Marileen Steyn in gesprek met Elzanne van der Westhuizen.
Ek sal nooit weer aan Elzanne kan dink sonder om te onthou hoe sy met haar volgroeide borderkollie in haar arms na my toe aangestap kom nadat die hond ontsnap het nie.
Dis hoe sy my groet toe ek by haar huis in Stellenbosch stilhou.
Wanneer sy oor die koronaviruspandemie praat, identifiseer Elzanne twee sake wat mense in hierdie tyd moes verwerk: Daar was die virus self wat die onsigbare vyand geword het waaroor jy geen beheer het nie. En daar was die streng inperking wat daarmee gepaardgegaan het.
Gemeenskap
Vir Elzanne die introvert het die aangekondigde drie weke aanvanklik geklink soos ’n droom wat waar geword het, maar mettertyd het sy besef hoe belangrik menslike kontak met vriende en familie is. Sy het opnuut verstaan wat dit beteken as mense sê: “We’re made for community!”
Sy spot oor die “kung fu moves van onsekerheid” wat mense na vore bring as hulle besef dat hulle mekaar nie met ’n drukkie, ’n klapsoen of ’n handskud kan groet nie. Dat dit ook wys hoe ongemaklik dit mense maak as hulle nie fisieke kontak met mekaar kan hê nie.
Maar op ’n manier, sê Elzanne, help die pandemietyd ons om opnuut waardering vir ander se grense te hê. Die tradisionele gebruike van soen en druk wys nie noodwendig respek vir diegene wat nie met hierdie soort aanraking gemaklik is nie. In dié tyd moes jy nie ontsteld raak as ander hul grense duidelik trek nie; jy moes dit eerder respekteer.
“Fisieke kontak is nodig,” beklemtoon sy. “Maar daar moet respek betrokke wees.”
‘Weird en moeilik’
Wanneer ons oor die aanpassings in die bediening gesels, sug sy: “Waar moet ek begin?”
Die grootste aanpassing wat Elzanne betref was die gebrek aan kontak, omdat sy niemand in die oë kon kyk wanneer sy met hulle gesels nie. Aanvanklik het sy na digitale eredienste uitgesien, maar sy het gou haar gemeente begin mis. “Daar is ’n energie in die ruimte waar jy preek, iets wat nie voor ’n kamera gevind word nie.”
Elzanne sê sy was verras toe sy agterkom hoe hierdie gebrek aan kontak haar gedreineer het. Sy het vir die eerste keer regtig besef hoeveel energie sy by ander mense kry, en hoe dit haar help. Sy het die waarde van die kerkgemeenskap herontdek, en die onvervangbaarheid daarvan is vir haar onderstreep.
’n Verder aanpassing was dat kontak met ander primêr oor die foon moes geskied. Sy beskryf haarself as ’n verhoudingsmens en sy het die pastorale gesprekke oor die foon “weird en moeilik” gevind.
Asook die morele spanning om te moes kies tussen aanraking om te vertroos, teenoor veilig speel en dus ver weg te bly.
Om voortdurend tussen sleg en slegter te moes kies.
Dit alles het haar uitgeput.
Voorts was daar die skynbaar nimmereindigende eis om kreatief te bly. “Die doelpale skuif deurentyd terwyl jy besig is om te speel.”
Nooit alleen nie
Tog was nie al die aanpassings net sleg nie. Sy reken trouens dat die korttermynaanpassings wat deur Covid-19 genoodsaak is, bloot die inleiding is tot die langtermynverandering wat in die kerk en die bediening nodig is.
Te midde van al hierdie aanpassings het Elzanne voortgebeur. Dit was deels moontlik, lag sy, vanweë ’n goeie Neethlingshof Cabernet.
Dan vertel sy van die waarde wat die webinare toegevoeg het, en die wyse waarop die kontak met ander predikante wat saam help soek en saam swaargekry het haar gehelp het.
Hierdie dinge het haar die versekering gegee dat sy nie alleen sukkel nie, en dat niemand al die antwoorde het nie.
Ook haar verhouding met vriende en vriendinne in die bediening het haar gehelp. By hulle het sy ’n ruimte gevind waarin sy kon bely dat sy sukkel – om dan begroet te word met dié woorde: “Ek weet, ek sukkel ook!”
Dit was ’n spesiale manier om mekaar vas te hou, sê sy.
Dit alles, saam met die ondersteuning van haar man, was vir haar ’n bron van groot dankbaarheid.
‘Dinge kan verander’
Vanuit Elzanne se eie worsteling in hierdie tyd het sy in haar teologiese nadenke begin fokus op lament in die Bybel, die klaagsange van gelowiges.
Sy vertel hoe bitter jammer dit is dat die NG Kerk vir lank bloot oppervlakkig met emosies omgegaan het. “Ek is as kind geleer Christene mag twee emosies hê – gelukkig of ernstig.”
Nou het die tyd aangebreek dat mense geleer moet word dat hulle ’n verskeidenheid emosies mag hê, sê sy.
In, byvoorbeeld, haar nadenke oor die matrikulante se verliese die afgelope jaar, dink sy aan die soort raad wat hulle dikwels kry: “Kom nou maar daaroor. Druk net deur.”
Elzanne skud haar kop. “Dis nie ’n lewe in oorvloed nie,” sê sy. Mense moet geleer word dat hulle maar mag en moet kla. Wel nie in ’n lugleegte nie, maar by God.
Ten spyte van (of is dit te midde van?) Elzanne se belangstelling in lament, het sy hierdie hoop: Dinge kán verander, ook in ons land. Sy noem sake op wat die afgelope jaar die nuus gehaal het: korrupsie, geslagsgeweld, rassisme. Die skokkende toestand van die onderwys- en die gesondheidstelsel.
So sleg soos wat dit alles is, reken sy wel dat dit goeie nuus is dat daar vir ’n slag hieroor gepraat word. Dat mense se gevoelens hieroor aan die lig kom.
“Ons beweeg tóg vorentoe,” sê sy. “Daar is wiele wat al knarsend begin draai. Mense wat verkeerd gedoen het, word uiteindelik aan die kaak gestel.”
Die koronaviruspandemie kan nie omgewens word nie, sê sy. “Ons gaan ons in ’n depressie indink. En daarom moet daar ’n groter fokus wees om die meeste van die oomblik te maak – al is die pandemie daardie oomblik.”
In dié oomblik het sy geleer dat sy oor meer kreatiwiteit beskik as wat sy gedink het sy het. Dat sy nie moedeloos hoef te word nie. En dat selfs sy, die introvert, kontak met mense nodig het.