Marileen Steyn in gesprek met René Potgieter
Ons sit rustig in die gemeente se gebedskamer – en ek hou daarvan. Dit pas boonop by die bietjie wat ek al van René beleef het.
Ek het haar om ’n baie spesifieke rede vir ’n onderhoud genader: Ek het vermoed dat sy as ’n ouer ’n bepaalde perspektief sal bring, én omdat ek gewonder het hoe die koronaviruspandemie in die konteks van ’n makrogemeente soos die NG kerk Stellenberg sou verloop. Dis ’n gemeente met ses leraars, verskeie eredienste op ’n Sondag, goeie fasiliteite, en met toegang tot uitstekende hulpbronne.
Om die omstandighede te omhels
René sê sy het die pandemie nie so negatief soos baie ander beleef nie. Sy begin dadelik vertel van haar tyd saam met haar gesin en die manier waarop die grendeltyd hulle ’n lang ruk bymekaargehou het. Sy het wel mense gemis, en persoonlike kontak. “Ek het maar so oor die straat met die bure gesels.”
Dié introvert vertel sy het veral huisbesoeke gemis. Die beste wat sy kon doen, was om die senior burgers met ’n verjaardag te bel en geluk te wens. Dit het wel iets van die leemte gevul.
Gereelde oefening en persoonlike stiltetyd het ’n groot rol gespeel in haar poging om 2020 te oorleef. Daar was ook ’n bepaalde lewensuitkyk, ’n fokus daarop om die omstandighede te omhels.
Die pandemie het ’n groot invloed op René se lewensritme gehad. Sy is gewoonlik besig, selfs gejaagd; eensklaps het sy nou kalmte en rustigheid beleef. Sy het tyd gehad om boeke te lees, om introspeksie te doen, om doodgewoon stilte te hê.
Nie dat die gemeente se funksionering agterweë gebly het nie. Die klomp kollegas het steeds Zoom-vergaderings gehou en René vertel van die onderlinge ondersteuning. Dis een van die wonderlike dinge van dié span, vertel sy: die wyse waarop hulle mekaar tegemoet kom.
Hulle het ook saam kospakkies uitgedeel. Die gemeente se hart het regtig oopgegaan vir mense in nood.
Die lidmate het ook ander gemeentes met ondersteuningsprojekte gehelp. “Hier is tonne kos deur hierdie gemeente,” vertel sy.
Bemoediging
Die pandemie het nie regtig René se denke oor God beïnvloed nie. Sy ken God steeds as ’n genadige en barmhartige Here in ’n gebroke wêreld. Sy glo dat Jesus sal terugkeer om volkome herstel te bring.
Dié geloofsbelydenis was ’n vaste oortuiging deur die uitdagende 2020. Sy sê sy het in haar preke op hoop en vertroue begin fokus, en sy het lidmate bemoedig en hulle gevra om nie moedeloos te word nie. Om te bly hoop.
“Hoop” is vir René om die lig aan die einde van die tonnel te sien. Dis om sin en betekenis te sien sodat jy kan opstaan en voortgaan. Ons word in tye soos dié daaraan herinner dat God die mens se hoop is, die Een wat langs sy mense loop.
René was diep bewus van hoe bevoorreg sy is. Sy woon in ’n groot, gemaklike huis waar dit nie so sleg is om “opgesluit” te wees nie. Hierteenoor was baie mense van hul geliefdes afgesny, sonder familiekontak.
En baie mense het hul werk verloor – ook in Durbanville, wat tradisioneel ’n meer gegoede buurt is. Dit alles het ’n diepe deernis in haar gebring.
René se belewenis van die koronaviruspandemie het om ondersteuning gesentreer: die ondersteuning wat sy van ander ontvang het, en die ondersteuning wat sy aan ander kon bied.
“Ondersteuning het tot gevolg gehad dat ek in elke faset en ruimte kon kop bo water hou, ook wat my gesin betref.”
Omdat sy meer tyd vir stilte by die Here gehad het, het sy beleef dat haar geloof gegroei het en versterk is. En dat haar geloofsbelewing daardeur vir ander ondersteuning gebied het.
Sy het gevind dat gemeentelede onderlinge kontak met en ondersteuning vir mekaar gemis het – veral die koffie en tee ná die erediens.
‘Daar moes ’n skuif in my plaasvind’
Ten spyte van haar gunstige belewenis het René wel emosionele uitdagings ervaar. Sy worstel steeds met wat dit beteken om haar tyd sinvol te gebruik, om dit nie te mors nie.
Soos soveel ander dominees is René gekonfronteer met die versoeking om haar identiteit aan besig wees te koppel. Wat dit veral moeilik maak, is die feit dat die gemeente waarin sy werk ’n “besige” gemeente is. Daar vind baie funksies plaas, en besig wees is in die gemeentekultuur ingebed.
“Daar moes ’n skuif in my plaasvind,” sê sy. “Ek moes leer: Jy is oukei, al is jy nie so besig nie.”
Dit is moontlik om nie so besig te wees dat jy jouself in die proses prysgee nie, en dat jy steeds die werk gedoen kry.
René is verheug om te sien dat lidmate se verwagting van predikante verander het. Daar het ’n besef posgevat dat ’n dominee nie altyd oral hoef te wees nie. Dat ’n dominee ook deel van ’n gesin is.
Sy glimlag. “Ek sal weer ’n grendeltyd saam met my gesin deurbring.”