Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Ons weet daar is baie gemeentes in die land wat baie meer vir ’n basaar maak as die bedrag wat ons gemaak het, maar vir ons as ’n gemeente in Vereeniging waar die gemeentes regtig baie swaar trek met armoede was dit ’n wonderlike dag van baie lag, pret en samekoms," skryf Martie Olivier van NG Kerk Drie Riviere-Oos. In die foto ontgeld ds Chris Olivier die "straf" vir 'n weddenskap wat hy verloor het. Foto veskaf

Roomkoek in die gesig is loon vir suksesvolle basaar

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Martie Olivier van NG Kerk Drie Riviere-Oos skryf: Ek stuur vanoggend vir jou ’n klein beriggie net om te wys daar is nog baie humor en lag in ons gemeente. Ons lees so gereeld net van al die swaarkry en seerkry van gemeentes dat ek gedink het dit sal lekker wees om ook iets humoristies te lees.

Gedurende Covid het baie van ons gemeentes finansieel baie swaar getrek en ek dink die swaarste vir ons as gemeente was die feit dat ons nie ons lidmate kon sien en saam met hulle kon bymekaarkom nie. Die elektroniese media is baie goed, maar dit maak nie op vir die saamwees nie.

Toe die inperking opgehef is het ons besluit dit is tyd vir ’n heerlike basaar. Ons basaar het op 30 Julie plaasgevind. Ons leraar (ds Chris Olivier) en ons jeugwerker (Jaco Pienaar) het toe ’n weddenskap met ons lidmate aangegaan (iets wat jy nie by ons gemeente doen nie).

Hulle weddenskap aan die gemeente was dat as die gemeente ’n wins van R160 000 maak met die basaar sal hulle ’n hart op hulle agterkop kleur (ons basaartema was: Hartklop Basaar) en twee lidmate wat die hoogste bod gee kan ’n roomkoek in hulle gesig plak.

Die gemeente het toe ’n wins van R237 000,00 gemaak, so die twee het toe hulle weddenskap ver verloor.

Ons weet daar is baie gemeentes in die land wat baie meer vir ’n basaar maak as die bedrag wat ons gemaak het, maar vir ons as ’n gemeente in Vereeniging waar die gemeentes regtig baie swaar trek met armoede was dit ’n wonderlike dag van baie lag, pret en samekoms.

Dit gaan nie vir ons oor die hoeveelheid geld wat ons ingesamel het nie, maar oor die saamwees, die baie lag en die hope pret wat ons saam met ons lidmate beleef asook hulle betrokkenheid by ons as gemeente.

Ons is ook baie dankbaar vir elke persoon wat ons basaar ondersteun het, want as dit nie vir die mense is wat ons ondersteun nie sal ons dit nie kan doen nie.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top