Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

“Ons moet persepsies en vooroordele afbreek,” sê Andri Eloff. “Daar is veralgemenings en stereotipering wat verhoudings tussen mense en groepe beduiwel.” Foto: Verskaf

‘Ons almal is op die een of ander manier gestrem’


Marileen Steyn in gesprek met Andri Eloff.

 

Ek het Andri maar enkele weke voor ons gesprek ontmoet. Ons was saam by ’n kursus en hy het tydens die ysbreker homself as “kreatief” beskryf.

Toe ek later in sy kantoor sit, het ek weer aan die kreatiwiteit gedink. Sy kantoor getuig hiervan: die blou en rooi Persiese tapyt; die esel met die doek; die palet in die hoek; die abstrakte stuk op die kas.

Inklusiwiteit

Andri is predikant by die Dowe Familiekerk in Worcester, ’n interkerklike bediening van die NG Kerk. Die gemeente bestaan uit ’n diverse groep lidmate met uiteenlopende agtergronde en kulture, insluitend skoliere en studente van onderskeidelik De La Bat-skool en die Nasionale Instituut vir Dowes (NID). Studente kom ook uit Afrikalande soos Namibië, Botswana, Zimbabwe en Eswatini.

Is dit ’n gemeente of ’n bediening?

Andri reken dis wel ’n bediening. Al klink dit na ’n onnodige fyn onderskeid, het die opklaring hiervan enorme implikasies. As die Dowe Familiekerk inderdaad ’n bediening is, dan vereis dit die insluiting van mense met alternatiewe behoeftes en vaardighede by elke gemeente. Teenoor die huidige werklikheid waarin daar dikwels nie oor hierdie sake gepraat of selfs gedink word nie.

Op watter maniere kan gelowiges en gemeentes dowes en doofblinde persone insluit?

Hierdie soort vrae is nie noodwendig op almal se agenda nie. Andri gesels passievol hieroor. En wanneer hy asemskep, sug hy: “Dan praat die kerk oor inklusiwiteit …”

Andri verduidelik presies hoe geïsoleer die dowe gemeenskap is: “Om blind te wees, neem jou weg van dinge. Maar om doof te wees, neem jou weg van mense.”

Isolasie

Dis vanuit hierdie isolasie dat die gemeenskap daarna hunker om ná die grendeltyd weer bymekaar te kom. Die koronaviruspandemie het die dowe gemeenskap, wat reeds aan die rand van die samelewing beweeg, nog verder uitgestoot.

Die verpligte maskers het tot gevolg dat ’n dowe persoon nie kan liplees nie. Selfs die deurskynende maskers het die lidmate nie veel gehelp nie aangesien dit gou toewasem.

Die gevolg? Selfs verdere isolasie.

Andri vertel dat die dowe gemeenskap ’n “drukkie-gemeenskap” is. Dowe mense maak staat op liggaamlike kontak. Hulle kuier graag by mekaar. Ná ’n erediens of ’n ander gemeentebyeenkoms moet jy behoorlik “die ligte afskakel sodat hulle moet huis toe gaan”.

Om al hierdie redes het die gemeentelede die afgelope jaar werklik swaargekry. Daar was darem één voordeel: Aangesien die dowe gemeenskap met hul hande en lywe “sing”, kon hulle steeds sing, maskers en al.

Grense en versperrings

Uiteraard het die pandemie ’n buitengewone groot invloed op Andri se bediening gehad. Die skoliere en studente het vir die grootste gedeelte van 2020 nie teruggekeer nie. So ook het NID Volwassesorg, wat dowe persone met ander gestremdhede versorg, vir lang tye gesluit.

Dit was toe slegs die ouer mense, diegene wat in Worcester en omgewing woon en werk, wat steeds aan die gemeente se aktiwiteite deelgeneem het. Eredienste is deur aanlyn geleenthede vervang.

Die leierspan het nietemin die opnames as ’n lekker uitdaging beleef.

Andri vertel hoe hy op besoekwerk gefokus het. Daar was ook ’n kospakkie-projek wat gesinne ondersteun het wat hul inkomste verloor het.

Een positiewe gevolg van die grendeltyd was dat die aanlyn boodskappe deur WhatsApp, Facebook en YouTube tot ver anderkant Worcester opgeklink het.

In dié tyd het Andri diep nagedink oor die kerk as ’n inklusiewe genaderuimte. Die pandemie het mense nog meer bewus gemaak van die grense tussen hulle – kultuur, ras, ouderdom, geslag, klas, gestrem en niegestrem.

“Soveel van dié grense is versperrings; ons moet persepsies en vooroordele afbreek. Daar is veralgemenings en stereotipering wat verhoudings tussen mense en groepe beduiwel.”

Hy verwys na die persepsie van ’n dowe of doofstom persoon as “dom”. Die dowe gemeenskap wil uitroep: “Ek het ’n taal! Dit klink dalk net nie soos ander tale nie – maar ons is beslis nie dom nie!”

Onvoorwaardelik

Waar die breë kerk dikwels sukkel om haar eenheid sigbaar te maak, wys die bediening aan dowe persone reeds hierdie sigbare eenheid tussen mense met verskillende agtergronde. Hulle is ’n uiteenlopende groep wat mekaar onvoorwaardelik ontmoet – horendes en dowes, swart en bruin en wit, man en vrou.

“Ek wil nou daarmee besig wees,” sê Andri, “want dit is tog ons groter uitdaging.”

Die kerk, sê hy, kan die land help genees deur veilige ruimtes te skep waar mense mekaar nuut kan hoor en nuut kan sien.

Dít is Andri se roeping in die dowe gemeenskap: om mense te help om hulleself te ontdek. Om te besef dat hulle meer is as doof, meer as eie persepsies, meer as die persepsies van ander, meer as hul verlede, meer as die boksies waarin die samelewing hulle plaas.

“Ons almal is immers op die een of ander manier gestrem. Ons almal sukkel met iets.”

Dis in die lig hiervan dat Andri saam met die Association for Persons with Disabilities ’n inisiatief geloods het waardeur veilige ruimtes geskep is vir mense om grense af te breek. En dan nie bloot grense tussen doof en horend nie, maar ook dié tussen mense wat Xhosa, Engels en Afrikaans praat.

In hierdie ruimte betree die onderskeie groepe heilige grond – en hulle vind mekaar daar.

Andri gesels oor die verliese wat mense in 2020 beleef het. Nie net die verlies aan werk nie, maar ook die verlies aan vryheid. Die kerk, sê hy, moet ’n ruimte skep waar mense hierdie verliese kan verwoord.

’n Genadige ruimte

Op watter manier, vra hy, kan mense mekaar omarm sodat hulle mekaar se taal en mekaar se verhale verstaan? Dat hulle nie meer vir mekaar bang is nie? Hy verlang na ’n samelewing wat nie bloot dowe mense duld of “van ’n afstand af” help nie, maar hulle werklik omhels in ’n soort bediening wat deel is van elke gemeente. In ’n genadige ruimte, en as ’n vergestalting van eenheid in die kerk.

Uiteindelik is Andri dankbaar vir die geleentheid vir nuwe maniere van “wees” in die bediening. Hy praat ook oor homself as hy sê hy hoop dat mense nie sal toelaat dat omstandighede hulle oorrompel nie. Dat hulle sal voortgaan om te innoveer en te inspireer.

Hy het baie planne vir die bediening. Een ding weet ek vir seker: Waar Andri ook al gaan, sal hy werk om ander te omhels. Om hulle te help sien dat hulle meer is as wat hulle dink. Meer as wat ander mense dink hulle is.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.