Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sonder om die pyn van swaarkrytye weg te praat, deel dr Johann Voges wat hom in sulke tye hoop gee. As iemand wat self ouers, ’n eggenoot en ’n kind verloor het en ook in sy rol as predikant langs vele oop grafte moes staan, kan hy skryf vanuit die lesse wat die lewe hom geleer het.

Bundel verken Bybel se sleutels om misterie van lyding te ontsluit

Anderkant twyfel – kreukelgedagtes oor lewe en dood deur Johann Voges

 

Uitgewer: Barnabas-Uitgewers, 2022

 

Resensent: Heléne Meissenheimer

 

“Nie nog ’n domineeboekie oor geloofsekerheid nie,” moet ek bieg was my eerste sugreaksie toe Anderkant twyfel in my inboks beland. Dr Johann Voges prikkel my belangstelling egter al net na die titelbladsy met sy deernisvolle eerlike woordspel in die opdra van hierdie bundel gedigte en preke aan sy oorlede lewensmaat Martie.

 

Sommamanet ’n klomp kreukelgedagtes uit my alleenagterbly hart wat huil oor die heengaan van my lewensmaat en geesgenoot na die ewigheid hier anderkant.

 

Dit is in hierdie selfde gemaklike gesprekstrant waarop hierdie afgetrede predikant in sy nuwe bundel met jou as leser gesels oor diep temas soos die dood en hoe moeilik ons regtig daaroor praat, oor die “donkerkant” van geloof, oor wat ek maak met my en ander se “andersomgeit”, oor die tye wanneer die lewe onderstebo lyk en ek nie antwoorde kry op al die hoekoms nie.

 

Sonder om die pyn van swaarkrytye weg te praat, deel Voges wat hom in sulke tye hoop gee. As iemand wat self ouers, ’n eggenoot en ’n kind verloor het en ook in sy rol as predikant langs vele oop grafte moes staan, kan hy skryf vanuit die lesse wat die lewe hom geleer het.

 

Voges gee nooit voor dat hy al die antwoorde op die vrae van die lewe het nie. Hy is eerlik oor sy eie worstel met “daai eb-en-vloed vrae waarin my logika alewig verspoel”, maar nooi jou dan om saam met hom die sleutels te verken wat die Bybel bied om die misterie van lyding te ontsluit.

 

Soos prof Cas Wepener in sy voorwoord opmerk, hierdie “is ’n eerlike teks: eerlik oor pyn; eerlik oor vrees; eerlik oor twyfel; eerlik oor lewe en menswees te midde van die dood. Juis dit maak van hierdie boek ’n troosteks”. Wepener beveel die boek dan ook aan vir elkeen wat deur ’n moeilike tyd gaan asook vir mense wat “rondom die dood soms ’n woord moet spreek of iemand wat ander moet bystaan, soos predikante en pastorale werkers”.

 

Beskikbaar teen R250 by Barnabas-Uitgewers, ’n afdeling van Christelike Lektuurfonds (CLF).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top