Oor God se ‘onvoorwaardelike’ liefde

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ambro Hayward van Robertson skryf:

Na aanleiding van ’n onlangse brief uit Oos-Londen onder die opskrif “Die Here se liefde is eenvoudig, onvoorwaardelik”, graag die volgende kommentaar. Watter boodskap word deur hierdie uitspraak (verklaring) uitgestuur?

Vir baie lank reeds wag ek vir kommentaar deur van ons deurlugtige teoloë op hierdie algemene aanname. Wat sê die Woord?

Ek het gaan lig opsteek by JI Packer, in lewe hoogleraar in teologie by Regent College in Vancouver en RC Sproul, internasionaal-erkende gereformeerde apologeet, ook van Amerika. Laasgenoemde is in 2017 oorlede.

Lees 1 Johannes 4:8 en 16.

Volgens Packer lei die blote lees van bogenoemde twee verse waarskynlik na die mees misverstaande begrippe in die Bybel. Valse en misleidende aannames rondom hierdie begrippe mag ontstaan wat ernstige twyfel kon skep.

LEES OOK: Term “belydende gemeente” nie alleenreg vir dolerendes

Volgens Sproul word daar teologies tussen drie begrippe van die Goddelike liefde onderskei.

  1. God se “welwillende” liefde (benevolence). Hierdie liefde geld vir alle mense.
  2. God se “weldadigheidsliefde” (beneficence). Dit dui op God se goedheid wat Hy op almal en alles in sy skepping laat neerkom. God laat die son op almal skyn, die regverdige en die onregverdige, die reën wat op elkeen val, ongeag. Matteus 5:45. Hierdeur word die universele liefde van God gemanifesteer.
  3. God se liefde van “welgevalle” (complacency). Hierdie liefde word egter nie in die Woord gebruik soos in ons dag nie. In ons kultuur dui hierdie liefde op behaaglikheid, selfbevrediging, gemaklikheid, op my louere rus, ensovoorts.

Waar die Woord hierdie liefde van welgevalle aandui, is dit die spesiale liefde van God vir sy Seun, Jesus Christus, en almal wat Hom aangeneem het en deel is van sy familie (Matt 3:16-17). As iemand wil aanspraak maak op God se liefde is dít die voorwaarde – om jou sondes te bely en in Hom te glo.

Waar gepraat word van hierdie soort liefde en dit beskou word as ’n universele liefde, dan is dit godslastering. Dit is nie die liefde waarmee God die hele wêreld liefhet nie. Die Woord sê duidelik dat God op vele wyses in vyandskap met die wêreld verkeer. As iemand sou beweer dat God almal “onvoorwaardelik” liefhet – dink weer! Waarom wys Hy ons op die kruis, waarom vereis Hy dat ons in Christus sal glo? As God ALMAL onvoorwaardelik liefhet, impliseer dit dan nie dat elkeen maar kan doen wat hy/sy wil nie? Waar pas God se oordeel oor die sonde dan in?

Dit is gewoon nie volgens die Woord nie.

Word 'n vriend van Kerkbode