Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is verby en aansoeke word nie meer ingewag nie.
VAKATURE – STUDENTELERAAR
Sluitingsdatum vir aansoeke: Vrydag 15 Julie 2022.
Gemeenteprofiel
Universiteitsoord is ’n gemeente wat bely dat God mense liefhet en dat die Here alle mense in liefde en genade insluit en gebruik in sy koninkryk, daarom is Universiteitsoord ’n oop, inklusiewe gemeente waar almal welkom is, voel hulle behoort en kan terselfdertyd beweeg om ’n verskil in die wêreld te maak.
Leraarsprofiel
Ons ideale kandidaat is ’n gelegitimeerde van die NG Kerk wat hom/haar vereenselwig met en kan uitleef in ’n gereformeerde spiritualiteit. Hy/sy het gevorderde toepaslike teologiese kennis asook kennis van studentekultuur en -psige en sal daarom effektief met studente kan kommunikeer en verhoudings kan bou en onderhou. Ons is op soek na ’n gebalanseerde en geïntegreerde persoon met kreatiewe en vernuwende denke (met respek vir tradisies). Die ideale kandidaat het ’n positiewe ego-sterkte en goeie oordeelsvermoë. Goedontwikkelde sosiale vermoë, interpersoonlike vaardighede, effektiewe prediking vir die teikengroep en die vermoë om effektief in spanverband te kan funksioneer, is vir ons belangrik.
Posprofiel
Daar sal van die leraar verwag word om verantwoordelikheid te aanvaar vir alle fasette van gemeentewerk soos vervat in Artikel 9 van die Kerkorde. Hierdie pos se fokus is egter studentebediening en dus sal daar van hom/haar verwag word om ook die volgende funksies te verrig:
- Effektiewe uitbou van die studentebediening in die gemeente.
- Pastorale versorging van studentelidmate.
- Toerusting van studenteleiers met die oog op lewensvaardighede en dissipelskap.
- Reël en hantering van studentekampe en -uitreike.
- Bou van verhoudings met die ouers van studente.
- Bywoon van studente-aktiwiteite, sport- en kultuurgeleenthede ten einde verhoudings met studente op ’n informele vlak te bou en te versterk.
- Deurlopende verhoudingsbou met universiteitstrukture.
Vergoeding
Sinodale skaal sal as riglyn vir vergoeding dien. Vir behuising bied die gemeente ’n pastorie of behuisingsubsidie aan.
Universiteitsoord sien met verwagting uit na aansoeke van lewenslustige en entoesiastiese kandidate wat met studente kan identifiseer en betrokke wil wees by hulle aktiwiteite. As jy dus voel jy het ’n passie vir studente nooi ons jou uit om aansoek te doen vir hierdie pos.
Aansoeke
Slegs kandidate wat die amptelike aansoekvorm voltooi het, sal in oorweging kom. Aansoekvorms is per e-pos by kantoor@universiteitsoord.co.za beskikbaar.
Die sluitingsdatum vir indiening van voltooide aansoekvorms is Vrydag 15 Julie 2022. Kontak asb die kerkkantoor by 012 362 0664 of ds Fritz Snyman 082 332 5781 met enige navrae. Die kerkraad behou die reg voor om nie ’n aanstelling te maak nie.
