Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Vriende, die diverse, komplekse, uitdagende en transformerende konteks van die universiteit, is uiteindelik ’n veilige ruimte waar studente hulleself voorberei vir presies dieselfde diversiteit, kompleksiteit, uitdagings en transformasie wat hy uiteindelik in sy bediening in die oë moet kyk in die wêreld daarbuite." - Dr Juanita Meyer

Teologiese opleiding: Universiteit bied tog veilige ruimte, hoor sinode

Akademici met uiteenlopende perspektiewe was Woensdag (9 Maart) onder die sprekers wat aan ’n sinodegesprek in Bloemfontein oor teologiese opleiding en bedieningsbegeleiding deelgeneem het.

Johan Janse van Rensburg, ’n emeritusprofessor wat dekades lank in die bediening was, het die sinode met ’n wegspring-skyfie teen die grootskerm gewaarsku dat daar “’n probleem” met teologiese opleiding is. “Dit het te lank gebeur dat voorgegee is dat alles in orde is, dat daar volkome beheer is aan alles wat gebeur.”

Lees ook: ‘Die uitdaging is om vars te luister’ – Jan Lubbe

“Ek is ’n voorstander van die apologetiek … dit is ’n wetenskaplike dissipline binne die sistematiese teologie, wat teologiese geloofsoortuigings wat op die Bybel gefundeer is, verdedig (en) begrond,” het Janse van Rensburg verduidelik. “Maar nou het ons ’n probleem dat die teologiese opleiding juis nie apologeties te werk wil gaan in die sin dat die studente opgelei word om ander standpunte af te wys nie,” het hy gesê. “Word die belydenis van die kerk werklik verdedig?” wou die oud-prof retories by die sowat 300 afgevaardigdes in ’n groot skuur op die Skougrond hoor.

Dr Juanita Meyer, ’n dosent by die Universiteit van die Vrystaat se teologiese fakulteit, het weer klem gelê op die kerk as skakel tussen opleiding en breër konteks. “Vriende, die diverse, komplekse, uitdagende en transformerende konteks van die universiteit, is uiteindelik ’n veilige ruimte waar studente hulleself voorberei vir presies dieselfde diversiteit, kompleksiteit, uitdagings en transformasie wat hy uiteindelik in sy bediening in die oë moet kyk in die wêreld daarbuite. Daar is geen immuniseringsruimte vir verandering van ons omgewing nie, en daar moet ook nie wees nie,” het Meyer gesê.

Prof Johan Janse van Rensburg aan die woord.

Lees ook: Só skryf ek ‘n brief aan Kerkbode

Ook die dekaan van die fakulteit waar Meyer doseer het ’n groeteboodskap aan afgevaardigdes gebring. “Met die veranderings oor die jare in ons land, kon die (teologiese) fakulteit (aan die Universiteit van die Vrystaat) nie onveranderd bly nie, maar moes ons transformeer in baie opsigte,” het prof Rantoa Letšosa gesê.

Die dekaan het die sinode daaraan herinner dat die universiteit NG studente tegemoet gekom het rondom onderrigtaalkwessies en ’n prentjie geskets van ’n algemene toename in studentetal by dié multidenominasionele fakulteit, met sy 17 dosente en (vanjaar) altesaam 219 studente. Daar was nog studente wat weggewys moes word, het Letšosa vertel.

Prof Rantoa Letšosa aan die woord.

In 2021 het die fakulteit ’n strategiese plan gefinaliseer, aldus Letšosa. Die nuwe visie is om teologie te doen “deur ’n verskeidenheid kontekstuele akademiese programme aan te bied en die doen van innoverende navorsing …” Hy het gesê die fakulteit wil in diens van haar vennote staan. “Kom ons vat saam hande in ’n moeilike tyd. Kom ons luister saam na die Woord van die drie-enige God en poog om verantwoordelik te leef as nuwe mense van Christus,” het hy ten slotte gesê.

  • Die videogreep hieronder deur NG Kerk Vrystaat was deel van die voorlegging wat tydens die bespreking gespeel is.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Teologiese opleiding: Universiteit bied tog veilige ruimte, hoor sinode”

  1. Muller Oosthuizen

    Gereformeerde teologie en bediening is tog juis om gereed te wees om die hedendaagse wêreld en kwessies in die gesig te staar! Prof JvRensburg se idille van ‘n wêreldvreemde kerk in tradisionele Afrikaner gewaad het baie vinnig uitgesterf. Ek beny vandag se teologiese studente om soveel blootstelling en begronde toerusting te ontvang.

Comments are closed.

Scroll to Top