Die Nuwe Nuwe Testament – ’n Getroue vertaling in vars Afrikaans deur Stephan Joubert en Jan van der Watt
Uitgewer: Carpe Diem Media, 2022
Resensent: Rethie van Niekerk
Is daar regtig nog ’n Afrikaanse vertaling van die Bybel nodig? Dit is sekerlik die eerste vraag wat almal vra, maar dis ook my eerste vraag wanneer ek met Joubert en Van der Watt gesels. “Vir seker is daar altyd te veel vertalings en vir seker is daar altyd te min,” antwoord Joubert.
“As ’n mens die gesprek ’n tree verder vat: Hoekom nog ’n nuwe restaurant, winkelsentrum, huis bou, gemeente begin? Ek dink in daardie opsig aan die vertaling. Vanuit my en Jan se hoek is dit dalk ’n fraksie anders. Dit is ons derde volwaardige vertaling. So ons het nie probeer om met ander vertalings in gesprek te tree of te kompeteer nie. In die vertaalstrategieë waarmee ons vertaal het – Die Boodskap en Bybel@Kinders – was dit vir ons ’n logiese ontwikkeling na ’n vertaling wat ’n bietjie meer die Grieks volg, maar wat eintlik op eietydse manier ook die Nuwe Testament Afrikaans laat praat.”
“Ons het twee uitgangspunte gehad met die vertaling,” brei Van der Watt uit. “Die een is: Die Grieks moet praat. Dit is ononderhandelbaar, want dit is hoe die Woord van God geformuleer is – in Grieks. En ons moet met die kundigheid wat ons het, daardie Grieks laat praat. Hoe moet ons dit laat praat? Ons moet dit op so ’n manier laat praat, dat mense wat in ’n gesin sit of in ’n sitkamer sit of met hulle Bybelstudie besig is, dit in hulle taal kan hoor.” Hulle het gevra hoe ’n Afrikaanssprekende die Grieks die beste sal hoor. “Dan het ons dit so vertaal. Hierdie poging om die Grieks en mooi vars Afrikaans by mekaar uit te bring – dit was ons uitdaging. Natuurlik, Grieks en Afrikaans oorvleuel nie heeltemal nie. So hier en daar moes ’n mens jou Afrikaanse vertaling so maak dat hy ’n bietjie aangepas is, maar in lyn met wat die Griekse verwagting skep.”
Joubert vertel van die teks wat hy die oggend tydens stiltetyd saam met sy vrou gelees het en verduidelik hoe die vertaling van woorde soms ook die vertaling van konsepte impliseer. Met die gemak en bekendheid van mense wat al baie jare saam werk, gesels hulle oor hulle vertaalproses, die keuses wat ’n vertaler maak, grondteks en tekskritiek. Griekse woorde en taalbegrippe soos teenswoordige tyd word gemaklik, byna alledaags, tussen die twee heen en weer gegooi. Die belang van konsekwentheid word ’n paar keer onderstreep.
My persoonlike teologiese belangstelling lei tot ’n lang verduideliking van die vertaling van kephalē in Efesiërs 5:23. Sommer so uit die vuis verwys Joubert na navorsing oor 1 400 of 1 800 plekke waar hierdie woord vir “kop” voor en na die Nuwe Testament gebruik word, oor die emotiewe gewig van “hoof” in Afrikaans en die 1953-vertaling se “skrikwekkende grammatikale fout” om ’n opskrif na vers 21 in te druk. Van der Watt bring weer die teologiese fokus van onder andere Kolossense by en beklemtoon dat dit gaan oor die “in Christus”. “As ’n mens die Bybelboek ken, lei dit jou soms in jou vertaling tot ’n manier van vertaal wat die strekking van die boek – soos in dié geval Jesus wat ons verteenwoordig – wat daai strekking eintlik verwoord”, bring hy ons terug na die proses van vertaling.
Wat helder uit die gesprek kristalliseer, is dat hierdie twee teoloë stewig onderleg is – nie net in die Grieks nie, maar ook in die verskeie Bybelboeke wat hulle vertaal het. Dit is juis hierdie lewenslange studie en gevolglike kundigheid oor byvoorbeeld die Johannese literatuur of Pauliniese geskrifte, wat rigtinggewend was in vertaalkeuses en – na my mening – ekstra gravitas verleen aan hierdie vertaling.
“’n Vertaling, maak nie saak wat nie, het altyd ’n voorlopige karakter,” sê Joubert op ’n stadium. “’n Mens sou dit seker altyd na die tyd weer kon besoek. Dit is ’n uitdagende werk en ’n mens sou altyd ’n korrektief kon hê. … Dit bly regtig moeilik. My hart bloei altyd vir vertalers.”
Persoonlik is ek dankbaar vir die kennis en harde werk wat dié twee in nóg ’n Afrikaanse vertaling van die Nuwe Testament gesit het. Die Nuwe Nuwe Testament lees vars en gemaklik, byna geselsend. Dit is beslis ’n plek op jou bedkassie – of lessenaar – werd.
Die Nuwe Nuwe Testament is beskikbaar by Voelgoed. Die vertalers het ook vir elke Bybelboek ’n 5 minute agtergrondvideo gemaak, wat jy via ’n skakel voor in die Bybel kan kyk.
- Ds Rethie van Niekerk is predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.

As hierdie vertaling voldoende voetnotas het om die oorspronklike betekenis sowel as die konteks van woorde en begrippe te verhelder en te verduidelik, kan dit ‘n belangrike bydrae lewer tot ‘n moderner w^reldbeeld en godsbeeld en uiteindelik ook na die radikale vernuwing van die Christelike meesterverhaal. Die bestaande dogma is tans meer op Plato se godsbeeld gerig as op die Hebreeuse agtergrobd waaruit Jesus en Paulus en die ander NT skrywers stam.