doen, is om sy lidmate te help om terug te dink aan dié tye toe hulle ook swaargekry het. Om dan te vra wat hulle toe gedoen het om te oorleef.
“Hoe het God in die verlede gesorg? Want dis dieselfde Here tot wie ons nou nader.”
Simon sê hy het ’n soortgelyke aanslag in 2020 in die pandemietyd gevolg. Vir hom was die sleutel tot dié jaar om opnuut te fokus. Om aan die verlede terug te dink. “Ons het reeds soveel dinge deurgemaak, en die Here het bly sorg. God is in beheer.”
Twee kante van die muntstuk
Daar was al kere dat die gemeente nie sy salaris kon betaal nie, maar die Here gee uitkoms. Dit help Simon om sy fokus te behou.
Hy het hierdie soort perspektief die afgelope jaar nodig gehad. Dit was nie ’n maklike jaar nie.
Weer was die gemeente se finansies onder druk. Met eredienste wat afgeskaal is en diakens wat nie kon kollekteer nie, is die gemeente finansieel geknou. Individue, ook buite die boerderybedryf, het swaargekry. Vooraanstaande sakemanne het ondernemings verloor.
Simon kyk egter na al twee kante van die muntstuk: “Dit was ’n slegte jaar, ja, maar tog ook ’n goeie jaar.”
Die kerkraadslede het met groot toewyding hul verantwoordelikheid teenoor die gemeente nagekom. En ten spyte van die moeilike jaar, was almal bereid om nog ’n termyn te dien. Te midde van die verskillende beperkings kon hulle inisiatiewe loods om hul feesjaar saam te vier.
En ten spyte daarvan dat hulle nie oor die beste tegnologie op die mark kan aanspraak maak nie, is die gemeentegrense deur die WhatsApp-preke uitgebrei.
Simon getuig: “Die Satan het seker gehoop dat die verspreiding van die Woord gestaak gaan word, maar nou is daar selfs mense oorsee wat die boodskap ontvang.”
‘Ek is bloot ’n instrument’
Vir Simon self was dit ’n uitdagende tyd. Hy was depressief, vertel hy, en in ’n stadium baie morbied. Hy is lief vir mense, hy het mense nodig, en die verpligte isolasie was vir hom baie erg.
Hy verwys na ’n bejaarde lidmaat met Covid-19 met wie hy oor die foon ’n gesprek moes voer. “’n Telefoon is so ’n ‘damn’ koue ding! Dis nie ek nie … Dit was die soort mens wie se hand ek moes vashou.”
Tog het hy beleef dat God aan hom sê om op te hou mor. “Ek gebruik jou steeds,” het Hy gesê.
“God is in beheer,” sê Simon, “en ek is bloot ’n instrument.”
Dié besef het hom gehelp om nie hoop te verloor nie. God is altyd dáár, juis in die hospitaalkamer waar gemeentelede alleen sterf.
“Julle was nie daar nie,” het hy die onderskeie families getroos, “maar die Here was. ”
Christene se hoop
Deels kan Simon se vermoë om op te staan, toegeskryf word aan die vaste oortuiging dat hy in hierdie gemeenskap moet wees. Hieroor is by hom geen twyfel nie.
Dis die gemeenskap, sy vriende en sy gesin wat hom weer moed gegee het om voort te gaan. Dit was die gemeentelede wat hom genooi het om uit die ingehoktheid van die huis, veral nadat van sy gesinslede Covid-19 opgedoen het, te ontsnap. Om op ’n plaas te gaan stap en die natuur te geniet.
Intussen is Simon se fokus op Christus se wederkoms. Hy weet vir seker dat Jesus weer kom. Dat besittings wêreldsgoed is. Dat Christene se hoop in hul identiteit in Christus lê. Dat hulle gereed moet wees vir wanneer Hy terugkeer.
En dat die mens se fokus op God moet bly, en op wat God in die verlede gedoen het, en wat Hy steeds doen.
*Skuilnaam