Gedig: Hierdie pad is die tweesnydende swaard

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

’n Leser stuur hierdie gedig aan Kerkbode na aanleiding van NG Kerk Namibië se streeksinode wat in Maart vanjaar in Windhoek plaasgevind het. Die gedig word op versoek anoniem gepubliseer.

Nog ʼn keer besluit julle om die haas se pad te kies.
Maar hierdie keer met geen vrome standpunt nie.
Nee, hierdie keer is julle godsmanne wat ons kerk teen ons beskerm.

Steeds sê julle so …
Voorheen “’n onverstaanbare werklikheid”
Vandag “dwaalleer en helbestemdes”
En so gaan julle voort.

Julle glibberige woorde is wel hierdie rondte skurf.
ja, nou is julle ernstig. Direk en skertsend.
Julle sê nou wat julle dink.
Dis ’n sonde!
Dis ’n gruwel!
Dwaalleer!! Skreeu julle oor die markplein.

Kwaad en opgewerk tog terselfdertyd dwepend in gebed
Bring julle nou die antwoorde.

Die omarmende liefde het nou min geraak.
Want nou heers die skrif alleen.
Die skrif alleen sal bepaal hoe die pad van God lyk
’n pad waarin opleiding geskied onder toesig
waarin denke gevorm word binne perke.

Net soos julle geleer is,
Met ’n geweer in die een hand en ’n Bybel in die ander
betree julle die slagveld van Christus se kerk.
Sonder skaamte en sonder voorbehoud
vind julle, julle eer in die beskerming van die skrif.

Met die kwaad en die Skrif van ’n vorige eeu
poog julle subtiel tog blatant om te besluit.
Besluit wat ek moet dink, moet voel en moet sê
sodat ek ook soos jy van die wêreld maar nie in die wêreld leef nie

Kwaad en opgewerk tog terselfdertyd dwepend in gebed
Bring júlle die plan vir God se mense.

’n Plan wat ultimatums stel.
Een met woorde soos ‘as julle nie … dan …’
’n Plan vanuit die skrif alleen, natuurlik.
Want in die begin was die woord … en die woord was by God.

Hierdie plan is nie deur die bloed beseël nie.
Of altans nie belangrike bloed nie.
Nie die ontkennende trane van kinders
of die spontanes van grootouers nie

Hierdie plan hou nie rekenskap met die trek-tou in die motorhuis
of die minora blade in die bad nie.
Hierdie plan gee nie om oor die denkers, kunstenaars en dromers
of die kritiese vrae oor jul werkswyses nie.

Kwaad en opgewerk tog terselfdertyd dwepend in gebed
Voer julle dit klinies uit.

Hierdie pad is vir julle ’n reiniging.
Een waardeur julle skoner ander kant móét uitkom.
Sonder die vlekke van harde werk, genade bo stomp stemme en liefde.
Sonder sagte sinsnedes en selfopofferende snert.

Hierdie pad is die tweesnydende swaard.
Die een wat families stukkend skeur
en sonder voorbehoud mense ter ere opsweep.
Die pad wat sê “ek het gekom om verdeeldheid te bring”
Die pad van eer vir jou en skaamte vir my.

Gemeente vir gemeente gaan julle om.
Dwalend tussen deur vrees gevulde oë
bring julle die goeie skeiding.
Skeiding tussen mens en God.

En dan …

voor jy jouself kon kry is jou hel vol.
Vol van almal wat jy nooit ontmoet het nie
Almal wat dit ooit gedurf het
om verantwoordelikheid te neem vir hul eie geloof
Almal wat deur jou plan, pad en uitvoering kon sien.

Dit is dan die nalatenskap.
’n lyn getrek op ’n koue sement vloer
en teen die rand van ’n gladde bad.
’n Lyn wat oor 10 of 20 jaar weer oorgesteek sal word
soos al die vorige skrif-alleen-lyne ingegraveer op jou verstaan.

Maar soos die geskiedenis ons leer
is die pyn en verlies nie jou probleem nie
maar die van jou kinders en kleinkinders
terwyl jy salig onbewus na stof terugkeer.

Laat daar geen illusie wees nie.
Dit is waarmee jy ons sal los
Verskeur, verdeel en verlate.
’n kerk wat nie langer in hierdie wêreld leef nie.

En weet jy wat is die mooiste van dit alles?
Die genade van God en God alleen, sal ook vir jou genoeg wees.
Want God weet jy het eintlik nie ’n idee wat jy doen nie.

Word 'n vriend van Kerkbode