‘Wees Jesus se beursie in Oekraïne’

Al meer NG gemeentes asook ’n streeksinode samel fondse vir kerkleiers en hulporganisasies in Oekraïne in. Só probeer hulle om die miljoene honger en hawelose vlugtelinge met skuilplek en kospakkies te help.

Vanaf die klein kusdorpie Reni naby die suidwestelike grens van Oekraïne met Roemenië en Moldawië gesels die sendeling Michele Potgieter met Kerkbode. Sy noem dat NG gemeentes van regoor Suid-Afrka geld insamel om haar te ondersteun met die hulp en kospakkies wat sy deur haar en haar man Ockert se gemeente aan hulpbehoewende inwoners en vlugtelinge gee. “Ons waardeer dit oneindig baie,” whatsapp sy in reaksie op Kerkbode se navraag.

Michele het haar man in Oktober laasjaar aan Covid verloor terwyl hulle Suid-Afrika besoek het. Maar sy het sterk gevoel dat sy en hul kinders moet terugkeer na Reni. Selfs al het dit beteken dat hulle moontlik ’n oorlogsituasie binneloop. “Ek kon nie bloot vanuit Suid-Afrika sê, ‘Mooi julle! Hou aan en wees sterk!’, en dan sit ek veilig in Suid-Afrika nie,” gesels die ma van vyf in ’n stemboodskap aan Kerkbode

Sy vertel dat haar hart in Reni is. By die mense waar sy, Ockert en hul gesin reeds 26 jaar lank woon en werk in die gemeente. Sover is daar nie aanvalle op hul dorp nie, maar hulle sluit nie die moontlikheid uit nie. 

’n Oekraïense vrou in Renie vou dankbaar haar hande oor dié van ’n vrou wat vir haar ’n kospakkie bring. Basiese kosvoorrade soos suiker en meel is al so skaars dit word gerantsoeneer. Foto: Verskaf

Sy vertel dat die Here hulle gemeente gebruik om die hele gemeenskap van Reni en ook die vlugtelinge te bedien wat na die dorp stroom op pad na die grenspos. Elke dag maak hulle warm sop en kos vir vlugtelinge en enigeen wat nie kos het nie. 

Dan luister Michele na hulle stories, hoe hulle onder moeilike omstandighede moes vlug en sy bid dan saam met hulle. Sy en haar helpers deel ook kospakkies uit van kos wat deur vriende in Roemenië aangekoop word met die finansiële bydraes wat Michele ontvang. Die winkelrakke in Reni is bykans leeg. 

Hulle neem ook warm kos en koffie vir die Oekraïense soldate wat deur padblokkades om veiligheidshalwe die dorp beman. Kos en koffie word ook na die grenspos geneem waar mense soms dae lank in hul motors in die vriesende winterkoue wag om na Roemenië of Moldawië te vlug. Dit is meestal ma’s met kinders, want Oekraïense mans mag nie die land verlaat nie.

Michele sien die afgelope paar weke al hoe meer mense na hul dorp toe kom om uit die land uit te vlug. “Ons is amper soos ’n hawe, ’n oase wat die Here kom maak het waar ons die mense kan bedien met wat hulle nodig het … Dankie dat julle bid en dankie dat julle (ons) nie vergeet nie,” sluit sy haar stemnota af.

  • Michele Potgieter kan gekontak word op WhatsApp: +380 93 812 6060 en e-pos: nuwedag@gmail.com

Oos-Kaapse gemeentes genooi om ‘Jesus se beursie in Oekraïne’ te wees

In die sinodale nuusbrief Grens.Pos (25 Maart 2022) vra ds Arrie Preller van die Ring van Sondagsrivier vir gemeentes in die Oos-Kaapse streeksinode om elk R1 000 by te dra. Dit gaan aan die Help-Nood-in-Oekraïne-span wat hy op die been gebring het. Op dié manier hoop hy om R100 000 of selfs meer in te samel vir Oekraïense kerkleiers wat direk by noodleniging betrokke is.

Preller is in gereelde kontak met die Suid-Afrikaanse sendeling Keith Daniel wat al jare saam met sy gesin in Oekraïne woon. Daniel is volgens Preller ’n “ware ‘connecter’ met kerkleiers daar, en een van die sleutelpersone in die beplande inisiatief. Dit is deur Daniel dat Preller en sy ring besef het dié  reuse-humanitêre krisis in Oekraïne vra meer as gebed. 

Pastoor Victor Polunin is een van die kerkleiers wat die Oos-Kaapse inisiatief wil help. Hy huisves dikwels vlugtelinge in Kiëf en het hierdie foto aangestuur van kinders wat kosskenkings vashou. Foto: Verskaf

Onder die opskrif, “Finansiële hulp: Jy kan Jesus se ‘beursie’ in Oekraïne help wees” het ds Danie Mouton, skriba van die streeksinode, op 22 Maart in ’n omsendbrief vir gemeentes, kerkrade en leraars genooi om hierdie inisiatief te ondersteun.

“Ons is egter seker dat daar heelwat gemeentes is wat groter bydraes wil en kan skenk. Dit sal wonderlik wees en ’n groot verskil in die lewe van Christene in Oekraïne maak,” skryf Mouton. Gemeentes kan hulle bydraes inbetaal by: NG Kerk in Oos-Kaapland, ABSA 290 581 192,  Verwysing: oekra + [gemeentenaam] of [donateur se van]. Die gelde word dan by ’n geregistreerde Oekraïnse nie-regeringsorganisasie SHELTER+ inbetaal waar die kerkleiers toegang tot die fondse kan kry. Die inisiatief onderneem om gereelde terugvoer te gee oor hoe die fondse versprei word.

Word 'n vriend van Kerkbode